Afrikaans soos ons dit vandag ken, het ontwikkel uit verskeie ander tale, hoofsaaklik Nederlands. Maar Afrikaans is deurspek met leenwoorde en byvoegings uit ander tale. Navorsing dui daarop dat daar verskeie dialekte van die taal gepraat is in die Kaap tussen 1800 en 1875 voordat Afrikaans omskep is in die Standaardafrikaans wat ons vandag ken. Dialekte soos Kaaps-Hollands, Boere-Hollands, Plat-Kaaps en Slawe-Afrikaans het tot ons ryk taalerfenis bygedra. Dié dialekte is beïnvloed deur verskeie ander tale, onder andere Maleis-Portugees wat as lingua franca onder die laer sosio-ekonomiese klasse aan die Kaap gedien het. Van die hutspot van kulture het ons taal dus verskeie oulike en unieke woorde ontleen.

Tjaila

Dié woord beteken om “op te hou werk”. veral aan die einde van die dag. Soos met baie leenwoorde kom die woord oorspronklik van die Zoeloe woord “sjayile” of die Xhosa woord “tshayile” af. In beide Zoeloe en Xhosa beteken die woorde om op ’n voorwerp te slaan wat dan ’n geluid maak, soos ’n klok of ’n ploegskaar. Dié klank het dan aangedui dat die werksdag begin of eindig.

Bredie

Die woord bredie wat verwys na ’n vleis-en-groentegereg is reeds gevestig in die Afrikaanse taal en word maklik geassosieer met Sondagmiddagetes in die winter. Die herkoms van die woord is oorspronklik van die Portugese woord “bredo’” wat na plante van die Amaranthus-geslag verwys wat soms as groente gekook is. Die groente is waarskynlik in ’n breidt gebruik en daarom verwys vroeë beskrywings van bredie slegs na ’n groentegereg. Die betekenis van die woord bredie soos ons dit vandag ken, is die eerste maal in Afrikaans in 1884 opgeteken as “bredi”.

Agie

Die woord agie verwys na ’n baie nuuskierige persoon. Die woord het ’n interessante herkoms en kom oorspronklik van die naam van ’n werklike persoon, Aegje van Enckhuysen. Volgens oorlewering was sy die vrou van die burgemeester van die dorpie Enckhuysen en was sy uitermatig nuuskierig. Oorspronklik het die gesegde gelui dat jy so nuuskierig is soos Aegje van Enckhuysen maar dit is later verkort na agie. Vandaar die oulike Afrikaanse woord.

Doepa

Die woord doepa word algemeen geassosieer met medisyne in Afrikaans. Die woord is nog ’n leenwoord wat deur die Maleise populasie aan die Kaap gebruik is. Doepa is ’n soort poeier wat hulle in hul huise en moskees brand, soortgelyk aan wierook, wat ’n aangename reuk afgee. Volgens bygeloof was dit ook ’n toormiddel – dalk vandaar dat ons glo dat die regte doepa enige kwaal kan oplos.

Aanpiekel

Om aan te piekel is om met moeite iets van een plek na ’n ander te bring, of om aan te sukkel. Dié woord se herkoms is interessant want dit is ’n samestelling tussen ’n Nederlandse en ’n Maleise woord wat op eie bodem omvorm is. Die “aan” gedeelte kom vanaf die Nederlandse woord “voortgaan” en piekel se herkoms is vanaf die Maleise woord “pikul” wat verwys na ’n las wat op die skouers gedra word. Die las is soms aan ’n drastok op die skouers gedra wat ’n “pikolan” genoem is. Verder is “pikol” ook ’n handelsgewig gelyk aan 125 Amsterdamse pond en in Oos-Indië en Oos-Asië ’n maat. Die eerste optekening van die woord in Afrikaans is reeds in 1880 in die vorm van “anpiekel”.

Karnallie

Die woord karnallie verwys na ’n vabond of ’n ondeunde persoon. Die woord kom oorspronklik uit Frans. Die oorspronklike woord was “canaille” wat van die Italiaanse woord “canaglia” wat “hondegebroeisel” beteken, afgelei is. In beide Frans en Italiaans het die woord steeds ’n slegte betekenis maar in Afrikaans het die woord se betekenis effe versag en word daar soms skertsend na iemand verwys as ’n karnallie.

Knertsie

Die woord knertsie verwys na ’n klein hoeveelheid van iets, veral van sterk drank. In ou Nederlands was die uitdrukking “met éénen sneirts” wat beteken “met een teug drink”. Die woord knertsie is bes moontlik van hierdie uitdrukking afgelei. In Nederlands het ’n snert ook verwys na ’n glas sterk drank.

Pin It on Pinterest