Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Oman

Jan 31, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het.  Hierdie week gesels ons met Erika le Grange van Oman.  Sy is al vir vyftien jaar ’n onderwyseres in die Midde-Ooste. Sy vertel ons van haar verlange na Saterdae se rugby, braai en lekker Suid-Afrikaanse wyn.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Ek is al vir vyftien jaar ’n onderwyseres in die Midde-Ooste. Dit was lekker om saam met my suster oor te kom en die ervaring vir ’n paar jaar saam te deel. Ek was eers in Katar. Tans is ek in Oman en ek woon in Muskat. Oman is die juweel van die Midde Ooste met baie mooi berge, woestynduine en strande. Omane is baie vriendelik en is westerlinge baie goedgesind. Ek woon hier vir die avontuur en reismoontlikhede, en ek kan genoeg geld spaar vir wanneer ek teruggaan huis toe. In die Midde-Ooste kry mens nie permanente verblyfreg nie en kan jy ook nie immigreer nie. Jy kry dus net ’n werkvisum wat hernu word.

Was dit ’n groot aanpassing?

Toe ek die eerste keer in 2007 in Katar geland het, het dit gevoel of ek in ’n warm oond instap toe ek uit die vliegtuig geklim het. Dit is ontsettend warm hier en voel of die plek net duskant die hel is. Somertemperature wissel tussen 40 en 55 grade Celsius en die humiditeit is baie hoog. Gelukkig is daar lugverkoeling in al die geboue, wat dit draagliker maak. Donderdag wat Vrydag is en Vrydag wat Saterdag is bly steeds vreemd en mens noem nog steeds Sondag Maandag. Om Sondag te werk voel ook baie vreemd. Vroue wat nie Moslem is nie, hoef nie hulself te bedek nie, maar mag geen bene of skouers wys in die openbaar nie. Dit verg nogal klerekasbeplanning en kan jou selfs ’n groot ’n boete op die hals bring as jy nie die reël toepas nie. Bestuur in die verkeer hier is senutergend. Daar bestaan nie so iets soos om net gou-gou winkel toe te gaan nie. Winkels bly oop tot baie laat in die aand en dit is snaaks om mense nog laat aand te sien woel in die winkels. In staatsdepartemente is daar aparte rye en sale vir mans en vrouens, wat meen dat vrouens baie vinniger gehelp word. Die kraanwater hier is ontsoute water uit die see, so mens kan net gebottelde water drink. Sandstorms kan ook nogal erg wees. So, die kultuurskok was groot!

Wat geniet jy die meeste van die lewe in Oman?

Deur hier te woon en skool te hou verbreed ek my horisonne en persoonlike groei. Ek geniet dit om mense van regoor die wêreld te ontmoet, die uitspattige winkelsentrums en die warm seewater. Alles is baie skoon en die infrastruktuur is merkwaardig. Die lewe hier is baie rustig en veilig. Arabiese kos is nou nie juis na my smaak nie, want alles word bedien met geel rys. ’n Mens kry darem baie Suid Afrikaanse produkte hier soos Mrs Balls, rooibostee en ook boerewors en biltong as jy mooi soek. Jou salaris is belastingvry en onderwysers word goed betaal. Dit maak die opoffering die moeite werd.

Waarna verlang jy die meeste?

Ek mis sommer alles van ons mooi land! Ek verlang die meeste na my familie en vriende. Ek mis ook die vryheid van net menswees en lewe sonder al die inperkings en reëls. En natuurlik Saterdag se rugby, braai en ons lekker wyn

Wat doen julle vir ontspanning op ‘n naweek?

Hier leef jy vir die naweek wat Donderdag begin. Jy vat die pad na die mooiste strand en dit is soos ’n vakansie op ’n tropiese eiland. Die water is helder en voel amper soos badwater, maar dit kan te warm raak in die somermaande. Vrydae is daar ook buffetetes by die hotelle wat baie gewild is, maar dit is vir my net te duur om gereeld te gaan. Ek verkies om eerder tyd in die natuur deur te bring soos snorkel, ’n bootrit of om net lekker te ontspan op ’n strand.

Is dit duur om daar te woon?

Dit het regtig baie duur geraak om hier te bly, veral sedert hulle verkoopsbelasting en sondebelasting ingebring het. Klere is ook baie duur, as jy dit vergelyk met Suid-Afrikaanse pryse. Selfs die prys van brandstof, wat eens spotgoedkoop was ’n paar jaar terug, is hoër. Om alkohol te koop moet jy betaal vir ’n lisensie en dié verbode proviand is vrek duur hier. ’n Glas wyn sal jou R150 uit die sak jaag. Al die kuierplekke wat alkohol bedien is in die luukse hotelle, en ’n aandjie uit kan jou ’n klein fortuin kos.

Hoe het jy dit oorleef met die uitbreek van Covid?

Dit was die moeilikste tyd ooit toe die pandemie uitgebreek het. Die lewe het handomkeer verander en sal feitlik nooit weer dieselfde wees nie. Op 15 Maart 2019 het die skole toegemaak en ek sal dit nooit vergeet nie. Ons moes aanlyn skool gee sonder enige tyd vir opleiding of kennis daaroor. Ek moes baie vinnig leer en aanpas. Dit was baie harde werk en ure en ure van sit om die werk voor te berei. Die inperking was baie erg toe alles toegemaak het en die strate grafstil raak vir ’n maand. Jy mag net winkel toe gegaan het vir kos. Ek het elke dag gewens ek was eerder in SA. Dit was vir my baie hartseer en die verlange was erg. Ek kon nie huis toe gaan vir die twee maande lange somervakansie nie. Wetgewing is baie streng hier en jy mag nêrens gaan sonder ’n inentingsbewys nie. Om na Suid-Afrika te vlieg vakansie tye is baie moeilik, want vlugte word nog steeds laaste minuut gekanselleer. Ek was baie gelukkig, met baie opdraandes, om darem elke Kersfees saam met my familie te vier in SA.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek is van Kaapstad en die rede waarom ek besluit het om my vlerke te sprei, was om die wêreld te kom verken en self te beleef. Ek sien baie uit om terug te keer na Suid Afrika wanneer hierdie boek toegemaak word.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Deur Tanya Viviers Die bundel bevat elf nuutgeskrewe dramas met as sentrale tema tieners se smagting na aanvaarding en om as jong volwassenes in die samelewing hul eie identiteit te vind. Die tekste wys onder meer hoe tieners as helde en gewilde mense deur hul...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest