Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Mauritius

Nov 16, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Voné Jonker in Mauritius.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Ons woon tans in die noordelike gebied van Mauritius. Daar was eintlik geen spesifieke oorweging hoekom dit juis Mauritius moet wees nie. Dit was net ’n sameloop van omstandighede en die regte geleentheid het op die regte tyd oor ons pad gekom.

Was dit ’n groot aanpassing?

Ja! En dit is nog steeds na meer as vier jaar. Ons kry nog steeds heimwee as ons dink aan al ons vriende en familie wat in ons pragtige Suid-Afrika is. Die grootste aanpassing was dat nie een van ons ’n woord Frans kan praat nie. Dit is nogal snaaks om met Google Translate inkopies te moet doen. Alle afsprake en dienste vat tyd. Ons dink altyd aan almal wat sê “I will come at noon”, en dan giggel ons lekker, want alles gebeur ‘at noon’ maar niks gebeur dan nie! Alles is wel oorkombaar en mens leer maar so met die verloop van die tyd.

Praat julle nog Afrikaans?

Ja definitief. Ons praat nog vlot Afrikaans. Soms sukkel ons om die regte egte Afrikaanse woord vir iets te kry, maar op die ou einde van die dag behou ons beslis Afrikaans in ons huis en vriendekring.

Is daar enige Afrikaanse ondernemings in Mauritius?

Ja, hier is heelwat ondernemings wat deur Suid-Afrikaners besit word. Ons grootste ‘bate’ is vir seker Biltong.mu wat ons grootste voorraad van Suid-Afrikaanse produkte aanhou insluitend goeie vleis. Kyk, mens kan mos maar nou net nie sonder ’n lekker Mrs H.S. Ball’s Chutney, Cream Soda, NikNaks en Bar One gaan nie. O ja en moenie die wituiesoppoeier vergeet nie…klein dingetjies waarvoor ons plaasvervangers moet soek, maar niks kom by die ware Jakob nie!

Wat geniet jy die meeste van die eiland lewe?

Bo en behalwe alles wat ons kan doen vir ontspanning en die rustige pas van die lewe, is dit beslis die feit dat ons veilig voel.

Wat doen julle vir ontspanning oor ’n naweek in Mauritius?

Daar is volop aktiwiteite rondom die eiland. Van ons topgunstelinge is natuurlik plesiervaarte op ’n katamaran waar jy die hele dag op die see uitgaan en by die omliggende eilandjies kan afklim, swem, snorkel en net lekker eet met heerlike hoender, garnale en vis wat op die strand gebraai word en lekker bykosse. En dan natuurlik net om na enige plek te kan ry en stop en jy op die mooiste strande met die blouste see is, is beslis een van ons grootste gunstelinge.

Waarna verlang jy die meeste?

Familie, vriende, Woolworths Food, Mr Price Home, Flings, Ghost Pops, sout-en-asyn-skyfies, bekostigbare Suid-Afrikaanse wyn, Albany-brood en goeie biltong met geelvet! O ja en moenie van Dischem vergeet nie!

Is dit duur om daar te woon?

Aan die begin het ons maar heelwat omgereken van Mauritius roepee na rand toe, dan begin mens daaraan gewoond raak en jy kom eintlik nie agter hoeveel goed kos nie. Ja, dit is oor die algemeen duur vir Jan Alleman wat in die plaaslike geldeenheid ’n salaris verdien aangesien meeste produkte vanaf Suid-Afrika en Europa ingevoer word.

Wat is jou gunstelingdis wat jy in Mauritius geleer het om te maak ?

Sjoe! Ek gaan nou nie jok om te sê ek het geleer om dit te maak nie. Ek sal dit nooit in my lewe so lekker kan maak soos die straatverkopers wat dit uit ’n glaskas agter op hulle motorfietse smous nie Ons heel gunstelingkossoort is beslis die vuurwarm vars roti’s wat gemaak word in die oggende, met ’n witboonkerriesous, tamatieagtige blatjang en ’n heerlike, smaakvolle rissie-en-kokosneut-mengsel en vir ’n ekstra loopneus kan jy nog rissie bysit. Absoluut fantasties en baie beslis verslawend!!

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ons kom oorspronklik van Pretoria af. Ons het die geleentheid gekry en na baie beraadslaging, ’n wipplank van emosies en baie opgewondenheid het ons net besluit, ons is jonk, kom ons doen dit! Tasse gepak, honde gepak en daar gaan ons.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest