Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Kanada

Jun 6, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Catherina van Brakel wat tans saam met haar man in Kanada woon.

Hallo, Catherina. Dit is altyd lekker om van Afrikaners in die buiteland te hoor. Vertel ons bietjie waar in die wêreld woon jy en hoekom juis daar?

Ek en Werner woon in Surrey, ’n voorstad van Vancouver, ongeveer dertig kilometer uit die middestad. Ons wou graag in een van die sogenaamde “high-rise”-geboue bly. Ons woonstel is op die negentiende vloer, met ’n fantastiese uitsig van die berge aan die een kant en die stad se liggies aan die ander kant. Die feit dat ons nie in die middestad woon nie, het verskeie voordele. Dit is goedkoper en minder lawaaierig, maar ons is steeds redelik sentraal geleë. ’n Halfuur se ry in ’n noordelike rigting, en jy begin die kronkelende pad teen die sneeubedekte berge uitklim. ’n Halfuur se ry in die teenoorgestelde rigting, en jy kom skielik af op ’n strand.

Julle het onlangs geëmigreer, vertel ons bietjie hoe het julle die emigrasieproses ervaar?

Die emigrasieproses het ons stil-stil bekruip. Werner se werkgewer het hom die geleentheid gebied om oorgeplaas te word na die Vancouver-kantoor. Hy het een dag net uit die studeerkamer geroep, “Wil jy Kanada toe trek?”

Ek het ingestem sonder om te weifel.

Ons was skaars betrokke by die visumproses, aangesien die werkgewer dit namens ons behartig het. Ons moes wel met stapels papierwerk worstel, en deurdruk met administratiewe prosesse wat jou geduld toets, soos die verkry van polisieklarings. Covid-19 het natuurlik ook ’n groot rol in die proses gespeel. Die nuwe Omikron-variant het net begin kop uitsteek terwyl ons besig was met die visumaansoeke. Ons visums was goedgekeur, maar twee dae voordat ons paspoorte by ons afgelewer is, sluit Kanada sy grense!

Ons is toe vasgekeer in Suid-Afrika vir ’n sonnige Desember, in plaas daarvan dat ons ’n wit Kersfees kon ervaar. Ons het die laaste vitamiene D in Ballito opgeslurp, familie in Burgersdorp en Jeffreysbaai gaan groet, en vir oulaas gaan safari in die tentkamp van die Camdeboo Nasionale Park buite Graaff-Reinet.

Ná dié wegbreek, het ons die meeste van ons besittings deur Facebook Marketplace verkoop. Snaaks hoe die werklikheid my regtig eers getref het nadat ons sitkamerbank verkoop is. Skielik was daar ’n leë eggo in die vertrek, en net daar bars ek in trane uit. Werner het nie heeltemal verstaan waar die trane vandaan kom nie, en hy troos maar met: “Moenie worry nie! Ons sal ’n mooi nuwe bank in Kanada koop.”

Wat was vir jou die heel grootste aanpassing?

Aan die begin was alles nuut en vreemd, soos te wagte, maar ons het tog gereken dit sou opwindend wees. Die eerste uitstappie na die supermark het ons in ons spore laat vassteek. Al die produkte was vreemd. Ons staan voor die melkrak, en dit is nie net ’n vinnige keuse tussen Clover of Douglasdale nie. Ons loer na die appels, maar dit word in ponde geweeg en ons weet nie hoeveel daarvan in ’n kilogram is nie. Hier is ook outomatiese kassiere, waar ons self ons produkte moet skandeer en betaal. Vir ’n Suid-Afrikaner is dit aanvanklik heeltemal vreemd.

In ons tydelike woonstel het ek besef hoe anders sekere huishoudelike toebehore is. Die ligskakelaars werk andersom, en dit voel konstant asof die lig afgeskakel word, wanneer dit eintlik aan is. Die een kombuiswasbak het ’n aaklige, gapende opening genaamd ’n “garburator”. Blykbaar word dit gebruik om enige oorblywende kos weg te gooi ná aandete. Dié dierasie maak onaardse geluide wanneer dit aangeskakel word, en ek het daardie skakelaar maar net een keer verwar met die kombuislig s’n. 

Aanvanklik sonder ’n kar, moes ons natuurlik ook aanpas by die gebruik van openbare vervoer. Die SkyTrain is ’n baie gerieflike manier om te kom waar ’n mens moet, en verder kan ons ook gebruik maak van busse. Ons is avontuurlustige mense, en sonder ’n kar sou ons nie toegang hê tot sekere plekke of ervarings nie, soos om in die groot provinsiale parke te gaan kampeer. Hoewel ons bykans al tien jaar bestuur, moes ons steeds weer ons leerlinglisensies gaan skryf. Dit word gedoen op ’n masjien wat soortgelyk is aan die outomatiese kassiere by die supermarkte. Met die slaag van die bestuurstoets, het ’n hele nuwe wêreld vir ons oopgegaan.

Die grootste aanpassing is dus eintlik nie een groot aanpassing nie. Dit is maar net die klein, alledaagse dinge wat ons in Suid-Afrika gedoen het sonder om daaroor te dink.

Is daar enige Suid-Afrikaanse winkels naby jou waar jy trooskos kan kry?

Sekere Suid-Afrikaanse produkte is tog in die supermarkte beskikbaar, soos Mrs Balls-blatjang, Nando’s Perinnaise, en Cape Herb & Spice-speserye. Daar is ook ’n paar Suid-Afrikaanse winkels in die omliggende areas, met name soos Serengeti Trading, Out of Africa Trading, en African Breese.

Ons het toevallig afgekom op ’n klein winkel in ons area wat ’n snaakse verskeidenheid Afrika-produkte verkoop. Daar het ons ’n soort mieliemeel gekry wat effens anders is as waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. Wanneer ons te veel na die huis verlang, maak Werner baie behendig daarmee krummelpap. Hy moes wel sy skoonma bel om te vra hoe dit gedoen word, want die YouTube-video’s is beslis verkeerd!

Werner het ook sy voet neergesit toe hy besef boerewors kos ons hier omtrent R350 per kilogram. Alhoewel ons nooit vantevore so iets aangepak het nie, was hy vasbeslote om ons eie boerewors te maak. Etlike YouTube-video’s later, en ons koop die nodige by die supermark. Vir een of ander rede kon ons nie die derms by enige slagters te koop kry nie, maar wel by ’n hengelwinkel. Dit het ons ’n groot deel van die middag geneem om worsmaak onder die knie te kry, maar dit het gewerk! Ons eerste poging is getoets op ons gasbraaier, aangesien ons nie hier met kole mag braai nie. Ek reken dit was ’n reusesukses – selfs ons vriende was hoogs beïndruk. Dit was ook nie net ons vriende wat daaraan gesmul het nie. Ons het onlangs gaan kamp, en daar het ons die fout gemaak om ’n pakkie buite te los om te ontdooi. Ons het eers later besef ’n voël het waarskynlik die sakkie oopgepik, en ’n yslike gat uit die wors gevreet.

Werner en die boereworsproses.

Julle het onlangs lekker gaan kamp – het julle al jul kamptoerusting saamgeneem of nuut gekoop?

Ons is baie bevoorreg dat Werner se firma vir ons ’n redelike groot krat vir verskeping gereël het. Behalwe ons sentimentele goed, soos ’n paar skilderye wat my ma geverf het, asook kombuisware, en enkele meubelstukke, kom ons gholftoerusting en bergfietse binnekort. Daar was nie plek om die kamptoerusting ook in te stop nie. Dus moes ons die basiese hier aankoop, selfs ’n braaiertjie en opblaas-kajak. Dit is ook dalk beter so, want die skip was ’n tydjie gelede nog in Hong Kong, op pad hierheen. Ná vyf maande in Kanada hoop ons om volgende maand die res van ons besittings te kry.

Die kampering in Kanada is wel nie ’n ATKV-ervaring nie. Ons kon nog lag oor die voëltjie wat ons wors beet gehad het, maar die bere is nou besig om uit hul winterslaap te kom. Ons het besef hoe versigtig ’n mens moet wees, en die volgende paar dae ons kos en eetgoed liewer in die kar toegesluit. Dit is baie moontlik dat ’n mens andersins terugkom by ’n verflenterde tent.

Ons het onsself ook die eerste aand misgis met die koue. Ons nuwe slaapsakke kan blykbaar gebruik word in -4°C, maar hoewel dit nie eers naastenby so koud geword het nie, het ons heel nag gebibber. Die volgende oggend moes ons maar terugry tot in die dorp, waar ons ’n dik kombers gekoop het. Die res van die naweek kon ons darem ’n ordentlike nagrus inkry om die aktiwiteite van die dag te geniet.

Cultus Lake Provincial Park, waar ons die Victoria Day- (23 Mei) langnaweek gekamp het.

Die natuurskoon van Cultus Lake Provincial Park is iets om te beleef. Die weer het mooi saamgespeel, en ons het ure in die son langs die water deurgebring. Daar is ook heelwat staproetes om aan te pak. Ons het besluit om Teapot Hill uit te klim, ’n roete met versteekte teepotte en teekoppies. Soos tipiese Suid-Afrikaners, het ons ook elke aand gebraai en ’n drankie om die vuur geniet.

Vertel ons bietjie watter werk jy doen en hoe verloop ’n tipiese dag?

Ek het in Kanada gearriveer met ’n werkvisum, en op die lughawe is ’n werkspermit aan my uitgereik. Ek kon bykans dadelik CV’s na regsfirmas in Vancouver uitstuur. Ek was gelukkig om redelik gou ’n pos as regsklerk te kry, met spesialisasie in immigrasie. Hoewel my werkgewer in Vancouver gesetel is, hanteer ons voornemende immigrasievisumaansoeke namens ’n baie groot Amerikaanse – eintlik internasionale – maatskappy. 

Ek is verantwoordelik vir die opstel van die aansoeke, sowel as kommunikasie met die werknemers en hul bestuurders vir die verkry van stawende dokumente. Ongeveer die helfte van die week werk ek tuis, en die ander dae maak ek gebruik van die SkyTrain om by die kantoor te kom. Die biblioteke hier is baie indrukwekkend. Ek neem gereeld nuwe boeke uit, selfs Deon Meyer, en ek kan rustig op pad kantoor toe sit en lees.

Hoe het jy ingeskakel en vriende gemaak in die proses?

“When in Rome, do as the Romans do.” Dit is belangrik om vinnig in te skakel by die plaaslike aktiwiteite. Hulle noem dit nie verniet “Raincouver” nie, maar ’n mens kan nie wegkruip vir slegte weer nie. Ons het staproetes aangepak waar die sneeu amper die boomtoppe toemaak, en dan geniet ’n mens eers ’n fles koffie op die piek van die berg. Ons het die Chilliwack Tulip Festival, die grootste tulpfees in British Columbia, bygewoon, waar letterlik miljoene tulpe elke jaar geoes word. Verskillende sporte word ook dwarsdeur die jaar gespeel in groot stadions. Ons moes natuurlik die atmosfeer gaan beleef, en ons het reeds ’n lacrosse– en ’n sokkerwedstryd bygewoon. Ons gaan binnekort ook ’n groot internasionale perdeskouspringkompetisie bywoon. Ek het self weekliks les gehad in Suid-Afrika, en hoewel dit vier keer duurder is hier, het ek my oë toegeknyp en aangesluit by perdrystalle, waar ek mede-perdeliefhebbers leer ken het.

Hoewel Kanada absoluut massief is, is die wêreld eintlik maar klein. Ons het bevriend geraak met mense deur ’n Facebook-groep met die naam South Africans living in Vancouver, en toe besef ons is verlangs familie – soort van. Hierdie selfde groep het ook iemand anders oor ons pad gestuur wat saam met my eie neef op skool was. Werner het ook kontak gemaak met ’n ander Suid-Afrikaner by sy firma, en hy het ons vinnig betrek by hulle vriendekring. Soort soek soort, en sodra Suid-Afrikaners bewus raak van nuwe Suid-Afrikaners hier, word hulle sommer dadelik genooi vir ’n braai.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Dis natuurlik deesdae makliker om met familie en vriende wat ver is, kontak te hou deur sosiale media. Ons kan die verlange makliker onderdruk met WhatsApp-video-oproepe. Dis ongelukkig net nie dieselfde as persoonlike kontak nie. Ons mis die nabyheid van ons mense, die vinnige inloer vir ’n koffie of braai, en die wete dat jou ondersteuningsnetwerk altyd binne bereik was. Hier sit Werner een aand effens nukkerig op die rusbank (sien, hy het toe wel ’n mooi bank vir my in Kanada gekoop) terwyl ons besluit wat om vir aandete te maak. Hy kla toe, “Nou moet ons ’n ekstra aand kosmaak, want in Suid-Afrika kon ons maar sommer net by jou ma gaan eet!”

Die stad se liggies soos gesien uit ons woonstel (en die nuwe bank).

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Oostenryk

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest