Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Mar 15, 2024

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Renzo Harmse, wat saam met sy vrou, Kayla, in Malta woon.

Hallo, Renzo! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Malta te gaan woon?

Ek kom van die Drakensberge af, maar ek het grootliks in Johannesburg grootgeword. Kayla kom grotendeels van Phalaborwa af. Die Mediterreense lewe het ons gelok, want Kayla duik graag en ek is ’n goeie pos hier aangebied. Toe trek ons in 2022 van Dubai af hierheen.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?

Ek werk saam met een van Malta se bekendste leierskap- en uitvoerende afrigters. Ons help uitvoerende hoofde om hul ondernemings beter te bestuur en help die bestuurspan om beter leiers te wees. Ek werk daaraan om die onderneming te laat groei hier in Malta, maar ook Dubai, Ysland en selfs Suid-Afrika.

Die lewe in Malta is baie rustig, behalwe vir die feit dat hier meer voertuie as mense is, so jy reis 20 km in een uur. Ek en Kayla bestee baie tyd saam met ons honde en gaan graag op uitstappies in ons viertrek. Ons is baie avontuurlustig en spring valskerm of klim berg, en ons probeer ook soveel moontlik ander lande sien. Omdat alles in Europa so naby is, maak dit dinge makliker vir ons om te kan toer.

Was die werkskultuur ’n aanpassing?

Die pas van sake hier is baie rustig en baie meer informeel. Die aanpassing in enige nuwe land is natuurlik die mense en hul kultuur, en hier moes ons gewoond geraak aan hoe Maltese goed sê. ’n Bekende sê-ding is “Mela”, wat geen betekenis het nie, maar in elke sin bygevoeg word. In die sakewêreld kan dit ja of nee wees, soortgelyk aan ons ja-nee. Ek en Kayla pas baie maklik aan, ons assimileer goed en ons respekteer elke land se wyse van dinge doen.

Voordat julle in Malta gewoon het, het julle eers in Egipte gebly, en toe ’n groot geleentheid in Dubai gekry. Vertel ons meer.

My en Kayla se liefdesverhaal het in 2009 begin. Ons het gedurende die inperking in 2020 bymekaargekom en toe besluit: Nou gaan ons saam deur die wêreld toer. Kayla het in 2021 ’n skoolgeegeleentheid in Egipte gekry. Ons het Alexandria toe getrek en daar het ons reis begin. Vrouwees in Egipte is moeilik en niemand verstaan Engels nie; Kayla het selfs begin Arabies leer om vir ons ’n taxi by die huis te kry. Agt maande later verhuis ons Dubai toe, waar ek ’n geleentheid gekry het om bemarking vir ’n maatskappy te verbeter. Die lewe in Dubai is liberaal, so om aan te pas was eenvoudig en ons het so baie Suid-Afrikaanse vriende daar ontmoet. Ons het ski- en woestynbraaivriende en selfs ons vriende Johnny en Zonja by ’n Jonathan-optrede ontmoet, met wie julle ook gesels het. Ons is meer eilandmense en Dubai is so warm; so, ’n jaar later verhuis ons grotendeels omdat ons nie baie van die leefstyl in Dubai hou nie, alhoewel ware vriendskappe daar gevorm is.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Die kultuur, mense se denkwyse en gewoontes verskil. Mens moet jouself maar in die buiteland gedra! Ons moes tydens Dubai se Eid-vakansie nie gedurende die dag eet nie, want hulle vas in die dag in hierdie tyd. Dit was vir my moeilik gewees, want ek eet graag. Mens het nie ’n ondersteuningstruktuur nie; jou familie is ver. Dit het natuurlik gemaak dat ons huwelik baie sterk staan, want ons dra mekaar as ons alleen voel. Ons het ook geleer dat dinge uitwerk soos wat dit moet as dit kom by vreemde aanpassings. Ons pas daagliks aan en ons kuier graag hier met ons familie wanneer ons hulle hierheen kan bring.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Die leefstyl, veral in Malta, is baie rustig. Dis ’n klein eiland en in die somer is dit net vakansiegangers wat duik en reis op waterponies en vierwielmotorfietse. Die misdaad is natuurlik ook minder. Ons het egter ’n Spar en ons braai ook graag op die strand. Die lewenskostes kan duur wees: ’n lekker kos byvoorbeeld R100. Ons het egter al geleer om geldeenhede nie te vergelyk nie, want dit sal jou skok en maak dat jy nie wil gaan uiteet nie. Aan die ander kant het ons ’n lugdiens wat kaartjies Griekeland toe spotgoedkoop verkoop, so toer is vreeslik goedkoop in vergelyking met ander vastelande.

Hoe verskil die kossoorte in Malta van dié in Suid-Afrika? Is daar enige interessante disse daar wat jy geleer het om te maak?

Ons eet graag ’n lekker olierige pastei met die naam pastizzi hier in Malta. Jy eet jouself trommeldik vir R28. (Sien die foto hiernaas.) Die verskeidenheid van kos is groot; hier is Italiaanse, Arabiese invloed in die restaurante, en baie Turkse kebabs, wat heerlik is! Ons braai ook ’n vleisie, maak ons eie biltong en voer almal wat hier kom ’n stukkie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

Die familie en vriende – en ’n Steers-burger, natuurlik! Mens verlang na almal se kinders en mens mis die troues en netbalproewe, jong. Ons laaste groot affêre was ons troue en afskeid, toe ons almal bymekaar was. Mens besef hoe kosbaar jou mense is as jy so toer.

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?  

Ná byna vier jaar van toer loop ons oral Suid-Afrikaners raak en leer mense van oral oor die wêreld ken. Dis so interessant om mense van ons land tussen Italianers of Duitse in die snaaksste plekke te ontmoet. Dan kuier ons maar saam en maak goeie pelle, met wie jy lewenslank kan braai, hetsy in die woestyn in Dubai of op die strand hier in Malta – of sommer hier in ons klein erf met ’n stukkie biltong in die hand. Huis bly waar die hart is; ons kan ’n stukkie van Suid-Afrika oral kry.

Enige lesse wat julle geleer het?

As mens die geleentheid kry om te toer – doen dit! Gaan sien die wêreld, beleef verskillende disse, mense, kulture en leefstyle. Geniet elke oomblik en sien dit as ʼn leerkans om die wêreld te gaan verken, want mens weet nooit waar die pad jou vat nie.

Ons is dankbaar vir die geleentheid om ons storie met julle te deel. Ons mis ons land en mense, en ons hoop om van julle binnekort hier op die eiland te sien!


Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Melbourne

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest