Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Switserland

Nov 22, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Mahetgepraat se Michelle Vosloo in Switserland.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Tans woon ons in pragtige Switserland, ’n plek vol mere, berge, avonture, heerlike kaas en sjokolade. Siende dat die hoofkantore vir my werk hier geleë is, het hulle ons ’n paar jaar gelede genooi om ’n geleentheid hier op te neem.

Was dit ’n groot aanpassing?

Baie mense dink die gras is altyd groener aan die ander kant van die draad. Die waarheid is dat die gras orals groen is, die kleur en geur van die gras verskil wel. Die aanpassing was juis dalk meer uitdagend omdat hulle Frans praat. Omdat ons egter mense is wat die buitelewe geniet, was dit ook vir ons vol heerlike avonture. Die grootste uitdaging is om van nuut te begin met die belangrikste lewenslyn, jou mense. Familie is nou ver en die gemis bly altyd groot en gaan nooit weg nie, maar om nuwe netwerke en vriendskappe te bou vat ten minste nege maande plus. Gelukkig plaas God vir ons ’n familie orals oor die wêreld deur Sy Kerk en daarom was dit maklik om mede-Christene and Suid-Afrikaners hier te ontmoet en te bevriend. In die buiteland word jou vriende jou familie.

Jy het ’n Instagram-profiel/webtuiste genaamd Ma het gepraat. Hoekom juis die naam?

Die naam: Ons almal weet, as jou ma gepraat het, het sy gepraat! Dit sinspeel dat ons deesdae aanlyn oor enige iets kan praat, maar steeds die stem van ons moeders en onsself as ma hoor, wanneer “Ma gepraat het”.

Voel jy dat ekspatmammas genoeg van ’n ondersteuningsbasis het oorsee?

Geen ondersteuning kan dit wat jou eie mamma vir jou gee vervang nie en tensy die hele familie getrek het, sal daar altyd ’n leemte bly. Die res van die antwoord hang af van waar jy woon. In Switserland byvoorbeeld, is daar soveel hulp vir mammas wat geboorte gee. Vroedvroue kan jou by die huis besoek, jy kan kies om tot sewe dae in die hospitaal deur te bring as dit nodig is en oral is alles ingerig vir kinders. Daar is selfs speelparkies in sommige treine.  

Het jy enige raad vir mammas met klein babatjies wat emigreer?

Persoonlik sou ek ’n rukkie wag voordat ek emigreer met ’n klein babatjie. Dit is ’n groot aanpassing vir die mamma en die gesin om ’n nuwe mensie te verwelkom tesame met emigrasie en dit kan baie emosioneel uitdagend wees. As dit moontlik is, sou ek myself eers twee jaar gee en dan die emigrasie aanpak. Indien dit nie moontlik is nie en dis dalk moontlik om ’n grootouer oor te bring sodat hulle vir ’n lang ruk kom kuier, sou ek dit aanbeveel. ’n Mens het mense om jou nodig, slaap is min en die uitdaging groot terwyl jy jou beste wil gee en die ervaring geniet.

Wat doen julle vir ontspanning op ’n naweek in Switserland?

Switserland bied alles vir kinders en natuurliefhebbers. Binne minder as ’n uur kan jy in die berge wees en ski, oral rondom jou is fietsroetes en woude en jy is net vyf minute weg van die meer af as jy wil gaan swem. ’n Mens is omring met wonderlike parkies en avontuurplekke vir kinders om elke hoek en draai. Dit is super veilig, so ’n mens kan jouself gate uit geniet in die natuur. Al is dinge duur, is daar tonne gratis aktiwiteite wat jy in die buitelug kan geniet.

Waarna verlang jy die meeste?

Natuurlik verlang ’n mens die meeste na jou mense, maar behalwe vir hulle: die Bosveld! Ons was bevoorreg om in Sabie te woon voordat ons hierna verhuis het, so ek mis die wildheid, die Kruger en kaalvoet loop.

Is dit duur om daar te woon?

Switserland is vreeslik duur. Jou salaris maak dit moontlik om ’n gemaklike lewe te hê, maar daar is baie luukshede wat prysgegee moet word. Huishoudsters, tuiniere en kindersorg is amper onbekostigbaar wat veroorsaak dat daar soms net een ouer werk, omdat kindersorg soms dieselfde kan kos as ’n werkende persoon se salaris.

Wat is jou gunstelingdis wat jy in Switserland geleer maak het?

Fondue! Ek is nog altyd baie lief vir kaas en sjokolade, so dit was nou nie so ’n groot aanpassing nie en alte heerlik.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Oorspronklik is ek ’n Johannesburger, maar my hart sal altyd in Sabie en die Laeveld wees waar ons verlief geword het, huis opgesit het en met ’n gesin begin het. As iemand vra, is ek van daar! Ek is vreeslik lief vir Suid-Afrika, dis die land van my skedel, die land wat my gekoester het as ’n kind en wat my die opleiding, wysheid en ervaring wat ek vandag het gegee het. Switserland was ’n skuif as gevolg van ’n werksgeleentheid en nou is dit al ses jaar later wat ons steeds hierdie wonderlike avontuur kan beleef en geniet.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest