Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit België

Jul 11, 2023

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon of werk, of daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Lalita Buchler wat in België woon.

Wat was die grootste aanpassing?

Daar was baie, baie klein aanpassinge soos dat ek hier weer moes leer om kontant by my te dra, want jy kan hier nie orals met ’n kaart betaal nie. Ek was verbaas want in Johannesburg en in Pretoria kon ’n mens toe al sommer op die straat met ’n kaart betaal.

Die taal is natuurlik ook ’n uitdaging, maar vir my was die grootste aanpassing die werk. Dit was ’n lang proses om my diploma hier geldig verklaar te kry om uiteindelik hier te kan werk. Ander werksure en maniere wat hulle dinge doen. Ek is ’n verpleegster en in die breë aspek is dinge baie dieselfde, maar dis die klein goedjies wat hier anders is wat ’n aanpassing bly. Ek werk ook in Nederland, daar was dit vir my makliker om aan te pas. Die werksure en die dienste bly maar vir my moeilik.

Wat doen jy as jy verlang na die huis en sy mense?

Ek is gelukkig om ’n baie goeie vriendin en vriend hier te hê, veral omdat een van hulle van Suid-Afrika is. As ek huis toe verlang bring ek meer tyd saam met hulle deur en dit maak die verlange meer verdraagsaam.

Bel en WhatsApp na mense in Suid Afrika is gelukkig ook makliker, maar om ’n koppie koffie te drink by ’n vriend of vriendin hier maak die moeilike dae makliker.

Wat doen jy vir ontspanning?

Ontspanning beteken vir my alles wat net nie op die dag-tot-dag “to do”- lysie is nie. Dus alles wat nie huis skoonmaak of werk insluit nie. Ek gaan kuier by vriende en gaan stap met my hond. Hier is baie mooi plekke om te gaan stap en speel met my kinders.

Ek kyk ook amper elke dag so ’n halfuur lank ’n Suid-Afrikaanse sepie.

Het jy enige raad vir enigiemand wat wil emigreer?

Onthou dat jy nooit alleen is nie. Moenie jouself afsonder in ’n nuwe land nie, gaan soek na mense wat jou laat voel asof jy inpas en skryf jouself in vir goedjies om te doen en om sodoende mense te leer ken.

Vir my is daar ’n fyn lyn wat baie belangrik is: “Laat los, maar hou vas.” Hou vas aan jou identiteit; ken jou wortels. Maar laat jouself toe en gun jouself om hier ook tuis te voel.

Vra is vry, en nie almal sal of hoef altyd jou kant van die storie te verstaan nie en dis oukei.

Wat is jou gunstelingding om te doen in jou nuwe land?

Een van die dinge wat ek hier die meeste geniet is kinderspeeltuine, pretparke en binnenshuise swembaddens en om daarheen te gaan met die kinders, maar hulle word nou groot.

Ek geniet die aandstappies en om in die aand ’n entjie te gaan ry met die kar of met die fiets.

Is daar ’n Suid-Afrikaanse winkel naby jou, en indien wel, wat is die winkel se naam?

Nie om die hoek nie, dit is so twee ure se ry maar ek bestel aanlyn by Die Spens, wat in Nederland is. Hulle lewer puik diens!

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon, wat jy nie vantevore geweet het nie?

Ek het nie geweet hier is so baie bosse nie en dat hier wilde diere vry rondloop nie. Iemand het my regtig al gevra of die leeus en die diere daar by ons (in Suid-Afrika) so vry rondloop, toe moes ek dink aan die wilde varkies hier agter my huis in die bos.

Ek sien hier baie wilde diere vanuit my tuin. Ek woon agter ’n natuurgebied. Hier is baie goed wat my laat dink aan my jong kinderdae in Suid-Afrika. Soos die roomyskarretjies wat verby jou huis ry en die weeklikse markte. Die kermis, die buiteparkies vir kinders en openbare swembaddens.

Ek dink wat vir my interessant is, is dat daar baie verskille is, maar ook baie ooreenkomste is.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Londen

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Foto: thomas-somme-371Zjcl-IGs-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest