Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Nashville

Jan 12, 2022

Hierdie week gesels ons met Suzanne van Heerden in Nashville, Tennessee in die VSA. Sy vertel ons van haar internskap by die Gaylord Opryland Resort en hoe sy haar man in ’n roomyswinkel ontmoet het.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Ek woon tans in Nashville, Tennessee. Ek is na ek my honneursgraad voltooi het in 2017 aanvaar om in 2018 ’n internskap by die Gaylord Opryland Resort in Nashville te voltooi. Ek het nie ander keuses gehad as Nashville nie en dit is hoe ek hier beland het. So om en by halfpad deur my internskap het ek my man ontmoet deur ’n gemeenskaplike vriend in ’n bekende roomyswinkel. Die koeël is toe deur die kerk en ek het besluit om my visum te verleng vir ’n tweede jaar en aan te bly om ’n jaar as au pair te werk wat toe later twee jaar geword het. Ek en my man is toe hierdie jaar getroud en ek is tans besig met my aansoek vir my groenkaart.

Was dit ’n groot aanpassing?

Ja, en dit bly ’n groot aanpassing. Ek dink dit sal altyd vir my ’n aanpassing wees. Party dae is beter as ander maar die kultuurskok is baie groot. Ek is baie dankbaar dat ek in die Suide beland het. Die mense in hierdie gedeelte van Amerika is ongelooflik gasvry en vriendelik. Dit is ook vir my moeiliker om aan te pas omdat dit nooit my bedoeling was om te immigreer nie. Ek is baie lief vir Suid-Afrika en het nooit daaraan gedink om ooit te immigreer nie. Ek sal enige dag terugtrek. Wie weet dalk tree ek eendag daar af.

Is daar ander Afrikaners in Nashville?

Ja, Nashville het ’n redelike groot Afrikanergemeenskap wat by die dag groei. Ons het ’n Facebook-groep van sowat 700 lede en dit is net dié wat wel Facebook het. Ons het ook jaarlikse Afrikanerbyeenkomste en braais. Ons het elke maand ’n Tannies Tea wat die dames van Suid-Afrika kan bywoon. Hierdie lekker tee en koek word elke maand deur ’n nuwe persoon aangebied. Ons kyk ook gedurig die Springbok-rugbywedstryde saam wat altyd lekker gesellig is. Dit is ook lekker om in my huistaal te kan praat. Afrikaans is darem maar ’n mooi taal!

Hoe verskil die werkskultuur in Nashville van die werkskultuur in Suid-Afrika?

Om eerlik te wees het ek nog nie ’n ‘regte’ werk hier gehad nie. Maar as ek meer detail oor my internskap kan verskaf, kan ek wel sê dat die gasvryheids-/hotelbedryf is hier in die VSA maar ’n baie mededingende bedryf is waar jy lang ure werk en jou skedule weekliks verander. Natuurlik soos enige hotelbedryf werk jy maar naweke en jy rus in die tyd wat jy af het. Ek voel in die VSA verskil die kultuur want hier is dit elkeen vir homself waar in Suid-Afrika dit weer die teenoorgestelde is want ons kyk mooi na ons mense. Ons in Suid-Afrika is ook baie stiptelik waar hulle hier net nie veel omgee nie. Ons is ook goedgemanierd. Ek voel tydens my internskap was mense nie juis goedgemanierd nie. Hulle ken nie “Dankie”, “Hoe gaan dit?”, of “Geniet jou dag” nie. Ons kry ook baie meer tyd af/vakansietyd in Suid-Afrika. Hier is dit werk, werk, werk 24/7.

Waarna verlang jy die meeste?

Hierdie is in alle eerlikheid ’n moeilike vraag om te antwoord. Eerstens, my gesin. Ek het my gesin in Januarie 2018 laas gesien. Tweedens, die wildtuin. Die wildtuin lê my na aan die hart! Ek is baie lief vir die wildtuin. Ek het in die Laeveld grootgeword en omtrent elke Sondag vir die dag deurgery wildtuin toe. Ek reël nou my Suid-Afrikaanse troue in die wildtuin in 2023. Ek verlang na die mense, die diversiteit, ons ongelooflike kultuur, kos en wyn. Ek verlang na die reuke van die Bosveld en die reuk van die reën. Ek verlang na ’n regte Bosvelddonderstorm. Ek kan aangaan en aangaan maar die lys is oneindig. Ek verlang na alles. Ek verlang soms so baie dat ek seker maak ek mis nie ’n episode van SafariLive op YouTube nie.

Is dit duur om daar te woon?

Ja en nee. Toe ek my internskap gedoen het, was dit vir my duur gewees omdat ek ’n minimum loon verdien het. Met my aankoms in die VSA het ek alles vergelyk en omgesit van rand na dollar toe wat ’n groot fout is, want dan kan alles op die oog af baie duur lyk maar jy moet onthou jy verdien in dollar en nie in rand nie. Inkopies is ook vreeslik duur hier in vergelyking met Suid-Afrika. Sekere goed soos medies is weer baie duur in die VSA maar dit is om’t ewe. Elke staat verskil ook vreeslik in terme van belasting. Tennessee oor die algemeen is ’n heel bekostigbare staat in vergelyking met ander state soos Kalifornië en New York. Maar ai! Ek weet nog steeds nie hoe werk die dollar nie. Ek dink nie ek sal ooit weet nie.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek kom van ’n baie klein Laeveldse dorpie af, Graskop in Mpumalanga. Ek bly nog my hele lewe lank daar totdat ek Nashville toe gekom het.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest