Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Duitsland

Mar 14, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Reiner Duvenage wat in die buiteland gestudeer en gewerk het en homself nou weer op tuisbodem vestig.


Hallo Reiner, hoe voel dit om terug te wees op tuisbodem na twee en ’n half jaar in die buiteland?

Dit voel fantasties! Ek voel ek het baie geleer en gegroei in die buiteland, maar ek is nou verfris en gereed om ’n bydrae in Suid-Afrika te lewer. Daar wag groot uitdagings vir AfriForum en die Solidariteit Beweging, maar ek is ook baie opgewonde oor die geleenthede wat daar is en die belangrike pionierswerk wat ons in die komende jare hier gaan doen.

Waar in die wêreld het jy gestudeer en gewerk?

Ná afloop van my honneursgraad, het ek ’n gapingsjaar in Moskou (Rusland) geneem en vir vyf maande Engels gegee. Ek het dit ontsettend geniet, maar terwyl ek in Moskou was, het ek gehoor dat ek ’n studiebeurs ontvang het om my meestersgraad in Duitsland en Pole te voltooi. My eerste semester het in September 2019 by die Universiteit van Göttingen begin. Die program was so gestruktureer dat ek my tweede semester in Pole by die Universiteit van Krakow spandeer het. Ek moes ook ’n internskap as deel van my kursus doen wat ek by die nie-regeringsorganisasie Democracy International in Keulen (Duitsland) voltooi het. Ek is toe in die begin van 2021 weer terug Göttingen toe waar ek my finale semester spandeer het en my verhandeling afgesluit het.

Ek sal enige jong mens aanraai om ander tale te leer. Dit skep vir ’n mens baie geleenthede en leer ’n mens om die wêreld vanuit ander perspektiewe te verstaan.

Ek is ’n groot voorstander daarvan dat jong mense so veel as moontlik ander tale moet leer. Dit klink soos ’n cliché, maar dit verbreed werklik ’n mens se perspektief op die wêreld en ander kulture. Verder skep dit uiteraard baie geleenthede vir mense wat in die buiteland wil leef en werk.

Jy het genoem dat jy in Duitsland gewoon het om te studeer. Wat het jy gestudeer en hoe vergelyk Duitsland se universiteit met Kovsies waar jy voorgraads gestudeer het?

My kursus se naam was “Euroculture: European Politics, Society and Culture in a global context”. Dit was baie interdissiplinêr van aard en die modules het hoofsaaklik op die geesteswetenskappe en politieke wetenskappe gefokus. My verhandeling het oor die politieke filosofie van Jürgen Habermas en die konsep van transnasionale volksoewereiniteit in die Europese Unie gehandel. Dit was uiteraard ’n groot voorreg om die beurs te ontvang en ek het baie geleer by die Duitse akademiese kultuur. Ek moet wel sê dat die standaard van die Fakulteit Geesteswetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat vir my van soortgelyke gehalte (ten minste in my tyd) as dié Universiteit van Göttingen was.

Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Die grootste aanpassing is sekerlik die kultuurverskille en klimaat. Gelukkig was ek bevoorreg genoeg om in 2017 vir ’n tydperk van twee maande ’n beurs vir ’n taalkursus in Berlyn te ontvang, so ek het reeds ervaring van die lang en donker winter gehad. Om by die kultuur aan te pas, was ook makliker omdat ek reeds goed Duits kon praat en ’n poging aangewend het om die tale te leer in die plekke waar ek gewoon het.

Is dit duur om in Duitsland te woon?

Die duurste uitgawe in Duitsland is verblyf. Gelukkig kon ek as student van die universiteit se Wohnheims (koshuise) gebruik maak, waar ’n mens ’n enkelkamer kry en dan met sewe ander studente ’n kombuis en leefarea deel. Dit het my verblyf redelik bekostigbaar gemaak. ’n Verdere faktor wat in ag geneem moet word, is dat verblyf nog heelwat duurder in groot stede soos Parys en Berlyn is. Kospryse en kruideniersware by supermarkte is redelik bekostigbaar, maar ongelukkig is kroeë en restaurante weer baie duurder as hier. ’n Mens moet dus maar begroot vir die onvermydelike kuiersessies en doppe.

Wat was jou gunstelinggereg wat jy geëet het in Duitsland?

Ek is om die waarheid te sê nie verskriklik mal oor die Duitse kos nie. As ek iets moet kies, sal ek se currywurst (kerriewors) wat by klein stalletjies in stede bedien word. Verder is ek mal oor doner-kebabs, wat deel van die Duitse kultuur geword het, maar ek weet nou nie of dit as “eg Duits” kwalifiseer nie.

Jy noem dat jy vir vier maande in Rusland Engels gegee het, hoe verskil die skoolsisteem in Rusland met die skoolsisteem in Suid-Afrika?

Ek het by ’n private taalskool gewerk, so ek het vir leerlinge van alle ouderdomme Engels gegee. My ervaring van die Russiese skoolkinders wat wel by my les gehad het, is oor die algemeen baie positief. Die kinders is goed gemanierd en leergierig. Oor die algemeen was die mense in Moskou uiters verwelkomend. Om die oorspronklike vraag te antwoord, is dit egter bekend dat skole in Europa (Rusland en Duitsland ingesluit) minder gestruktureerd is en geheel en al op akademie gefokus is. Wat ek hiermee bedoel, is dat sport- en kultuuraktiwiteite nie by die skool plaasvind nie, maar eerder by toegewyde klubs en verenigings. Oor die algemeen word uniforms ook nie by skole gedra nie en daar is geen godsdienstige aktiwiteite by skole nie.

Het jy enige raad vir mense wat in die buiteland wil studeer?

My raad sal wees om so gou as moontlik ’n buitelandse taal te leer. In hierdie verband sal ek Duits aanbeveel, omdat Duitsland die mees betrokke Europese land in Suid-Afrika is en baie geleenthede vir studiebeurse verskaf. Baie van die beurse gee egter voorkeur aan diegene wat reeds Duits kan praat of besig is om Duits te leer. Voornemende student kan op die Deutscher Akademischer Austauschdienst (DAAD) se webtuiste gaan kyk vir studiebeurse. Verder is daar ook die Erasmus Mundus-beurse wat deur die Europese Unie verskaf word. Die Erasmus Mundus-beurse is egter slegs vir meestersgraadstudies. In my ervaring is dit oor die algemeen makliker om nagraadse studiebeurse in Europa te kry.

Wat het jy die meeste gemis van Suid-Afrika?

’n Mens mis jou familie, vriende, kultuur en taal. Dit is nie iets wat oorsee vervang kan word nie – al probeer ’n mens hoe hard.

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Bavaria

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest