Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Australië

Jan 19, 2023

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Marni Wolmarans wat in Australië woon.

Hallo, Marni. Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Australië te gaan woon?

Beide ek en my man is gebore in Vanderbijlpark en nadat ons ontmoet het, het ons na Kempton Park verhuis. Toe ek swanger was met ons jongste, het ons weer terug Vaaldriehoek toe getrek en daar gewoon tot voor ons na Australië gekom het. Dit was nie ’n maklike besluit om te neem nie, maar ons het tot die besef gekom dat daar ongelukkig nie ’n belowende toekoms wag op ons kinders nie. Ons het gedink ons doen dit slegs vir ons kinders maar nou geniet ons as ouers die skuif net soveel, indien nie meer nie, as die kinders.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek en my man, Hennie, is getroud in 2010 en saam het ons drie pragtige kinders. Ons geniet dit baie om dinge as ’n gesin saam te doen en is mal daaroor om te verken en ontdek. Ons kamp graag en probeer op so ’n manier ons nuwe land verken en ons gunsteling aktiwiteit op die oomblik is om verskillende strande te besoek. As kind het my pa ons baie na museums, monumente en ander besienswaardighede geneem en dit was van my beste herinneringe. Ons probeer om vir ons kinders dieselfde te gee en ’n liefde te kweek vir die natuur, kultuur en alles wat interessant is. Ons sal sommer maklik vroeg op ’n Saterdag ’n “road trip” aanpak – drie ure weg en drie ure terug huis toe.

Jy het genoem dat jy drie kinders het, hoe oud is hulle en hoe het hulle aangepas in die nuwe land?

 Maja (10) is ons oudste, Henru is 8 en Liam is amper 5. Dit was aan die begin vir Maja nogal ’n aanpassing – sy was baie geheg aan haar maatjies – en daar is tog heelwat kultuurverskille tussen die Afrikaners en die Australiërs. Henru en Liam het ongelooflik goed aangepas en beide Maja en Henru se nuwe onderwysers het die ekstra myl gegaan om die skuif vir hulle makliker te maak en dit was van onskatbare waarde vir ons as gesin. Dit het gelukkig nie te lank geneem vir Maja om ook in te skakel nie en al drie ons kinders het die groot verandering aanvaar, vinnig ingeskakel en begin tuis voel in hul nuwe omgewing.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Toe die vakansiegevoel verby is – vriende en familie wat so ver is. Dit was ’n aanpassing om rondom die tydsverskil te werk, maar buiten vir dit het ons eintlik baie vinnig aangepas danksy die weer en omgewing in Perth wat baie vergelyk met Suid-Afrika s’n. Kleiner goedjies soos bv. om pryse om te skakel na rand het bietjie langer geneem om op te gee en ná amper twee jaar in Australië kan ek doodeenvoudig net nie gewoond raak aan die winkeltrollies nie. Jy kan vir enige Saffa in Australië vra, dis die ongemaklikste oefening om inkopies te gaan doen.

Praat julle nog Afrikaans? Hoe hou julle Afrikaans in die buiteland nog lewendig?

Ons praat slegs Afrikaans in die huis en die kinders meng soms hul taal, maar dan bied ons die Afrikaanse alternatief en ek moedig hulle aan om Afrikaans te praat. Ons vriende is meestal Afrikaans, so die kinders kry baie blootstelling aan Afrikaans.

As jy terug kon gaan in tyd, wat sou jy nog in jou tas gepak het voordat jy Suid-Afrika verlaat het?

Ons het die besluit geneem om alles te verkoop en hier heeltemal oor te begin en dus het ons net die baie sentimentele items saamgebring (skilderye, my oorlede skoonpa se kitaar, BAIE fotos) klere, speelgoed en hier en daar nog iets. Ons het wel ’n stewige bedrag inbetaal op ons oorgewig bagasie, maar daar is regtig nie eintlik iets meer wat ons wou saambring nie.

Ons sien jy is ’n entrepreneur. Vertel ons meer oor jou besigheid.

Silli SA se fokus is op ’n sensoriese produk geskik vir alle ouderdomme – matjies vervaardig van silikon, elk met ’n ander tekstuur en kleur vir babas se ontwikkeling, kinders met tassensitiwiteit, volwassenes wat sukkel met bloedsomloop, ens. Die produk het ontstaan in Suid-Afrika en ek bestuur steeds die onderneming vanuit hier in Australië. Ons het die besluit geneem om uit te brei na die Australiese mark. Omdat Australië baie fokus op geestesgesondheid en hoe om mense met gestremdhede te kan help, kan Silli regtig ’n groot verskil maak hier ook. Ons is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou!

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Australië. Kom julle soms bymekaar?

Ons het sommer vinnig goeie vriende gemaak en ons sien mekaar gereeld. Ons het ook by ’n Afrikaanse kerk ingeskakel en die kinders geniet al die ekstra oumas en oupas natuurlik vreeslik baie! Daar word gereeld kuieraande en danse gehou om soveel moontlik Saffas bymekaar te kry.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Daar is om elke hoek en draai ’n Saffa-winkel en dis ook die enigste plekke wat behoorlike boerewors verkoop, so hulle kry baie ondersteuning van plaaslike Saffas. Ons koop graag Suid-Afrikaanse produkte by menige van die winkels en dit is altyd lekker om by die verskeie winkels in te stap en mede-Afrikaners te hoor babbel. My haarkapper is ’n Saffa en ons koop ons vleis by ’n Saffa-slaghuis. Die Suid-Afrikaners ondersteun Saffa-ondernemings regtig baie goed.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

My raad aan ’n gesin wat vars aan wal van ’n nuwe land stap: maak vinnig vriende, skakel in by ’n organisasie soos ’n kerk ens. waar jy omring word deur mede-immigrante, verken jou nuwe land en maak dit vir julle opwindend. Daar is mense wat sukkel om aan te pas, maar ek ondervind dat dit meestal diegene is wat nie bereid is om hulself daar buite te sit nie. Hoe gouer jy vir jouself ’n ondersteuningsnetwerk skep, hoe makliker maak jy dit vir jouself.

LEES OOK: ’n E-pos uit Haarlem, Nederland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook ’n Uit en tuis-rubriek vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

Deur Derika de Villiers Om oor geestesgesondheid te praat is nog steeds ’n uitdagende aktiwiteit vir baie mense. Ons het in ’n kultuur grootgeword in Suid-Afrika waar jy “gesien en nie gehoor moes word nie”, of “jou sokkies moet optrek” en jou “trane moet sluk”. Die...

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Hierdie week se kollig is op AVW Media Worx. AVW Media Worx is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest