Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit die buiteland

Apr 28, 2023

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon of werk, of daar gewoon en gewerk het en weer terug in Suid-Afrika is. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Neels Nieuwenhuis, wat tien maande ’n jaar in die buiteland werk.

Hallo Neels, dit is baie lekker om met jou te gesels. Jy is tien maande van die jaar in die buiteland vir werkverpligtinge. Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag?

Eers agtergrond oor die maatskappy sodat jy ’n idee kan kry van hoe dit werk.

Ek werk vir Park West Gallery, die wêreld se grootste kunshandelaar in privaat besit. Ons kontrak is ses maande werk en dan ses tot agt weke vakansie. Ons het landgalerye in Michigan, waar ons hoofkantoor en museum is. Verder het ons galerye in New York, Honolulu, Hawaii en Las Vegas.

Park West Gallery het ’n galery op meer as 90 plesierskepe regoor die wêreld. Ons word geplaas op enigeen van die 90. ’n Tipiese span bestaan uit ’n kunsvoorbereider, wat die logistiek op die skip behartig en sorg dat al die kuns reg is vir ons, en twee kunsassosiate – waarvan ek een is – ’n galerydirekteur en ’n kunsafslaer.

’n Tipiese dag verloop as volg. Ons meng met die passasiers en bou verhoudings op en kry hulle om ons seminare en veilings by te woon. Ons doen kunsverrykingseminare van verskillende kunstenaars, kunsgeskiedenis, kunsmeesters, ens. Op veilingdae woon mense dit by en hulle bie op verskillende kunsitems waarvan hulle hou.

Vertel ons meer van jou gesin, en hoe gereeld sien jy hulle?

Ons bly in die Paarl. My vrou is tans ’n onderwyseres en ons het ’n seuntjie van vyf jaar oud – hy verjaar op 31 April. Deel van ons gesin is ook ons twee klein swart mopshondjies (pugs), Kingston en Molly.

Kry jy kans om te reis en die lande te gaan verken waar julle anker gooi? Watter interessanthede het jy ontdek van die lande wat jy al besoek het, wat jy nie vantevore geweet het nie?

Ons noem dit “port days”. Ons galery is meestal toe gedurende die dag, want die meeste van die passasiers klim af om die plek te verken. So ja, ons kry oorgenoeg tyd om elke plek te verken waar ons stop. Die eerste drie maande van my kontrak vaar ons tussen Los Angeles en Hawaii.

Ons hawens in Hawaii is Honolulu (die hoofstad), Hilo, Maui, Lahaina, Maui en Kauai.

Wat ek geleer het, is dat Hawaii baie groter is as wat ek ooit gedink het. Honolulu lyk amper soos Kaapstad. Oral in Hawaii is die water skoon en warm. Daar is oral tropiese visse en seeskilpaaie waar jy swem en jy swem so tussen hulle. Dit is egter ’n baie duur land – as jy ooit beplan om te kom, maak jou maar reg vir ’n duur vakansie.

Jy noem dat julle van einde April tot Augustus tussen Vancouver en Alaska vaar. Jy sien baie lande wat baie mense sekerlik nooit sal sien nie. Plekke wat julle in Alaska gaan besoek, is Sitka, Hubbard Glacier, Icy Strait Point, Juneau, Skagway en Ketchikan. Vertel ons meer.
Ek is verskriklik opgewonde om Alaska te sien. Ek voel soos ’n klein seuntjie. Ons is die einde van die maand daar, so dan sal ek jou eers meer kan vertel. Maar wat ek hoor van mense wat al daar was, gaan dit ’n belewenis wees.

Ontmoet jy soms ander Suid-Afrikaners in die buiteland?

Ons span van ses bestaan tans uit vyf Suid-Afrikaners en iemand van El Salvador. My kamermaat is van Oos-Londen en ons praat meestal Afrikaans, behalwe in gasteareas, waar ons Engels moet praat. Tans op die Crown Princess waarop ek werk, is hier seker tussen 20 en 40 Suid-Afrikaners van alle rasse. Heelwat van hulle werk in die mediese sentrum, en daar is ook mense van Suid-Afrika wat in die spa, gimnasium, casino, winkels en in menslike hulpbronne werk. So ek voel baie tuis hier.

Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland, en was die werkkultuur ’n aanpassing?

Ek sal sê om weg te wees van my gesin is maar die grootste aanpassing en opoffering. Maar ons werk met ’n langtermynplan en het saam besluit dat dit die beste is vir ons as gesin.

Ek was nog altyd in verkope en dit is maar meestal wat ons doen hier. Ons werk 75% van die tyd met Amerikaners en die ander 25% is mense van ander lande. Op die einde van die dag is almal maar dieselfde. My volgende stap is galerydirekteur en dan afslaer en ek is tans besig met ’n “fast track”-program” om als te leer om ’n afslaer te word. Dit is heeltemal buite my gemaksone om in ’n saal voor 50+ mense te praat en veilings te doen, maar ek is so te sê reg daarvoor. Ek bied soms die seminare aan en dit het my gemaklik en selfversekerd gemaak om voor ’n klomp mense te praat.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika wanneer jy so lank van die huis af werk?

Eerstens my gesin, en dan om self kos te maak of te kan braai. Ek is mal daaroor om kos te maak en hier word ons bedien; ek het dus nie die geleentheid om self kos te maak nie. Maar ons kan blykbaar by een van die hawens in Alaska braai, en ek sien uit daarna.

Enige lesse wat julle geleer het?

Die lewe loop partykeer snaakse draaie en dinge werk nie altyd uit soos wat jy beplan nie. As ons kan terugdink aan Covid en die inperking. Niemand het dit verwag nie en vir baie was dit die aakligste tyd van ons lewe. Maar byt vas, glo en hoop en gryp nuwe geleenthede aan wat oor jou pad kom en maak ’n sukses daarvan. Werk hard en sorg vir jouself en jou gesin, want niemand anders gaan dit vir jou doen nie.

Hou hierdie spasie dop – Neels gaan weer vir AfriForum Wêreldwyd skryf oor sy ervaring in Alaska.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Bahrein

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Ladine Britz, wat in...

Die jaar wat my lewe verander het!

Die jaar wat my lewe verander het!

Deur Clarice de Jonge Wanneer jy voel asof die wêreld te klein is vir jou en jy soveel meer betekenis aan jou lewe wil gee, is dit ’n teken om ’n groot wilsbesluit te neem en jou horisonne te verbreed. Aan die einde van 2021 het ek ’n gewaagde besluit geneem om my...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest