Uit en Tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of daar gewoon en gewerk het en weer terug in Suid-Afrika is. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesmaand met Tia Steyn wat na sewe jaar in die buiteland weer terug is in Suid-Afrika.

Hallo Tia, waar het jy in die buiteland gewoon en vir hoe lank?

Ons het vir sewe jaar in Vernon, Brits-Kolombië, Kanada gewoon. Vernon is geleë in die binneland van Brits-Kolombië, die mees westelike provinsie van Kanada, in die pragtige Okanagan-vallei. Die area lyk baie soos die Boland, met berge, valleie, vrugteboorde en wingerde. Dit is een van die meer gematigde klimaatstreke in Kanada.

Vertel ons van jouself en jou avonture in die vreemde. Wat was die lekkerste of slegste avontuur wat jy daar beleef het?

In die winter sneeu dit. Ons het 40 minute se ry van ‘n ski-oord, Silver Star, gewoon en byna elke naweek daar gaan ski. Ons het geleer om te ‟downhill”, ‟cross-country” en ‟snowshoe”. (Daar is vir my net nie lekker Afrikaanse vertalings voor nie!) Om in my 30’s te leer ski, was een van die grootste uitdagings van my lewe. Dis soos om te leer fietsry, of moeiliker! Die laaste dag wat ons as gesin saam geski het, het ons saam met ons kinders (wat baie beter as ons kon ski!) ‘n dubbel swart roete geski – dit is die steilste en ongelykste gemerkte terrein in ʼn ski-oord – en ons het dit almal gemaak!

In die dorp sneeu dit ook gereeld en dit bring daaglikse avonture mee – van soggens die sneeu van jou inrypad wegskoffel en slee ry in die park langs ons huis tot benoude oomblikke wanneer jou kar onbeheerbaar gly op vars sneeu of klipharde ys.

In die somer raak dit lekker warm, met temperature in die dertigs, en het ons gereeld gaan stap in die pragtige parke en geswem of kajak in een van die drie mere in die omgewing. Ons het ook gereeld gaan kamp in die netwerk van honderde provinsiale parke in Brits-Kolombië (BC Provincial Parks).

In Noord-Amerika is reis maklik en bekostigbaar en ons het heelwat in Kanada gereis. Hoogtepunte was die Kanadese Rockies, Vancouver Eiland (mees westelike punt van Kanada), Newfoundland (mees oostelike punt van Kanada), Toronto en die Niagra-valle. Ons was ook bevoorreg om saam met my suster-hulle, wat in Dubai woon, na Disney World te kon gaan.

Wat het julle in Vernon gedoen?

My man het daar gewerk as ‘n psigiater. Daar is ʼn magdom Suid-Afrikaanse dokters – in Vernon alleen (‘n dorp ongeveer so groot soos Worcester) is daar ongeveer 25 van hulle. Ek het van sy administrasiewerk gedoen, hier en daar arbeidsterapie by ‘n groot rehabilitasiefirma gedoen, en verder huisgehou en kinders grootgemaak. Ons kinders het hul skoolloopbane daar begin.

Wat het jy gemis van Suid-Afrika?

Die kreatiwiteit en individuele styl van die Suid-Afrikaners. Restaurante en winkels daar se binneversiering laat veel te wense oor! Ons het ons wortels ook gemis – my man sê dis soos om nuut gebore te word en byna geen geskiedenis te hê nie wanneer jy na die buiteland trek. Suid-Afrikaanse humor is uniek en die meeste Kanadese ‟vang” nie ons grappies nie. Laastens het ek die uitgesprokenheid van Suid-Afrikaners baie gemis. Aan die een kant is baie Suid-Afrikaners té uitgesproke en selfs ontaktvol, maar aan die ander kant weet ‘n mens waar jy met hulle staan!

Was dit moeilik of maklik om aan te pas toe jy terugkom na Suid-Afrika?

Die mense jaag vreeslik hier! Ek hou van vinnig ry, maar binne perke en net as dit veilig is. Oor die algemeen is mense hier ook baie ongeduldig – op die pad, in winkelrye, ens. Ek ervaar mense ook as wantrouig – toe ons met ‘n piekniekuitstappie ‘n gesin vra of ons twee van hul kampstoele vir ‘n paar minute vir my bejaarde skoonouers kan leen terwyl ons wag vir familie wat hul stoele bring, het die mense my aangegaap en gevra: ‟Hoe weet ons julle is nog hier as ons terugkom?” Ek verstaan die redes daarvoor, maar dit is wonderlik hoe mense mekaar vertrou in Kanada – omdat hulle kan. ‘n Mens gooi byvoorbeeld nog ‘n tjek vir ‘n groot bedrag sommer in ‘n gewone koevert in die pos en die meeste supermarkte daar het deesdae selfhelp-betaalpunte.

Wat mis jy die meeste van Kanada?

Die wonderlike vriende wat ons daar gemaak het. ‘n Mens is mekaar se ondersteuningsnetwerk en selfverkose ‟familie”, so ons het baie hegte vriendskappe daar gesmee. Die veiligheid en alledaagse sorgvryheid wat daarmee saamgaan. In die sewe jaar wat ons daar gewoon het, het ons nie een keer ons huis se alarm aangesit nie. Ek sal ook die sneeu – die mooi en die lekker daarvan – nog baie mis, die geleenthede om so maklik te kan rondreis, en die baie vriendelike en verdraagsame Kanadese.

 

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest