Leesvordering:

Uit en Tuis saam met René du Preez in Nieu-Seeland

Mar 10, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waarin ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met René du Preez wat saam met haar gesin in Blenheim op die Nieu-Seelandse Suideiland woon.

  1. Waar woon julle en waarom juis daar?

Ons woon in Blenheim op die Suid-Eiland van Nieu-Seeland. Ons het aanvanklik gekyk na Kanada en die Verenigde Koninkryk, maar op die ou einde besluit dat dit nie vir ons was nie. Eers was ons fokus om ons familie se toekoms te verseker êrens waar ons veilig en voorspoedig kon wees. Na ʼn ruk het ons besef ons sal moet kyk na plekke waar ons wíl wees eerder as net waar ons nié wil wees nie. Die faktore wat ons na Nieu-Seeland getrek het, was die beskikbaarheid van werk, die lewenstyl en die vryheid. Op daardie stadium was die werkloosheidsyfer 4%. Ook is hier ʼn fokus op werk/lewe-balans, die braai- en rugbykultuur is dieselfde, en ons kan vryelik ons geloof beoefen. Ons is ‘n gesin van vier – ons dogter is veertien en ons seuntjie is vyf. Hy was nog nie drie toe ons hier gekom het nie, so hy onthou nie veel van Suid-Afrika nie.

  1. Was dit ʼn groot aanpassing?

Ek het in Pretoria grootgeword en my man in Johannesburg. Ons woon nou in ʼn dorp met net 34 000 mense. Dit op sigself was ʼn aanpassing, maar Nieu-Seeland se hele bevolking kan in Gauteng pas! Daar is so net onder 5 miljoen mense in die hele land. Dit beteken dat jy baie moontlik dieselfde mense gereeld sal raakloop, en mense in jou industrie baie vinnig leer ken. Vir sommige mense is dit ʼn voordeel, maar vir ander kan dit baie vinnig ʼn bietjie benoud begin voel. My industrie het baie bemarkings- en kommunikasie-geleenthede maar my man se werk het min. Ons spot dat die hele Nieu-Seeland ʼn klein dorpie is. So vir stadsmense is dit ʼn redelike aanpassing. Ek moes ook gewoond raak aan vensters sonder diefwering en oop erwe. Dit was aanvanklik moeilik, want jy voel ontbloot en onveilig. Ek het gereeld wakker geword van elke geluidjie. Mettertyd besef jy dis onnodig en dan begin jy ontspan. Daar is ander aanpassings wat jy verwag het, soos dat jy nie jou gunstelinglekkers kan kry nie. Maar die klein-dorpie-ding en veiligheid was vir ons die grootste aanpassings.

  1. Praat julle nog Afrikaans?

Ons huistaal is steeds Afrikaans. Ons kan agterkom die kinders sukkel met die taal. Hulle sinskonstruksies klink soos ‘n direkte vertaling uit Engels. Dit sorg soms vir groot pret in ons huis! Hulle wêreld is Engels, en hulle hoor net omtrent 10% van die dag Afrikaans. Ons kyk Afrikaanse televisieprogramme en luister na Afrikaanse musiek. Dit is vir ons belangrik dat hulle die taal en kultuur behou, so ons doen tog moeite daarmee. Maar realisties gesproke weet ons dat hulle sal verengels.

  1. Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?

Die tydsverskil, o wee! In die somer verskil dit elf uur, en in die winter tien. Dit beteken terwyl dit dag is in Suid-Afrika, is dit nag by ons, en andersom. Daar is net ʼn klein venstertjie in die vroegoggend en in die aand om met almal kontak te hou. Jy kan nie net gou bel as iets jou byval nie. Jy kan nie net gou ʼn grappie WhatsApp nie. Dit verg baie om verhoudings aan die gang te hou en jy moet mooi koördineer om almal in daardie venstertjies in te pas.

  1. Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Dit is moeilik om die lewenskoste te vergelyk. As jy van rand na dollar probeer oorskakel, maak jy jouself mal. Gewoonlik kos 500 ml koeldrank byvoorbeeld so $3 (en 1,5 ℓ kos $2!). Maar as jy daardie bedrag as ʼn persentasie van jou salaris neem, is dit ʼn baie kleiner persentasie as in Suid-Afrika. Ons kry ook weekliks ons salaris, wat geweldig baie druk van ons afhaal. Ons betaal nie medies nie, slegs ʼn bedrag per besoek aan ʼn dokter vir die volwassenes. Ons betaal nie water waar ons bly nie, hoewel dit nie standaard is oral in die land nie. Ons het geen sekuriteitskostes nie, en versekering kos ons $12 per maand. Ons lewensversekering is $19 per maand. Skole is gratis, oftewel jou belastinggeld betaal daarvoor. Vir my is die grootste maatstaf vir lewenskoste dat ek slegs deeltyds werk, wat ek nooit in Suid-Afrika sou kon bekostig nie. Dit is ons ervaring. Die feit dat ons in ʼn klein dorpie woon, beteken dat ons behuising en vervoerkostes baie laag is. Dit kan dus ʼn baie ander prentjie wees in Auckland of Christchurch, waar behuising en reiskostes ‘n groot hap uit jou inkomste kan vat.

  1. Was dit maklik om nuwe vriende te maak en in die gemeenskap in te skakel?

Om vriende te maak is uitdagend maar nie onmoontlik nie. Weereens: Omdat dit ʼn klein dorpie is, het ons dit makliker gevind. Daar is ‘n Facebook-groep vir ons dorp en ons het met ʼn paar mense kontak gemaak voordat ons gevlieg het. Daar was ook sosiale geleenthede soos ‘n maandelikse kuier by ‘n pub en Braaidag waarby ons kon inskakel. So kon ons met ander Suid-Afrikaners kontak maak. Die plaaslike mense met wie ons vriende gemaak het, is die mense saam met wie ons werk, wat in ons kerk is en wat ons ontmoet het deur die skole en sport. Die belangrikste is dat jy mense vind wat dieselfde waardes en belangstellings as jy het. Iets wat ek geleer het, is dat nie almal wat Afrikaans is jou vriende gaan wees nie, want hulle deel nie noodwendig jou waardes en norme nie. Dit is nie verkeerd nie. Dit gee jou ook net die geleentheid om Kiwi-vriende te maak.

  1. Wat doen julle vir ontspanning?

Nieu-Seeland se lewenstyl is baie gefokus op sport en die buitelewe. Ons gaan stap gereeld, gaan strand toe of ry met ons 4×4 die boendoes in. Hier is baie mooi plekke om te sien, en ons probeer gereeld nuwe areas besoek om dit te beleef. Foto’s kan nie eintlik die grootsheid van die skepping oordra nie. Dan kan ‘n mens natuurlik nie praat oor ontspanning as jy nie die braai-kuiers noem nie. Ons lewenstyl het baie verander sedert ons hier is. Dinge wat ons wou doen maar nie kon nie, is nou vir ons moontlik. Stap in die woud of speel in die parkie is deel van ons kinders se lewens. Hulle kan alleen in die speelparkie speel of in die stappark agter ons huis gaan rondloop. Ons is baie meer buite en min by die huis hier!

Woon jy in die buiteland of het jy onlangs teruggekeer na Suid-Afrika? Ons wil van jou hoor. Stuur gerus ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest