Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Switserland

Sep 15, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met André Duvenhage wat al vir 20 jaar in Ostermundigen, Switserland woon.

Waar woon jy en waarom juis daar?

Ons woon in Ostermundigen, net buite die stad Bern in kanton Bern. Ek het ’n werksaanbod (in IT) gekry – dis hoekom ons na Switserland verhuis het en in die Bern-omgewing bly. Switserland is in elk geval so klein en die openbare vervoer (ÖV) so goed dat ’n mens amper enige plek kan bly en werk. My kantoor is tans in Yverdon (kanton Vaud), maar ek het al in Zürich, Visp (kanton Wallis) en natuurlik Bern gewerk.

Was dit ’n groot aanpassing?

Ja, die taal was ’n kwessie, maar ons het relatief vinnig met hoog-Duits reggekom. Die Bernese dialek (Bärndütsch) bly maar ‘n tameletjie vir my. My vrou verstaan dit redelik goed en my kinders is vlot daarin – dis die taal van hulle vriendekring.

Die eerste keer wat ons waspoeier wou koop, het ons met ontkalkingsmiddel by die huis gekom …

En natuurlik was ons familie- en ondersteuningsnetwerk in Suid-Afrika. Ons was gelukkig om gou vriende met Switsers te maak en nou nog, 20 jaar later, is hulle van ons beste vriende hier. Ons het ook heelwat SA-vriende en ander ekspat-vriende uit die res van Europa, Midde-Ooste, Suid-Amerika en Afrika. You name it en ons ken waarskynlik iemand van daar.

Vertel ons meer van jou gesin?

Ons is vier – my vrou Antoinette, dogter Mieke en seun Naudé (en ek, uit die aard van die saak). Ons is Kapenaars. Ek het in Kaapstad grootgeword, Antoinette in Robertson en ons het op Stellenbosch ontmoet. Albei ons kinders is in Bellville gebore.

Vir die eerste 14 jaar of so hier was Antoinette voltyds huisvrou. Nadat die kinders klaargemaak het met skool, het sy weer begin werk. Sy werk tans as ’n versorger vir afgetrede mense wat hulp benodig, maar nie na ’n ouetehuis wil gaan nie. Ek is in IT by Compassion (compassion.ch), ’n liefdadigheidsorganisasie wat kinders wat in armoede leef, help.

Mieke studeer deeltyds en werk deeltyds as administratiewe beampte. Naudé het ’n paar maande gelede sy Switserse diensplig voltooi en werk as boekhouer by Stad Bern.

Praat julle nog Afrikaans?

Al die pad. Dit is ons omgangstaal met mekaar en met Suid-Afrikaanse vriende. Ons praat Engels en Duits met ekspat-vriende, kollegas en Switsers. Van die mense met wie ons langer bevriend is, verstaan al ’n paar woorde Afrikaans.

Jou familie is ver, hoe gereeld sien julle mekaar?

Ons reis deesdae min na SA. Ons laaste besoek was Kersfees 2018 en dit was wonderlik, maar nugter weet wanneer die volgende een sal wees.

My ma probeer om minstens een keer per jaar by ons ’n draai te maak, maar COVID-19 het natuurlik daai planne in die wiele gery. Ná meer as twee jaar kon sy darem in Julie vanjaar weer kom kuier.

Antoinette se familie (sy is een van vier kinders) het ook al ’n paar keer by ons kom kuier, maar nie naastenby genoeg nie (ek gaan vir hulle ’n skakel na hierdie artikel stuur).

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Bern. Kom julle soms bymekaar?

Informeel, ja. Elke jaar, op die eerste Saterdag in Julie, braai ons langs die Aare, heeldag lank. Dit is baie lekker en vanjaar se Aare-braai was epic.

Die uitnodiging vir die braai gaan uit aan Suid-Afrikaners en ander vriende en almal is welkom om hulle vriende saam te nooi. Op dié manier het ons al heelwat nuwe Suid-Afrikaners ontmoet en goeie vriende gemaak. Ek het een van my gereelde worsmaak-pêlle so leer ken.

Daar is ’n paar organisasies wat geleenthede reël, maar ons sosiale lewe is lekker en groei organies. Ons is nie rêrig daarop gemik om ons SA-vriendekring uit te brei nie. Die mense met wie ons hier vriende is, sou in SA ook ons vriende gewees het. Goeie mense is goeie mense, ongeag die land van oorsprong en vice versa.

Vreemdste om aan gewoond te raak?

Ná 20 jaar is dit eintlik ’n moeilike vraag … maar daar is tog iets: Wanneer die Switsers braai, braai hulle nie twee tjops, twee stukke boerewors en genoeg braaibroodjies (of pap, as dit is waarvan jy hou) vir elke gas nie. Nee, tussen vyf mense word daar twee stukkies wors (cervelat, cippolata of so iets), ’n stukkie steak (wat opgesny en verdeel word), dalk nog ’n ander tipe vleis en groente (mielies, murgpampoentjieskywe, ens.) gebraai. Ek is nou effe gewoond daaraan, maar my Switserse vriende doen dit nie meer nie. Hulle braai nou ordentlik – selfs braaibroodjies.

My oudste Switserse pêl is ’n sjef en braaibroodjies is deesdae ’n standaarddeel van sy repertoire.

En amper vergeet ek: Hier kan jy perdevleis in die supermark en by die slagter koop. Ek sê maar net …

’n Ander verskynsel is dat ’n mens nie noodwendig 100% werk nie. Baie mense werk 80% of 60% en dit is heeltemal normaal. Ek werk bv. 80% en een van my kollegas 60%. Om die waarheid te sê, in ons gesin is Naudé die enigste een wat 100% werk.

Het julle nog kontak met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom?

Kontak, ja. Terugkom is nog ’n gesprek in ons huis. Ek twyfel of ons kinders hulle in Suid-Afrika sal vestig. Ek en Antoinette oorweeg nog ons aftree-opsies.

Kry julle kans om te reis?

My voete jeuk nie so baie soos van my vriende s’n nie, maar ons was al in onder andere die Kanarie-eilande, Portugal, Spanje, Elba, Frankryk, Nederland, België, Engeland, Duitsland en Italië.

Die lekker van hier woon, is dat jy bv. vir ’n dag Duitsland toe of vir ’n naweek Italië toe kan gaan.

Nog ’n lekker is Italiaanse roomys. Dis omtrent ’n derde van die prys wat jy in Switserland betaal en dit is behaaglik lekker. My ooreenkoms met Mieke en Naudé (sedert ons eerste besoek aan Italië in 2002) is dat hulle in Italië enige tyd roomys mag eet – vir brekfis, 11 uur tee, middernag snack, enige tyd. Vra, en jy kry.

Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?

Ek hou van die ÖV (ja, ek weet, dis ’n baie vervelige antwoord). Ons is nou omtrent ses jaar sonder ’n motor en dis nie ’n probleem nie. Tussen die busse, treine en mobility (korttermynmotorhuur) kan ons orals uitkom.

Alles werk. Die oorgrote meerderheid van die mense hier neem deel aan die sosiale kontrak – ons almal leef saam hier en daarom kan ons mekaar in ag neem en bedagsaam wees. Dis tot almal se voordeel.

Daar is ’n musiekvenue ‘n paar kilometer van ons af wat soms groot name (uit die verlede) kry. Ek het Robert Cray, Albert Hammond en Kinky Friedman daar gesien. Vir Bruce Springsteen moes ek Zürich toe. Met die ÖV.

Is dit duur om daar te woon?

Wanneer jy ophou om in jou kop Frank na Rand om te skakel, besef jy dat jou salaris pas by die lewenskoste. Skaap- en beesvleis is duur. Uiteet is duur. Eiendom is duur. Maar die alledaagse dinge is bekostigbaar as jy ’n Switserse salaris verdien. Switserland is duurder as die omliggende lande en daarom is die salarisse hoër. Dit maak reis natuurlik ‘n fees.

Was dit maklik om nuwe vriende te maak en in te skakel in die gemeenskap?

Ons kinders was vier jaar en 20 maande toe ons hier aangekom het. In ons kwartier was daar heelwat kindertjies van dieselfde ouderdom. Ons kon dus maklik aanknoping vind en dit het baie gehelp om deel van die gemeenskap te word.

Ons het ook deur die kerk baie mense ontmoet. Ons was by ’n Engelse kerk en baie van die egpare daar was een Switser en een buitelander. So kon ons ook vriende maak en deel van ’n gemeenskap word.

Wat is die grootste verskil van julle lewe in Suid-Afrika?

Jy kan nie op ’n Saterdagmiddag die TV aansit en Curriebeker-rugby kyk nie. Maar klink my mens kan dit deesdae in SA ook nie meer doen nie.

Ek mis ’n koffiewinkel met bottomless koffie en ’n vol Engelse ontbyt.

Maar die positiewe weeg baie swaarder as die negatiewe.

In SA het ek nooit boerewors, biltong, droëwors of enige so iets gemaak nie. Hier is ons ’n klomp SA vriende wat elke nou en dan bymekaar kom en dan wors maak. Op my eie maak ek biltong (o.a. eendborsbiltong – dit is baie lekker en nogal gewild onder my pêlle.) en gerookte spek (onbeskryflik baie lekkerder as winkelspek) en ek brou bier, cider, gemmerbier en kombucha. Ek het juis vanoggend ’n paar stukkies beesbiltong gehang.

Ons was baie gelukkig om ‘n groothandelslagter in ons omgewing te vind. Met wat ons daar betaal, kan ons wors maak vir omtrent 50% van die winkel se prys en 5 000% van die smaak.

’n Mens voel ook veilig hier. Mieke en Naudé het van meet af kleuterskool en later skool toe gestap. Hulle het ook vroeg al op hulle eie die ÖV gebruik en daar was nooit ’n probleem nie. Om laat in die aand met bus en trein huis toe te ry is normaal.

Wat doen jy vir ontspanning?

Bern se ou stad is pragtig. Saterdae is daar ’n plaasmark voor die parlementgeboue. Buiten groente en vrugte kan jy daar blomme, plante, sampioene van elke soort, allerhande vleisprodukte en heerlike vars brood koop. Daar is selfs ’n stalletjie wat Cannabis-olie verkoop. Of jy kan net rondloop en jou aan alles verkyk. Natuurlik is daar ’n magdom koffiewinkels waar jy kan gaan sit om ’n bietjie people-watching te doen.

’n Ander gunsteling is die Rosengarten. Vandaar het ’n mens ’n pragtige uitsig oor die ou stad. Stap jy af teen die bult, kom jy by Bern se beerputte en die Altes Tramdepot uit. Dan kan jy oor die brug die ou stad instap of jy kan langs die Aare stap sover as wat jy wil. Watter rigting jy ook al kies, dis kos vir jou siel.

So nou en dan kom ons bymekaar om die Bokke te ondersteun. Wen of verloor, word daar ná die wedstryd (of voor, of tydens, of heeltyd) gebraai. Sononder op ons balkon in die somer is ook ’n spesiale tyd. Dis wanneer ek besef hoe bevoorreg ons is.

Woon jy in die buiteland? Ons wil van jou hoor. Stuur gerus ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za

 

Meer oor die outeur

Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Hemelse hofmakery

Hemelse hofmakery

Jonger mense sal jou gou vertel hoedat ouer mense se Public Displays of Affection hulle naar maak.  Maar ai – vandag het ‘n ek sommer ekstra spesiaal gevoel… Dit was eintlik ‘n vreemde naweek hierdie. Vrydag mid-oggend val ek in die pad vir die vier ure se ry...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

deur Suné van Heerden Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Belgiese joernaliste besoek...

Perdekrag: Episode 8

Perdekrag: Episode 8

Dié is Perdekrag! Ons spiksplinternuwe motorprogram... in Afrikaans! Brendon van Maroela Media en Jeanette van Wiele2Wiele is ons mede-aanbieders en ons sal ons bes doen om vir julle ʼn fantastiese program te bring... Daar is 10 episodes beplan vir 2021, en die eerste...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest