Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Okt 11, 2022

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Derika de Villiers wat in Zaandam, Nederland woon.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Ek woon nou in Nederland. Ek het drie jaar terug saam met my kêrel na Nederland verhuis nadat hy ’n wonderlike werksgeleentheid by ’n internasionale maatskappy gekry het. Ons avontuurlustige gesindheid het ons oortuig om die onbekende te verken.

Was dit ’n groot aanpassing?

Dit was ’n groter aanpassing as wat ek myself aanvanklik oortuig het. Ons het ’n gevestigde lewe in Suid-Afrika gehad en moes weer van voor af onsself hier inrig en vestig; ’n nuwe land, ’n nuwe taal, ’n nuwe buurt, fietsry in plaas van in jou motor spring, ’n nuwe ondersteuningsnetwerk vorm, asook ons nuwe professionele landskappe verken.

Vertel ons meer van jou gesin?

Ek is getroud met ’n wonderlike man, ons albei het in Pretoria grootgeword. Aan die begin van die jaar het ons ’n dogtertjie in ons gesin verwelkom.

Praat julle nog Afrikaans?

Afrikaans is ons moederstaal en die taal waarin ons onsself die beste uitdruk. Ons praat daagliks Afrikaans, net nie in ons huis nie, maar ook in ons Afrikaanssprekende vriendekring hier in Nederland.

Ek is baie gelukkig om ook in Afrikaans te kan werk. Ek het ’n psigoterapiepraktyk in Amsterdam en sien weekliks Afrikaanssprekende ekspats wat ondersteuning nodig het in Nederland en verkies om hulself nes ek, in hul moedertaal uit te druk.

Ons praat die meeste van die tyd Afrikaans. Ons praat ook Engels by die werk en met ons internasionale vriende en dan leer ons Nederlands praat.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

Ons families bly in Suid-Afrika. Ons gaan kuier eenkeer ’n jaar in Suid-Afrika vir twee tot drie maande omdat ons aanlyn kan werk en nie noodwendig elke dag op kantoor hoef te wees nie. Dit is ’n wonderlike vooruitsig om so veel as moontlik tyd saam met ons families te kan deurbring, verjaarsdae saam te kan vier, nie op ’n Sondagbraai hoef uit te mis nie en ook deur ons pragtige land te kan toer.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nederland. Kom julle soms bymekaar?

Hier is vreeslik baie Suid-Afrikaners in Nederland. Jy loop hulle raak in die winkels, op straat en op openbare vervoer. Bekende Suid-Afrikaanse musiekgroepe hou ook gereeld hier vertonings. Ons het verlede maand Spoegwolf en Jeremy Loops gaan kyk en dan is dit so lekker om jou moedertaal te hoor, ’n vriendelike glimlag te deel en saam te kan sing in jou taal. Ons het ook ’n groot Suid-Afrikaanse vriendekring wat soos familie vir ons is. Ons was baie gelukkig dat ons vinnig kon inskakel by ons vriendekring. Die meeste van ons Suid-Afrikaanse vriende was saam met ons op hoërskool so dit was ’n maklike en bekende inskakeling – ’n pot goud! Ons het ook ’n  groep internasionale vriende met wie ons lekker saam kuier. Ons braai saam, kuier saam en toer saam in Europa. My man is deel van ’n Suid-Afrikaanse skietspan. Ons maak ook ons eie biltong, malvapoeding en “peppermint crisp”-tert as ons almal saam kuier. Suid-Afrika is ons kultuur en ons wortels al bly ons ver.

Vreemdste om aan gewoond te raak?

Sjoe, aan die begin was dit om weer fiets te leer ry en dan orals fiets te kan ry – werk toe, winkels toe, parke toe en na vriende toe. Om elke week pos te ontvang. Om jou inkopies self te skandeer, te betaal en uit die winkel te stap.

Het julle nog kontak met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom?

Ons het nog baie kontak met Suid-Afrika. Ons lewe ’n parallelle lewe op die oomblik. Ons familie en van ons vriende bly nog in Suid-Afrika. Ons is gereeld besig met WhatsApp-video’s om weekliks in kontak te bly en ons verhoudinge met ons geliefdes en hartsmense te onderhou. Ons geniet die avontuur waarop ons is en wie weet waar ons oor vyf jaar sal bly en lewe. Niks is permanent nie en as ons ongelukkig is hier, dan sal ons kyk watter geleenthede beskikbaar is in Suid-Afrika of êrens anders.

Kry julle kans om te reis?

Ons reis soveel as wat ons kan. Ons geniet dit vreeslik om te reis en nuwe omgewings, kulture en kos te verken. Nederland het maklike toegang tot ander Europese lande en jy kan sommer net op ’n trein spring Vrydag ná werk en die naweek in ’n ander land deurbring. Ons was al in België, Duitsland, Ierland, Frankryk, Oostenryk, Griekeland, Estland, Spanje en Italië. Gedurende Covid was Nederland se grense toe en het ons gereeld op ’n trein gespring en Nederland verken.

Waarvan hou julle die meeste van julle lewe in Nederland?

Om veilig te voel. Dit het my ’n jaar gevat om gewoond te raak aan die gevoel van veiligheid. Dit is ongelooflik kosbaar vir ons. Om nie oor jou skouer te loer of bang te wees nie. Om alleen in die aand te stap of fiets te ry. Om nie mense rondom jou se voornemens te betwyfel nie.

Was dit moeilik om daar aan te pas?

Dit hang van persoon tot persoon af. Ek sien baie Suid-Afrikaners vir psigoterapie wat sukkel om te integreer – dit is ’n groot aanpassing en dit neem tyd. Op ’n persoonlike noot was dit moeilik vir my om hier aan te pas omdat ek ’n gevestigde lewe in Suid-Afrika gehad het. Dit het ’n ruk vir my geneem om my voete hier te vind. Ons het diep wortels in Suid-Afrika en alhoewel ons ’n wonderlike avontuur in Nederland het, is daar altyd dinge wat ons mis en waarna ons verlang. Dis ’n wins aan die een kant en ook terselfdertyd ’n verlies.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Jou lewenskoste hang van jou lewenstyl en jou lewensfase af. Om uit te eet by ’n  restaurant is vreeslik duur maar die rentekoerse is weer baie laag hier. Pampoen is baie duur hier maar soetrissies is weer goedkoper. Jou medies is baie goedkoper maar jy is gelukkig as jy iets anders as parasetamol (Panado) by jou huisdokter kry, ongeag wat jou kwaal is. Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. My man se altyd: “Die gras is groener in Nederland want dit reën so dikwels hier!”

Wat is die grootste verskil van julle lewe in Suid-Afrika?

Die grootste verskil is dat ons so baie kan reis. Dat ons blootgestel word aan so baie nuwe kulture hier in Nederland, ook ander maniere om dinge te kan doen. Hier is ook nie plek vir kans vat nie, die reëls is die reëls en almal hou daarby.

Wat doen jy vir ontspanning?

Daar is nie veel tyd in die week vir ontspanning met ’n baba nie. Op naweke kuier ons wel saam met ons vriende. Hier is soveel gebeure in Amsterdam en ons geniet dit om feeste, markte en museums te besoek. Ons het ook ’n boot saam met drie ander Suid-Afrikaanse paartjies en geniet dit vreeslik om in die somermaande in die kanale op Ubuntu te vaar. Ek is ook tans besig om al Marita van der Vyver se boeke te lees en moet Afrikaanse boeke saam met my oorvlieg elke jaar – dit is definitief die moeite werd!

Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?

’n Tipiese dag sal van die seisoen afhang. Jou lewenswyse hier lyk heeltemal anders in die somer as in die winter. In die oggende bring ek tyd saam met my baba deur. Sy gaan wel twee keer ’n week skool toe en dan kan ek die oggende gebruik vir my eie tyd. Weeksdae sal ek so om en by middagete se kant praktyk toe gaan en terapie doen tot 18:00 in die somersmaande en 17:00 in die wintersmaande. Ek bly in Zaandam, so ek ry fiets tot by die treinstasie en neem dan ’n trein tot by Amsterdam Sentraal. Dit is ’n vinnige rit; twee stoppe op die trein dan is ek op Amsterdam Sentraal. ’n 12 minute treinrit. My praktyk is naby aan die treinstasie, so ek stap sommer tot by my praktyk. In die somer sal ons gereeld op Ubuntu gaan vaar of aandete in die park eet saam met vriende. In die wintermaande bring ons minder tyd buite deur omdat dit so vroeg donker raak.

Derika is ’n Afrikaanssprekende kliniese sielkundige wat aangesig-tot-aangesig en aanlyn terapie bied aan tieners, volwassenes, paartjies en ekpats wat depressie, angs, trauma of verhoudingsprobleme ervaar. Besoek gerus haar webtuiste om haar te kontak.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit China

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest