Leesvordering:

Uit en Tuis met Larochelle Potgieter

Mar 15, 2018

Uit en Tuis is die rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Larochelle, wat vir twee jaar in Amerika as au pair gewerk het.

Waar het jy gewoon en waarom juis daar?

Ek het in Chicago, Illinois gewoon van Augustus 2013 tot Augustus 2014. Ek was deur ’n gesin van sewe gekies om by hulle as ’n au pair te gaan woon en werk. In my tweede jaar het ek besluit om na ’n ander familie in Denver, Colorado te gaan om nuwe dinge te gaan verken. Ek was by dié gesin van vier van Augustus 2014 tot Augustus 2015.

Was dit ’n groot aanpassing?

In my eerste jaar was dit vir my ’n verskriklike groot aanpassing, maar in my tweede jaar was dit weer verskriklik maklik.

Vertel ons meer van die gesin by wie jy gewoon het

In Chicago het ek nooit tuis gevoel nie en dit het altyd vir my gevoel hulle loer oor my skouer om te kyk of ek iets verkeerd gaan doen. Ek wou baie graag ge-“rematch” het terwyl ek daar was, maar het besluit dat ek vir ’n jaar verbind (commit) het en dit sou voltooi, al was dit moeilik. Toe ek hier in Suid-Afrika was, het ek altyd gebid vir ’n groot, luukse huis omdat ek nog nooit in ’n groot huis met luukshede gebly het nie en graag wou weet hoe dit sou voel. Ek het regtig toe ’n familie gekry met ’n ongelooflike mooi en groot huis, maar die familie het my glad nie tuis laat voel nie. Daar was nooit nagevolge vir die kinders nie en hulle het altyd gekry wat hulle wou hê. Dit was ook moeilik om my kant altyd oor te dra. Die baba was die beste deel van my dag; die vriendelikste gesiggie! Hy is ’n maand ná my aankoms gebore.

My tweede jaar in Denver was ongelooflik. Ek het die eerste jaar my les geleer en toe begin ek bid vir ’n goeie opregte familie. Ek het glad nie omgegee in watter huis ek sou bly nie. Ek het op ’n gesin van vier af gekom en hulle was ongelooflik teenoor my. Ek was saam met hulle oral heen – ek was die derde kind in die huis, al was ek die au pair. Ek het dié keer wragtig in die heel kleinste huisie in die straat gebly, maar daar was ’n warm familiegevoel in die huis wat ek nooit sou verruil nie. Die ouers was ongelooflik: As ek “nee” sou sê, het hulle ook “nee” gesê; ons het mekaar verstaan. Hulle was ook vreeslik vriendelik en het altyd geluister.

Het jy Afrikaans gepraat terwyl jy daar was?

Ek het vir die kinders probeer Afrikaans leer, maar dit was vir hulle altyd vreeslik snaaks as ek dit begin praat of as ek vir hulle liedjies speel. Die seuntjie wat ek in my tweede jaar opgepas het kon darem Wielie Walie sing.

Jou familie was ver van jou af. Hoe gereeld het julle mekaar gesien?

Ek het my familie nie een keer in twee jaar gesien nie. Skype het die verlange minder gemaak.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in die VSA. Het julle soms bymekaar gekom?

In Chicago het ek glad nie Suid-Afrikaners ontmoet wat daar bly nie (net au pairs), maar in Denver was daar ongelooflik baie Suid-Afrikaners wat al vir jare daar woon. Daar was altyd lekker ontmoetings met ’n braai of rugbywedstryd (ja, glo dit of nie – daar was rugby). Dit was heerlik om tussen al ons eie mense Afrikaans te kon praat.

Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?

Verseker die paaie, ek moes altyd eers mooi dink voor ek ry.

Het jy nog kontak met die mense wat jy daar ontmoet het en sal jy ooit teruggaan?

Ek het so een keer ’n jaar kontak met die familie by wie ek in Chicago au pair het. Ek het nog weekliks kontak met die Denver-familie. Ek sal enige dag teruggaan Denver toe.

Het jy ooit kans gekry om te reis?

Ek het die geleentheid gehad om baie te reis na verskillende state toe, waaronder New York, Nevada en Kalifornië.

Waarvan het jy die meeste gehou van jou lewe daar?

Die vryheid wat ek gehad het, om 22:00 die aand alleen huis toe stap en jy weet jy is veilig. Treine, busse en fietsry was ongelooflik; niemand wat pla nie. Daar was ook altyd vars lug en die sneeu het die avonture onvergeetlik gemaak.

Was dit duur om daar te woon?

As jy in dollar betaal word, is dit glad nie duur nie. Ek het gedink alles was goedkoop en dit is waarom dit moontlik was om so baie te kon reis en vlieg na die verskillende state. Dit is ook dalk die rede hoekom ek met niks teruggekom het nie.

Was dit maklik om nuwe vriende te maak en in te skakel in die gemeenskap?

Ek het nie baie vriende gehad in Chicago nie. Dit was ook moeilik om uit te gaan en vriende te ontmoet, want ek moes oor naweke werk.

In Denver het ek baie vriende gehad. Die familie het my selde oor naweke laat werk. Dit het my die geleentheid gegee om amper elke naweek op ’n nuwe avontuur te gaan, soos ski, staptogte, pretwedlope en nuwe restaurante om net ’n paar dinge te noem.

Wat was die grootste verskil van jou lewe in Suid-Afrika?

Dit was verseker die vryheid en die gemoedsrus dat ek veilig was. Ek is nou altyd so versigtig vandat ek terug is en ek hou glad nie daarvan om alleen rond te ry nie.

Wat het jy vir ontspanning gedoen?

Ek het baie tennis gaan speel toe ek in die VSA gebly het. Die tennisbane daar is volop en verniet. Ek het ook baie gaan rondloop in Target – dit is een van die lekkerste winkels, dit is yslik groot. Mens kan letterlik vir ure rondloop en jou verkyk aan al die dinge.

Hoe was die klimaat?

Chicago is verskriklik koud! In die winter raak dit so koud dat die kinders nie mag skool toe gaan nie. In die somer is daar ’n bedompige gevoel wat jou heeltyd klam laat voel.

In Denver is dit vier seisoene in een dag. Daar sal sonskyn, sneeu, reën en wilde winde wees – alles in een dag – maar dit was altyd lekker.

Hoe het ’n tipiese dag in jou lewe gelyk?

In Chicago het ek elke week ’n ander rooster gekry. Die ma was ’n tuisbly-ma, so sy het my gebruik waar sy goedgedink het. Dit was gewoonlik heeldag. Ek moes na die baba omsien en hom laat slaap en kos gee, en in die middae wanneer die ander vier by die huis gekom het, moes ek vir hulle kos gee en hulle besig hou met aktiwiteite of hulle regkry vir buitemuurse aktiwiteite waarheen hulle moes gaan.

In Denver moes ek elke oggend opstaan en vir die kinders ontbyt maak en hulle gereedkry vir skool. Ek het dit baie geniet om die dogtertjie se hare elke dag mooi te maak. In die middae het hulle buitemuurse aktiwiteite gehad waarheen ek hulle moes vat. Ek het ook so nou en dan gaan inkopies doen (dit was heerlik). Ek het die seuntjie ook baie na die dieretuin, biblioteek en museum geneem, dit was ons gunstelingplekke.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan werk?

Ek is van Pretoria, Gauteng en ek het besluit om eendag ’n au pair te wees vandat ek klein was. My tannie het van 1999 tot 2000 gaan au pair en sy was mal daaroor. Ek het toe al besluit dat ek ná skool ook na VSA toe wou gaan. Dit was een onvergeetlike ervaring en ek sal enige iemand aanraai om dit te gaan doen.

 

Woon jy in die buiteland? Vertel Wêreldwyd daarvan: Stuur gerus ’n e-pos aan wereldwyd@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest