Leesvordering:

Uit en Tuis met Craig Beckley

Feb 14, 2018

Uit en Tuis is die rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Craig Beckley, wat tans in Finland woon.

Vertel ons meer van jouself en waar jy woon?  

My naam is Craig Beckley en ek is afkomstig van Kaapstad, Suid-Afrika. Ek woon tans in Vantaa, Finland. Ek woon al die afgelope nege jaar in Finland. Ek het twee kinders; my dogter Amanda is 17 jaar oud en my seun Cameron is 11 jaar oud. Ek is getroud met ’n Suid-Afrikaanse vrou genaamd Andriesa. Ek het drie jaar studeer om ’n sjef in Finland te word. Terwyl ek studeer het om ’n sjef te word, het ek wors in my vrye tyd begin maak en agtergekom dat ek dit graag vir ’n lewe sal wil doen. Ek het my eie besigheid begin wat die maak van wors, biltong en droëwors behels. Ek is goed ondersteun deur oud-Suid-Afrikaners wat maar net al te bly was om boerewors, biltong en droëwors in Finland te koop. Ek is die eerste persoon wat ’n besigheid in Finland oopgemaak het wat in dié Suid-Afrikaanse produkte spesialiseer. Die woord het vinnig versprei rakende my produkte. Ek bestuur my besigheid al vir die afgelope vyf jaar en het meer as 2 000 gereelde klante. Finne hou vreeslik baie van biltong, en hierdie produk is ook my topverkoper in Finland. Die meeste van my klante is Fins. Dit is wonderlik om Suid-Afrika se kos en kultuur in Finland bloot te stel.

Wat doen jy daar?

Ek bestuur my eie besigheid (Beckley’s Premium Meats) en produseer 17 verskillende tipe wors van regoor die wêreld. Ek maak ook biltong, droëwors en appelkoosblatjang. My webtuiste is www.beckleys.eu.

Was dit moeilik om in ’n ander land aan te pas?  

Aan die begin was dit baie moeilik om aan te pas, want nie net is dit ’n ander kultuur nie, maar ook ’n ander taal. Fins is die derde moeilikste taal ter wêreld om aan te leer. Volgens my het dit ons naastenby drie jaar geneem om onsself te vestig. Nou voel Finland soos ons huis. Ek mis Suid-Afrika egter baie. Iets wat dit makliker vir ons maak is die feit dat ons een keer per jaar vir ’n maand lank na Suid-Afrika terugkeer. Die klimaat is ook baie anders as in Suid-Afrika; winter is lank en koud met slegs ’n paar uur se daglig. Tydens somer sak die son glad nie vir ’n paar maande nie so daar is ’n groot verskil tussen winter en somer in Finland. Lente is pragtig en so ook herfs. Daar is ’n baie groot kontras tussen al vier seisoene.

Wat is die beste en slegste avonture wat jy in Finland beleef het?

Die beste avontuur wat ek al in Finland beleef het behels om die klein eilande en mere te verken. Dit is merkwaardig hoeveel klein eilande daar is, om nie eers te praat van die nagenoeg 100 000 mere nie, ongelooflik! Lapland is ook ’n groot avontuur om te ervaar. Die slegste avontuur vir my was heel aan die begin toe ek alleen gevoel het en niemand geken het nie en gevolglik geïsoleerd gevoel het. Maar ek het dit oorkom en nogal vinnig vriende gemaak.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?    

 Ek mis Suid-Afrika se mense die meeste; die land het die vriendelikste mense ter wêreld. Ek mis ook die sonskyn, aangesien ons nie regtig sonskyn hier het nie weens die lang winters.

Hoe het immigrasie jou geraak?

Immigrasie het my op ’n baie positiewe manier geraak. Dit het my slimmer gemaak met betrekking tot hoe ek die wêreld beskou en daaglikse kwessies nader.

Wat geniet jy die meeste van Finland?        

Ek geniet die vryheid in Finland. Jy kan uitgaan en veilig voel. Dit is een van die veiligste lande ter wêreld en dít laat jou met innerlike gemoedsrus. Dit het my omtrent ’n jaar geneem nadat ek Suid-Afrika verlaat het om só te voel.

Sal jy ooit na Suid-Afrika terugkeer?

Ek is nie seker of ek ooit permanent na Suid-Afrika sal terugkeer nie. Ek dink ek sal ses maande in Suid-Afrika spandeer en dan ses maande in Finland wanneer ek aftree.

Was dit maklik om jou voete daar te vind?

Dit was nie maklik om my voete in Finland te vind nie. Dit het my omtrent drie jaar geneem om in ’n posisie te kom waar ek kon voel dat ek beheer oor dinge het. Dit neem tyd maar nadat ek my voete gevind het, het dinge baie beter begin gaan.

Is daar enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Ek sal avontuurlustige mense aanmoedig om die wêreld te verken. My oë het oopgegaan toe ek dinge buite Suid-Afrika begin ervaar het.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest