Leesvordering:

Uit en Tuis: ʼn E-pos uit Suid-Korea

Aug 1, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waarin ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Hilde Conradie wat in Suid-Korea woon.

Hallo Hilde, vertel ons waar in die wêreld jy woon en hoekom juis daar.

안녕하세요 (annyeonghaseyo)! Ek bly tans in Daegu, Suid-Korea. Ek is ’n Engelse onderwyser by ’n kleuterskool hier.

Om in ’n nuwe land aan te pas, kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Ek dink een van die grootste uitdagings vir my was om die eerste paar keer inkopies te doen. ’n Mens is gewoond daaraan om in ’n winkel in te stap en eiers en melk te gryp, maar dan kom jy hier by die huis en sien die hele dosyn eiers is reeds gekook en die melk is van sojabone gemaak. As jy gelukkig is, gooi hulle ’n Engelse woord of twee op die verpakking, maar die meerderheid van produkte se etikette is in Koreaans. Op die ou end spandeer jy ure in die supermark om alles te Google Translate en jou te vergaap aan alles wat ons nie by die huis het nie. Snaaks genoeg het dit een van my gunstelingtydverdrywe geword.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?

Ek is ’n onderwysers by ’n Engelse kleuterskool. My klassie het agt studente in wat vier jaar oud is. (Volgens die Koreane is hulle vyf jaar oud, want hulle ’n mens is by geboorte reeds een jaar oud.) My dag begin teen 09:30, gewoonlik met groet en die sing van ’n paar Engelse liedjies. Daarna het ons “snack time” en die kindertjies kry melk en een of ander peuselhappie. Dan het ons drie klasse wat wissel tussen phonics, drama, storybook, maths, arts, gym en science. Na die drie klasse het ons middagete bestaande uit tradisionele Koreaanse kos, en dan nog twee klasse.

Na skool gaan die klein kindertjies na ’n naskoolse program. Ek spandeer die res van die middag in die skool se biblioteek waar ek laerskoolkinders help om te leer lees en hulle begrip van wat hulle lees toets. My werksdag eindig teen 17:45.

Ek en my vriende gaan baie keer na skool uiteet. Die uiteet- en koffiewinkel-kultuur is baie groot in Korea, waarskynlik omdat die huise te klein is om te onthaal. So daar is altyd ’n nuwe plek wat ons wil uittoets.

Die lewe in Korea is baie gemaklik. Alles werk. Dis skoon en veilig. Die openbare vervoer is fantasties. Jy kan enige plek kom met ’n bus, trein of taxi. Dit maak dit maklik om vinnig vir ’n naweek weg te breek na ’n ander dorp toe.

Was dit moeilik om daar aan te pas of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Ek dink aan die begin is dit maar vir almal moeilik. Jy klim van die vliegtuig af en al wat jy het, is wat jy in jou sak gepak het. Jy staan in ‘n straat en voel oorweldig deur al die liggies en kragdrade. Jy sit in ’n restaurant en kan nie die spyskaart lees nie, want dit is nie net in ’n vreemde taal nie maar ook in ’n vreemde alfabet geskryf. En dan kom jy by die “three-months blues” en vra jouself oor en oor huilend af: “Hoekom het ek dit gedoen? Hoekom het ek hierdie lewe gekies?” Maar jy druk deur. En dan kom daar ’n dag wat jy besef jy kan ’n straatnaam of padteken wat in Koreaans geskryf is, lees, en jy kan in gebroke Koreaans nog ’n bier bestel. Dan besef jy dis nie so sleg nie en ’n mens raak alles mettertyd gewoond.

’n Mens ontmoet mense van reg oor die wêreld hier en bou bande wat vir ewig sal hou. Jy maak herinneringe waarvan jy vir almal wil vertel en het ervarings wat jy nooit sal kan koop nie. Dis baie maklik om by die ekspat-gemeenskap in te skakel. Almal is in dieselfde bootjie: in ’n vreemde land, weg van jou mense en alles wat bekend is. Dis hier waar vriende familie word.

Die taalverskil maak dit ongelooflik moeilik om deel van die Koreaanse gemeenskap te raak, maar elke nou en dan bring die oom by my gunsteling BBQ-restaurant vir my iets verniet, of die tannie by my supermark probeer my in haar gebroke Engels ’n kompliment gee. Sulke oomblikke is altyd vir my so mooi; dan weet ek al verstaan ons mekaar nie, kan jy steeds vriendelik wees en op ‘n ander manier sê: “Ek herken jou. Ek kan nie met jou praat nie, maar hier is iets kleins om te sê ek hou van jou.””

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis dit om saam met my gesin in die tuin te sit en kyk hoe die voëls neste bou. Ek mis die platteland met al die mielies en sonneblomme. Ek mis die sonsondergange wat jou asem elke dag van vooraf wegslaan. Ek mis dit om in ’n winkel of restaurant in te stap en te weet die persoon agter die toonbank gaan my verstaan. Ek mis my mense, die plaas, my taal en my ma se kos.

Enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Korea was nooit boaan my lys nie. Ek het baie min van die land geweet voor ek hier aangekom het, maar dit het my aangenaam verras. Dis ’n pragtige, kultuurryke land met baie om te sien. Dis ’n land met ’n baie interessante geskiedenis en baie fassinerende tradisies en heerlike kos. Ek is so beïndruk met Korea dat ek nou al drie jaar hier is.

Herfs in Korea is vol geel Ginkgo-bome

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onthou helde soos Totius vandag op Taaldag

Onthou helde soos Totius vandag op Taaldag

Deur Alana Bailey Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig. Dit was die eerste amptelike poging om Afrikaans as volwaardige gebruikstaal op alle vlakke te vestig. In latere jare het die datum as Afrikaanse Taaldag begin...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. Saai gryp in by...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Kirsten Mocke wat tans saam met haar man in Ierland woon. Kirsten vertel ons meer van hul emigrasieproses en hulle lewe in...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest