Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon of daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met dr. Henni Appelgryn, wat al vir meer as tien jaar in China woon.

Vertel ons meer van jouself en jou lewe in China?

Miskien moet ek in tyd teruggaan. Ek het nooit my skoolloopbaan voltooi nie; my ouers was nie van die rykste nie en ek het die skool ná standerd 8 (graad 10) verlaat. Ek het by Sappi in Springs begin werk en besef dit is waar ek sou bly as ek slegs met standerd 8 deur die lewe wil gaan. Toe besluit ek dat ek meer uit die lewe wou hê. Ek wou baie graag elektronika studeer, maar die vereiste was matriek (graad 12). Ek het toe begin met aandklasse by ’n tegniese kollege en ’n tegniese matriek voltooi. Dit was nie maklik om in dag te werk en in die aand klas toe te gaan nie. Maar ek het besef ek moes net vasbyt. Uiteindelik het ek elektronika begin studeer en later by ’n rekenaarmaatskappy begin werk. Ek was rekenaartegnikus en het verskeie dinge geleer. Op ’n dag hoor ek dat die maatskappy iemand universiteit toe wou stuur om ’n basiese bestuurskursus te voltooi.

Die vereiste was dat die persoon moet slaag of die maatskappy gaan die fooi van die persoon verhaal. Ek kon nie glo dat mense nie belang gestel het nie en toe aangebied om te gaan. Weer eens was dit werk deur die dag en klasloop in die aand. Ek het gesukkel, want dit was nie maklik nie en daar was verskillende vakke en hoë standaarde. Ek was op daardie stadium ’n enkelouer met ’n kind op laerskool. Ek het elke aand aan my studies begin werk as my seun om 20:00 bed toe gaan. Ek het baie gesukkel om rekeningkunde deur te kom, want die standaard was baie hoog en selfs my boekhouer kon my nie help. Maar ek het besef dat ek nie kan druip nie – ek het die rekeningkunde-eksamen drie keer moes aflê voordat ek dit geslaag het.

Ek is toe tot areabestuurder in Vrystaat bevorder. Hoewel ek besluit het om ’n opvolgkursus te doen, wou die maatskappy nie daarvoor betaal nie. Ek het toe maar besluit om dit self te betaal. Die kursus was weer eens moeilik. Omtrent twee jaar later het die maatskappy besluit om Suid-Afrika te verlaat. Ek was toe gedwing om my eie maatskappy te begin omdat ek weens swart- ekonomiese bemagtiging nie kon nie werk kry nie. Op ’n dag het ek verby die universiteit gery en besluit om in te gaan. Ek merk toe op dat die kursusse wat ek voltooi het voldoende is om vir MBA in te skryf, wat ek toe baie gretig was om te doen. Maar daar was een probleem: Dit kos ’n sak vol geld en my besigheid het maar gesukkel. Ek het die universiteit gevra of ek die klasgelde kon afbetaal, wat hulle toe aanvaar het. Ek het ingeskryf en begin. Ek onthou nou nog die dae wat ek 04:00 moes opstaan om te begin studeer. En boekhou was weer eens ’n riller – ek kon vir die ander vakke nog leer, maar boekhou moet mens verstaan; omdat ek nie ’n boekhouagtergrond gehad het, was dit maar moeilik.

Vir die laaste gedeelte moes ek ’n navorsingsprojek van 20 000 woorde inhandig. Ek was besig om die finale verslag te skryf toe ek ’n gewapende roof in my woonstel gehad het. Ek kon vir weke nie slaap of konsentreer nie en het die universiteit toe ingelig dat ek my studies staak.

Ek het ’n paar keer na China en Hong Kong gereis om uitstallings by te woon, opsoek na produkte om na Suid-Afrika in te voer. En een keer het ek na Chongqing gegaan toe ek verby ’n maatskappy geloop het wat Engels aanbied. Uit nuuskierigheid het ek toe ingegaan en gehoor of ek kan vir werk kan aansoek doen. Hulle was so opgewonde dat ek dit skaars kon glo. Op die vliegtuig terug het ek gesit en dink dat ek my CV na universiteite moet stuur, wat ek toe gedoen het. Ek kon nie die reaksie glo nie – ek het my CV na sowat 30 universiteite gestuur, waarvan meer as 10 my ’n werksaanbod gemaak het. Ek het toe besluit om die aanbod van ’n universiteit in Wuxi, China te aanvaar waar ek handelsvakke moes aanbied. Ek het net 12 ure per week gewerk en dus baie tyd op hande gehad. Om dié rede het ek besluit om my MBA te voltooi. ’n Jaar later het ek dit voltooi. Ek kon nooit voorheen na ’n gradeplegtigheid gaan nie, en weereens ook ek nie vir my MBA nie. Ek het my graadsertifikaat in pos gekry en was baie opgewonde.

Toe het ek weer eens besef dat 12 ure per week nie genoeg is om my besig te hou nie en dat ek baie verveeld was. Toe besluit ek om ’n Chinese maatskappy stig om goedere vanuit Suid-Afrika in te voer. Ek het inligting begin insamel oor hoe en wat dit sou kos. Omdat dit baie duur is om agente te gebruik om maatskappy te stig, het ek besluit om dit self te doen. Baie mense het vir my gesê dat dit onmoontlik is, want mens het bykans 30 sertifikate nodig om wettig handel te dryf. En omdat ek nie Chinees kan praat nie, sou dit moeilik wees om met die mense by al die verskillende departemente te kommunikeer. Maar dit was weer eens nie genoeg om my te stop nie. Ek het baie pret gehad met die Chinese staatsamptenare, want ons het baie gelag wanneer ons mekaar nie verstaan nie. Soms het mense wat in die ry staan, aangebied om as tolk op te tree of hulle het iemand van ’n ander departement gebel om te kom help. ’n Jaar later het ek my al my sertifikate gehad en ek kon begin. Ek het druiwepitolie ingevoer, maar dit was die begin van ’n gans ander stryd: Ek moes met mense in supermark skakel wat nie Engels kon praat nie. Die maatskappy was nie baie suksesvol nie, maar ek het maar voortgesukkel.

Ek het toe daaraan begin om ’n doktorsgraad te doen en by ’n Switserse universiteit ingeskryf. Ses jaar later het ’n doktorsgraad in besigheidsadministrasie (DBA) voltooi en kon toe selfs ’n tweede filosofiedoktersgraad in besigheidsadministrasie (PhD) graad kry omdat dit met ’n ander program ooreengestem het.

Wat doen jy daar?

Tans doseer ek entrepreneurskap en bemarking aan die Verenigde Internasionale Kollege, wat saam deur die Beijing Normal Universiteit en die Hong Kong Baptiste-universiteit gestig is. Hier gee ek altesaam 9 ure per week klas. Die stad se naam is Zhuhai en is baie naby aan Hong Kong, Shenzhen en Macao. Die gradeplegtigheid is in Hong Kong en studente kry die graad van die Hong Kong Baptiste-universiteit. Voorheen was ek vir ’n jaar lank by die Nottingham Universiteit in Ningbo.

Ek het ’n GPS-stelsel en -maatskappy in Suid-Afrika wat mense en maatskappymotors moniteer. Die GPS-eenhede koop ek hier en voer dit na Suid-Afrika uit. Verder het ek al verskeie goed uitgevoer: van masjiene tot dwelmmisbruiktoetse. Ek is altyd op soek na nog produkte om uit of in te voer. Ek gebruik my Hong Kong-maatskappy vir uitvoere omdat die Chinese maatskappy op voedsel fokus.

Was dit moeilik om in ’n ander land aan te pas of was dit maklik om jou voete daar te vind?

Ek was enkellopend en dit was opwindend om hierheen te kom. Daar is goed wat vreemd was, maar, soos ek altyd sê: Ek kan nie verwag dat 1,5 miljard mense moet verander nie; dit is makliker as ek aanpas.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek dink nie daar is nie veel wat ek mis nie; ek hou daarvan om vleis te braai, maar ek kan dit hier ook doen. Miskien die samesyn van braaivleis en rugby. Die kos is anders, maar ek glo daaraan as mens honger is, is enige kos goed genoeg. Ek moet sê: As ek in Suid-Afrika is, mis ek China. Die land is ongelooflik as mens na infrastruktuur kyk. Ek was al op ’n trein gery wat teen 300 km/h ry. Ek het glad nie ’n motor hier, maar ek het nie eintlik een nodig nie, want mens kan sonder sukkel na enige plek gaan. En wie wil nou per motor na ’n ander stad ry as jy ’n trein teen 200 km/h kan neem?

Hoe het emigrasie jou geraak?

Die taal was ’n moeilike aanpassing, maar ek kan met tegnologie en handgebare myself help en kan mos self goed in winkels opspoor. Ek het ’n werkspermit vir China en ek dink baie daaraan om ’n groen kaart te kry – dit is nou makliker as voorheen.

Wat geniet jy die meeste van die lewe in China?

Die veiligheid. In die meer as tien jaar wat ek hier is, was ek nog nooit in gevaarlike situasie nie. Die mense is baie verdraagsaam. Ek dink dit is ’n vereiste, want as daar so baie mense is, moet mens maar geduldig wees. Ek sê baie vir mense dat jy maar na ’n land toe moet terugkeer waar dit vir jou gemaklik is as jy dit nie kan aanvaar nie.

Die studente is ongelooflik; respek is deel van hulle kultuur.

Is daar baie Suid-Afrikaners in China? Kom julle soms bymekaar?

Hier is ’n hele paar Suid-Afrikaners. By my universiteit is daar ’n professor wat van die Kaap is. Hy is ook al paar jaar hier. En Byron wat in die stad was, maar nou na Beijing gegaan het. Ek dink elkeen is maar met hul eie ding besig.

Kry jy tyd om te reis?

Ek was al in baie stede en dit is interessant; hier is so baie om te sien! Ek moet ook noem dat ek ’n stadsjapie is: Ek geniet groot stede, want daar is baie goed en mense om te sien.

Het jy nog kontak met Suid-Afrika en sal jy terug kom?

My seun is nou in Engeland en ek het twee broers in Suid-Afrika. Ek het paar vriende daar en ons hou kontak met WhatsApp.

As dit van my afhang, sal ek nooit weer in Suid-Afrika woon nie, maar mens weet ook nie wat die toekoms inhou nie.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest