Deur Leomar van Schalkwyk

Hoe dit gebeur het …

Van ’n WhatsApp-boodskap in Desember tot die vliegtuig klim in Maart … van die Drakensberge tot die Alpe! My eerste toer oorsee was werklik iets om my oë oop te maak; iets wat my laat sien het hoe klein my wêreld regtig is. En hoe ek maar net gedink het dat ek ingelig was. Dit was ’n ervaring om te leer daar is soveel om nog te leer. Om vriende te maak met my landsgenote wat ek nooit geweet het ons verloor het nie. Om gemak te vind in ’n ander wêreld as gevolg van my taal.

My eerste toer oorsee het sy oorsprong gehad in ’n WhatsApp-boodskap. Te danke aan my vriend Jannie, sy suster en vier pelle van haar, wat vir my op daardie stadium wildvreemde mense was. Wildvreemd is hulle glad nie meer nie!

Ek en Jannie – soos baie ander mense – het nooit eens daaraan gedink om binnekort die lang vlug aan te durf na die wêreld oorkant die groot waters nie. Maar daai boodskap het die bal aan die rol gekry.

Daai boodskap was ’n advertensie van die Alpenrose Hotel and Gardens in Wilderswil, Switserland, waarin die hotel hulle Suid-Afrika-week bemark het. “Baie eienaardig!?” het ek eers gedink. Die advertensie het gespog met baie bekostigbare pryse en selfs ’n aand met bobotie! Die Suid-Afrika-week word jaarliks aan die begin van Maart in Wilderswil aangebied.

Ná ’n bietjie navorsing het ek gesien die hotel word besit deur twee Suid-Afrikaanse “expats”, Carel en Ryan. Carel het ook ’n besigheid met die naam Expat Explore Travel, wat die toer na ’n volgende vlak geneem het. Hulle bied ook toere regoor die wêreld aan, met baie Suid-Afrikaners wat dit meemaak.

Die advertensie het my gehaak en die besluit was gemaak! Ek gaan ski!

Toe volg die moeilike deel …

Vra maar vir enige iemand wat my ken of Leomar hou van vlieg, en die antwoord is ’n harde NEE! Maar ná ’n dag se behoorlike navorsing oor die veiligste lugredery met die meeste beenspasie, is die kaartjies gekoop. Nogtans het my 193 cm-lange liggaam nie te gemaklik gesit nie. Die kaartjies vanaf Johannesburg na Geneva via Zürich is op die nippertjie gekoop (een maand voor die tyd).

Met die hulp van vriende se kennis moes daar ook gespartel word vir ’n nuwe paspoort en visum, want my paspoort se vervaldatum was te naby aan die datum van ons terugkeervlug. Maar dit het vinnig en glad verloop en binne twee weke het ek beide gehad. TLScontact was uitstekend met die visumproses.

Alle reëlings was toe in plek. Ek moes net my geld gaan uitsorteer by die bank. Dié was ook redelik eenvoudig. Ek het wel uitgevind dat hoewel Switserland met die Europese visum werk, naamlik die Schengen, die aanvaarde geldeenheid Switserse Frank (CHF) is en nie euro’s nie. My spaargeldjies is dus omgeskakel in CHF.

Probeer maar altyd om ’n kenner te vra wat vir só ’n toer benodig word. ’n Vriend se ma het my ’n lys items gegee van wat mens sal nodig hê op ’n skivakansie. Dit is die moeite werd! En siedaar – ek was reg vir Switserland! Verlof gereël en tasse gepak.

Soos die noodlot dit wil hê, staan ek die oggend van die vlug op met brongitis. Ná ’n oproep na die dokter toe is ek reg met medikasie en ’n voorskrif vir dít wat ek saamneem op die vliegtuig – as bewys dat ek die medikasie mag vervoer.

Op die vlug moes ek wel gebruik maak van Rescue-druppels en een of twee bruisdrankies vir my gemoedstoestand. En daarmee kon ek nog ’n item van die “bucket list” aftik: vlieg oorsee. Ons was gelukkig op ’n aandvlug.

Ná ons smaaklike ete het ek en Jannie ons slaappille gedrink en eers wakker geword vir ontbyt net voor ons land – glad nie die soort vlug waarteen ek al jare lank opgesien het nie. Een haastige oorskakelvlug, en ons was in Geneva.

Ek en Jannie was nege ure voor die res van ons groep; dus kon ons die hoofsaaklike Franssprekende stad gaan verken en selfs nog ’n paar items van ons “bucket-list” gaan afteken – soos die VN se gebou Palace of Nations, met die gebreekte stoel wat ’n simbool is van die internasionale teenstand vir die gebruik van landmyne; en die Jet d’Eau-fontein in Lake Geneva. Dit het ons ’n tydjie geneem om die vervoerskedule te leer ken. Ons het volwaardig gevoel dat ons nie meer in ons vaderland was nie. Maar ná ’n skreeusnaakse voorval het ons geleer dat Afrikaanssprekende mense regoor die wêreld is!

Daarna het ons ons toergroep op die lughawe verwelkom asof ons Geneva en die land soos ons handpalm ken … Vol bravade het ons op die trein na Wilderswil geklim, hoewel eers ná ’n gesukkel om kaartjies te kry na ons bestemming: ons het gesukkel om die naam van ons eindbestemming reg uit te spreek vir die agent. Dit blyk toe dat dit eintlik moet klink soos “Wielderswiel”.

Die roete het ons langs Lake Geneva geneem tot in Bern, waar ons oorgeklim het na die trein Interlaken toe, met ’n kort rit van daar na Wilderswil. Wilderswil is skaars 4 km buite Interlaken. Op die roete het ons van stadsgraffiti tot rollende heuwels gesien, en die enigste herinnering aan ons tuiste was die Afrikaans wat ons met mekaar gepraat het.

As Suid-Afrikaner is dit moeilik om te verstaan hoe so ’n klein landjie so beroemd kan wees. Mense in Switserland toer nie baie binnelands nie, maar weens die lang afstande is dit nie die geval in Suid-Afrika nie. Switserland is maar 41 285 vierkante kilometer groot, teen Suid-Afrika se 1,22 miljoen vierkante kilometer.

Met die aankoms by ons hotel is ons dadelik geneem om ons “ski-wapens” te gaan kry, soos die Nieu-Seelandse verskaffer dit noem. So het ons ook uitgevind dat baie van ons rugbyvyande hier woon. Met ons terugkoms het ons die hotel verken en ons toergids en eienaar van die hotel, Carel, ontmoet. Carel het kortliks aan ons verduidelik hoe die ski en area werk. Die volgende dag het die groep hulle eerste lesse gaan trotseer, terwyl ek siek agtergebly het. Terug by die hotel het Jannie met kinderlike opgewondenheid verduidelik hoe die eerste dag was.

Op dag 2 het ons die ander toeriste ontmoet en geleer dat ons baie in gemeen het – met een of twee uitsonderings is ons almal gebore in Suid-Afrika. Daar was 24 Suid-Afrikaners in die groep, en Afrikaans is oral in die hotel gehoor.

Gedurende die agt dae wat ons in die Alpenrose in Wilderswil gewoon het, het ons daagliks gaan ski in verskillende klein dorpies in die Jungfrau-area. Carel se ski-lesse het ons vinnig vaardig gemaak. Lauterbrunnen, Wengen, Mannlichen, Kl.Scheidegg, Grindelwald en Murren is maar sommige van die dorpe wat ons besoek het en waar ons geski het. ’n Mens kan van een dorp tot die volgende ski, en die dorpe is verbind met kabelkarre of treine.

Dit was vir my ’n groot aanpassing om die ski-hysers en kabelkarretjies te ry (nog ’n item van my “bucket list” af!). My vrees vir vlieg gaan gepaard met my vrees vir hoogtes, en daardie vrees is behoorlik getoets toe ons die kabelkarretjies getrotseer het na die James Bond-museum en  Piz Gloria-restaurant by Schilthorn, wat 2 940 m hoog lê. Die restaurant draai 360 grade in ’n uur, wat dit ’n asemrowende uitkykplek maak.

Ons het ons ski’s vir twee dae gebêre om Interlaken en die Thunersee se noordelike walle te verken. In Duits beteken Interlaken letterlik “tussen twee mere”. Interlaken het die naam gekry omdat dit tussen die Thunersee en Breinzersee lê. Die dorp en die meer is prentjiemooi. En vir ’n rukkie kon ek myself ook in hierdie prentjie plaas, by die Italiaanse restaurant in Beatenberg. Hier kon ons werklik die verskil ten opsigte van leefstyl en in kultuur raaksien, want hier het ons met die plaaslike inwoners kennis gemaak en nie met ander toeriste in die berge nie.

Ons het ons laaste dag in Interlaken deurgebring, waar ons geskenke gekoop het om terug te neem na geliefdes by die huis. Ons het na die huis begin verlang maar kon terselfdertyd nie glo dat ons kort tydjie hier reeds tot ’n einde gekom het nie.

Wat my opgeval het …

Mense hier ry fiets of stap na vervoerpunte. Voetgangers is koning op die paaie. Selfs in besige strate stop motors vir voetgangers by ’n voetoorgang. Kinders stap alleen na die bushaltes of skool, met geen begeleiding van ’n ouer nie.

Mense loop met ’n bier in die hand in die strate, hoewel ons soos kriminele gevoel het toe ons dit gewaag het – veral toe ons ons in twee polisiemanne vasloop op die bus! Tieners mag al vanaf 16 bier of wyn drink.

Daar is min vleis in die geregte, maar daar is ’n groot verskeidenheid koskulture, soos Italiaans, Indies, Iers ens. En baie restaurante bedien alles van pizzas tot sosaties; van varkschnitzels tot perdesteaks!

Die Switsers is baie gesteld daarop om betyds te wees met alles. Nogtans is niemand gehaas vir niks nie, want ’n mens hoef nêrens te haas as alles op skedule gebeur nie. Hier is geen Afrika-tyd nie.

Wilderswil …

Wilderswil is ’n klein, stil dorpie net voor ’n mens die berge ingaan. Die dorp word gekenmerk deur unieke houthuisies wat met persoonlike items versier is, met die witgesneeude berg in die agtergrond. Die dorp is ingestel op ’n minimalistiese leefstyl, en het min winkels. Alle geraas (indien enige!) moet voor 10 in die aand ophou. Selfs die spuitfonteine in die tuine moet stiptelik om 10 saans afgeskakel word. Die inwoners is heeltemal gemaklik met die stand van sake in hulle dorp, en ontmoet mekaar graag weekliks by die restaurant of kroeg om in voeling met mekaar te bly.

Carel en die Alpenrose se personeel het dit reggekry om vir ons klompie Suid-Afrikaners ’n bietjie “huis” te skep in Switserland, maar het ons ook elke aand op toer geneem met die kos en drankies. Daar is alles bedien van eg Switserse fondue (bietjie souterig na my smaak), tot ’n Duitse ete met schnitzels, tot Suid-Afrikaanse bobotie en piesangslaai. En elke ete is gekomplementeer met die gepaste drank.

Die berge …

Met ons aankoms was die voetheuwels nog maar vaal, hoewel die steil treinrit bergop steeds mooi was. Die dorpies hoër op het hier en daar ’n teken van sneeu getoon. Maar nadat dit gesneeu het, was die vaalgroen heuwels bedek met ʼn digte laag sneeu. Die dorpe het kleurvoller geword en voertuie het anders geklink met kettingwiele op die teer. ’n Mens ervaar ’n totaal ander gevoel. Die sneeu bring kalmte oor die area, maar daardie kalmte vervaag vinnig soos wat die trein hoër teen die berg opgaan. Die kalmte maak dan plek vir die opwinding en plesier van honderde mense wat hulself gate-uit geniet op ski’s, sneeuborde en sleë. Toeriste neem derduisende foto’s, in die hoop om daardie gevoel met ’n kameralens te kan vasvang.

Ter nabetragting …

My eerste toer oorsee het my laat besef dat daar ’n wêreld daar buite is waarvan ek graag meer sal wil ervaar. Ek wil op plekke gaan toer waar ek nuwe mense kan ontmoet en nuwe ervarings kan hê. Die mense wat ek ontmoet het op die toer, het my ’n ander perspektief op die lewe gegee. En ek weet sommige van hulle gaan ek nog vir baie lank my vriende kan noem. Selfs al woon daardie mense nou nie meer in Suid-Afrika nie, is hulle baie goed op hoogte van wat hier aangaan. Die “expats” wat ons ontmoet het, het steeds ’n emosionele band met die land. Dit maak my trots om te kan sê dié land is steeds my tuiste.

Die ervaring het my ook bewus gemaak van hoe eng ’n mens se denkraamwerk kan wees hier in Suid-Afrika. Daar is mense in ander lande wat ook soos ons dink en leef: ons is nie alleen nie.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest