Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Nederland

Nov 8, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Melani Young wat in Nederland woon.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Op die Nederlandse polders, in ’n voorstad suid van Amsterdam genaamd Amstelveen. Ons liefde vir Nederland het 15 jaar gelede begin toe ons in Eindhoven gewoon het vir ’n klompie maande. Ons was dadelik gek oor hul kultuur en hoe familiegeoriënteerd hulle is.

Was dit ’n groot aanpassing?

Die oppak en groet in Suid-Afrika was ’n riller! Ek het gevoel of ek in ’n toestand van skok op ’n tuimeltrein gelaai word en al wat ek kon doen was vasklou met albei hande tot die rit verby was. In Januarie 2020 het ons in ’n bitter vaal en koue Nederland geland en twee maande later het die land se inperking begin. Die inperking het sy seëninge gehad. Die wêreld het tot stilstand gekom en ons is tyd gegun om asem te skep en op te vang met ons emosies en energie. Die aanpassing was verbasend maklik – ek vermoed dit is omdat ons ’n goeie idee gehad het wat om te verwag, aangesien ons dit jare gelede ook gedoen het.

Praat julle nog Afrikaans?

Natuurlik, elke dag, aanmekaar! Hier is so baie Suid-Afrikaners, die meeste van ons vriende is ook uit Suid-Afrika. My COVID-woordeskat is wel alles Nederlands, bv. “mondkapjes”, “prik”, “ander half meter” en “maatregels”. En verder maak ek myself verstaanbaar deur “Nederkaans” te praat. Die kinders se Nederlands is al baie goed en ek stel gereeld my tieners in die verleentheid as ek Nederlands probeer praat.

Ons sien jy het al die wêreld vol gewoon, in watter land het jy die lekkerste gewoon?

Elke land was die lekkerste. Elke land was ’n avontuur op sy eie. Ons het in drie Europese lande gewoon, asook Engeland en Amerika. Maar ek moet bysê dat ons geweet het dit is net tydelik. ’n Mens dink anders oor ’n land as jy weet jy maak dit ’n meer permanente tuiste. Jy neem dan ander dinge in ag en dink ernstiger oor die saak, dit is nie net ’n avontuur vir ’n jaar of twee nie. 

Jy het twee jong seuns, hoe pas hulle aan by die skoolsisteem in Nederland? Regtig goed, ons is so innig dankbaar (en bietjie verbaas) daaroor. Die skoolsisteem in Nederland is baie ondersteunend vir enige kind met enige tipe agterstand. Ons seuns was eers in ’n taalskool voor hul oorgeplaas is na ’n gewone Nederlandse skool. Die kinders ervaar heelwat minder druk hier. Daar word baie klem gelê op hul algehele welstand of soos hulle hier sê: “Lekker zitten in je vel”.

Wat doen julle vir ontspanning op ’n naweek in Nederland?

Soos in Suid-Afrika word baie ure op ’n Saterdag langs die seuns se rugbyveld deurgebring. Andersins ry ons gereeld uit en verken nuwe plekke. Ons “fiets” ook graag na die Amsterdamse Bos of na die Amstelrivier, drink ’n koffie en geniet die mooi natuurskoon. En natuurlik braai ons steeds elke naweek, of die son nou skyn en of die sneeu enkeldiep is.

Waarna verlang jy die meeste?

Na ons mense!!! Ek mis ook die reuk van Rajah-kerriepoeier in die Spar se gange; die skel geskree van hadidas; Nando’s en Steers, om die nuus op die lamppale te lees; en om my seuns in skooluniform te sien.

En dan die berge … Ek verlang daarna om in die verte bergreekse te sien en om variasies van landskaphoogtes om my te hê.

As jy moet kies tussen ’n wit Kersfees of ’n Somerkersfees, wat sal jy verkies en hoekom?

Dis ’n moelike keuse …  My romantiese kant kies ’n wit Kersfees met ’n kaggelvuur en warm gluhwein. My sentimentele kant kies ’n Somerkersfees met ’n braaivleisvuur en ’n koue Savanna.

Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om oorsee te gaan woon?

Ons is van Bellville in die Wes-Kaap en ons seuns was in Laerskool Kenridge. Ons was dolgelukkig in die Kaap, maar ’n werksgeleentheid vir my man het opgeduik en ons het gedink “It’s now or never”. Dit is tyd om iets nuut aan te pak. Ons wou graag ons seuns blootstel aan ander kulture en leefstyle. Ons wou hulle ook die geleentheid bied om Nederlandse paspoorte te kry. Ons uitgangspunt is dat niks permanent is nie – ons gaan op hierdie avontuur en kyk waarheen dit ons lei.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

’n Netwerk wat vir jou werk

’n Netwerk wat vir jou werk

Deur Sue-Ann de Wet Die belangrikheid van ’n ondersteunende netwerk kan nie onderskat word nie. Die bou van ’n netwerk in ’n nuwe land gaan oor meer as net sake doen of werk soek; dit gaan ook oor die skep van ’n ondersteuningsbasis wat jou kan help om die gevoel van...

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Kyk die ouer garde van ander lande jou snaaks aan as jy nog na hulle as “Oom” en “Tannie” verwys? Langarmsokkie julle nog in die sitkamer op Afrikaanse sokkietreffers? Ons kultuur is meer as net melktert en braaivleis. Wat is daardie klein gewoontes wat jy net...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest