Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit die VSA

Okt 4, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Walter Jackson wat saam met sy gesin in die VSA woon.

  1. Waar woon jy en waarom juis daar?

My vrou, Maxi, is in 2017 deur haar maatskappy oorgeplaas na Orlando, Florida. Die seuns was 8 en 6 toe ons oorgekom het, en dit was wonderlik om naby Disney, NASA, Universal Studios en SeaWorld te bly. Orlando is ook lekker naby aan die see.

Ons het egter gevoel ons wou meer van ons nuwe land sien, so nou woon ons in ’n RV (of motorwoonwa) en reis deur Amerika – na al 50 state. Ons doen dit al vir ’n jaar, eers in ’n klas A en nou ’n fifth wheel. Die land is so groot en ons wou tyd in elke staat deurbring. Ons behoort oor twee tot drie maande klaar te wees met die laaste sewe state.

Die idee was om die hele land te verken, en dan te besluit waar ons ’n huis wil koop. Tot dusver is ons gunstelingstate Hawaii, Alaska, Suid-Dakota, California, Arizona, New York en Tennessee. Ons sal ons heel waarskynlik in Tennessee vestig, want dié staat bied ons die meeste met positiewe faktore wat die weer, musiekfeeste, vlugte uit SA, belasting, tydsverskil met Europa (vir werk), eiendomspryse en die natuurskoon insluit.

  1. Vertel ons meer van jou gesin?

Ek het in George en Springs grootgeword en Maxie ontmoet toe ons 14 en 12 was. Ons ken mekaar al langer as 30 jaar en is vir 15 jaar getroud. Sy is die wonderlikste mens wat ek ken. Ons het in 2005 saam na Engeland verhuis en vir agt jaar net buite Cambridge gebly. Albei ons seuns is in Engeland gebore. Freddie (12) en Ben (10) het van kleins af oral saam met ons gereis. Ons probeer hulle soveel van die wêreld wys as wat ons kan. Suid-Afrikaners het juis ’n avontuurlustige karakter. Ons het ook ’n pragtige klein Beagle-hondjie (Lucy) wat oral saam met ons gaan.

 

  1. Hoe gereeld sien julle familie mekaar, en hoe hou julle kontak?

Gedurende die drie jaar wat ons in Orlando was, het baie van ons vriende en familie van die geleentheid gebruik gemaak om vir ons te kom kuier. Daar is soveel om te doen in die gebied met al die pretparke, NASA, SpaceX, die see en passasierskepe na die Karibiese eilande. Ons kon ons familie en vriende gereeld sien. Van ons vriende kon ook by ons kom kuier in die RV om te sien hoe die lewe op die pad is.

Ons was in 2019 laas in SA om ons groenkaarte te kry en sedert COVID kon niemand uit Suid-Afrika kom kuier nie. Ons bly maar in kontak met oproepe en sosiale media. Ons skuif die RV elke Sondag en het ’n tradisie om met ons familie en vriende te gesels terwyl ons op die pad is. Dit help om so in kontak te bly met ons geliefdes in Suid-Afrika.

  1. Kry julle kans om te reis?

Reis is vir ons ’n belangrike prioriteit en ek probeer om al die lande in die wêreld te besoek met my Suid-Afrikaanse paspoort. Ek was al in 164 lande en het net 29 oor. Die meeste van hulle is klein eilande in die Stille Oseaan, of oorloggeteisterde gebiede, so daar is nog bietjie werk oor. Hopelik kan ek dit voltooi sodra die grense weer oopmaak.

Ons reis ook graag as ’n gesin en hou daarvan om te kamp. Aan die einde van ons tyd in Engeland het ons vir ’n paar maande deur Europa getoer met tente en die meeste van die lande besoek. Die kinders was albei nog in doeke, so om vir so lank in ’n tent te bly was nogal ’n ervaring!

Ons is vreeslik lief daarvoor om sport te gaan kyk, veral as ’n span van Suid-Afrika betrokke is. Hoogepunte sluit in die Rugbywêreldbeker in Frankryk; die Krieketwêreldbeker in die Wes-Indiese Eilande; die openingseremonie van die 2012 Olimpiese Spele in Londen; om Gary en Ernie te sien afslaan by Bay Hill; UEFA-sokker op Old Trafford; om Dale Steyn te sien boul in Indië; die Grand Prix in Monaco; en die Wimbledon-tennisfinaal. Van my gunstelingervarings ooit was om die Nurburgring in Duitsland te bestuur, asook die München Oktoberfest-bierfees in dieselfde land.

Ons het dit ook baie geniet om deur Afrika te reis, en ’n safari by Chobe – op die grens van Zambië, Zimbabwe, Botswana en Namibië – was ons gunstelingplek om diere te sien. Gorillas in Uganda en Rwanda was ook ’n belewenis wat ’n mens net eenmaal in jou leeftyd ervaar.

Aangesien ons nou in Amerika woon, sal ons meer fokus op plekke in hierdie deel van die wêreld. Die kinders het Machu Picchu in Peru baie geniet en ek kan dit nie genoeg aanbeveel nie. Die hele land was ’n fantastiese ervaring. Ons hoop om volgende jaar na Rio de Janeiro te reis vir die karnaval. Ons hou net duim vas dat die wêreld dan al na normaal teruggekeer het.

Ons maak kort videos oor die plekke wat ons besoek en plaas dit op ons YouTube-kanaal – 5jacksonsjourney:

 

  1. Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?

Die land is so groot en jy het soveel vryheid hier. Met die uiteenlopende klimaat kan jy kies waar jy wil woon, daar is iets van alles in een land. Mense hier is baie maklik om mee te gesels en ons het dit nie moeilik gevind om nuwe vriende te maak nie.

Dit is ook min moeite om hier jou eie besigheid te begin, ons voel dus dat ons professionele lewe hier baie gemakliker is. Ek het baie meer vrye tyd om saam met my gesin deur te bring. In Engeland het ek baie langer ure gewerk.

  1. Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?

Die lewe op die pad in ’n motorwoonwa is nie altyd maklik nie. Die hele bus skud as jy in die pad af ry, so ek doen baie herstelwerk. Ek staan normaalweg vroeg op en gewoonlik wil ek die herstelwerk eerste ding in die oggend uit die pad kry.

Ek maak al die kos, en hoenderlewer met mieliepap is gereeld op die ontbytspyskaart. Ná ete kry ek die kinders aan die werk met hul virtuele skoolwerk. Ek en my vrou doen albei afstandswerk – Maxie in mediese navorsing en ek in finansiële bestuur (CFP). Ons het elkeen ’n klein werkruimte in die RV, so die werkslewe is redelik normaal.

Ná middagete kyk ek gewoonlik watter interessante plekke in die omgewing is, sodat ons ná werk/skool die gebied kan verken. Ons gunstelingaktiwiteite is buitemuurse avonture soos ski, stap, roei, om plaaslike kosse te eet, piekelbal en die skietbaan.

Die aande wat ons nie gaan verken nie, braai ek een of ander iets. Ek probeer gereeld iets plaaslik, soos hert, bison of kreef. Ons maak gereeld saam wors, potjiekos en biltong en probeer ons Suid-Afrikaanse kultuur aan die kinders oordra.

’n Stywe Glenmorangie ná aandete en ons is voor 23:00 uur al in die bed. Naweke is ons meestal besig met besienswaardighede of om die RV te skuif. Ons ry Sondae tipies vier tot vyf ure en slaan dan kamp op.

Die RV is darem gemakliker as die tentstorie in Europa. Jy druk net knoppies en die hele bus is waterpas. Daarna kom die vyf kamers uit met hidrouliese krag vanaf die batterye. Laastens moet ek die kragkabels en water- en rioolpype aan die bus koppel. As almal hand bysit, neem dit so ’n uur om alles reg te kry.

Die state is groot en ons het al meer as 31 000 km gery. Ek is skoon uitgeput as ek daaraan dink.

Geniet julle tyd in die buiteland en maak die meeste van hierdie een lewe wat ons het …

Groete, die Jackson-gesin

 

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest