Leesvordering:

Van die Namib se duine tot by die paradors van Spanje

Okt 8, 2019

Daar is wonderlike kontraste in dié ou wêreld van ons. So ’n hele paar jaar terug het ek en my seun Christiaan die voorreg gehad om binne drie maande sowel Sint Petersburg in Florida en die werklike sneeubedekte Sint Petersburg in Rusland te besoek. Nou was dit weer so: Die afgelope drie maande was dit eers Christiaan en Nicole se troue in Namibië se tydlose duine, en ’n paar weke later die geheimsinnige kloosters in die berge en klowe van Noord-Spanje.

Maar laat ek julle eers vertel hoe die romanse ontstaan het. Dit was vroeg in Desember 2017 en ons kaartjies vir die Kerssangdiens by die Great Methodist Hall in Westminster het nog nie aangekom nie. (Ek dra maandeliks tot ’n Christelike radiostasie by en hulle stuur dan altyd kaartjies vir dié besondere diens.) Die Saterdag voor die diens se ek toe vir Mariaan dat ons seker maar nie dié Sondagaand Londen toe sal gaan nie. Mariaan stuur toe nóg ’n versoek per e-pos (ek het nog gesê niemand sal seker op ’n Saterdag reageer nie). Tot ons verbasing kom daar toe vier kaartjies op die Sondagoggend aan. Ons seun Christiaan het nog by ons gebly en hy was dus beskikbaar. Ons moes toe vinnig skarrel om nog een ekstra persoon te kry. Ons het onmiddellik aan Renier Theron gedink, ’n jong plaasboer wat hier op die eiland werksaam was, en ook aan Nicole wat by vriende van ons – die van Zyls – kinders opgepas het. Op dié stadium het Christiaan nog nie vir Nicole ontmoet nie, al het ek en Mariaan haar toe al vir omtrent 18 maande geken. Nicole was nader as Renier, en Mariaan het nog vir Christiaan gevra of dit in orde sou wees as sy sou saamgaan. Hy het nog so ewe gebrom: “Ek hoop nie Ma is besig met matchmaking nie.”

Ons vier is toe na die indrukwekkende diens in die hart van Westminster, reg oorkant die Britse parlementsgebou. Ná die tyd was daar geleentheid vir koffie, koekies en geselsies. Ons het vriende raakgeloop en met hulle gestaan en nuus uitruil. Toe ek so tussen hulle deurloer, sien ek Christiaan en Nicole gesels land en sand soos ou bekendes. Tuis gekom, het ons Nicole vir koffie genooi. Sy het vir ’n rukkie gekuier en haarself toe verskoon omdat sy die volgende oggend vroeg aan diens was. Tot my verbasing het ek toe gesien hoe die normaalweg skaam Christiaan oorbuk en haar summier met sy lang arms omhels. Ek het dadelik geweet hier kom ’n ding! Daardie week het hy vyf keer by Nicole gaan kuier en vandaar het dinge soos ’n rollende sneeubal voortgesnel.

Christiaan is die volgende Desembervakansie saam met ons Namibië toe; hy het ouers gevra en hulle is toe in Maart in ’n kerk hier in Tonbridge getroud. Maar dit was net haar pa, ma en sussie wat vir die geleentheid kon oorvlieg; al die oupas en oumas, ooms en tantes in Namibië kon nie hier wees nie. So is daar op ’n tweede seremonie in Namibië besluit.

Mens voel sommer dadelik tuis as jy in Namibië aankom: Die mense is oop en vriendelik, en dis opmerklik dat Afrikaans nog ’n algemene voertaal is. Nicole se Duitssprekende oupa en ouma het ons by die lughawe ontmoet en ons het sommer gou lekker gekuier, veral omdat die tannie die lekkerste kaaskoek ooit bak.

Die eerste uitstappie was ’n sogenaamde living desert-toer in die duine net buite Swakopmund. Die toergidse krap of grou adders, salamanders, skerpioene en selfs verkleurmannetjies uit om te wys hoe aanpasbaar dié klein diertjies is ten spyte van die meedoënlose woestynklimaat.

Die huwelikseremonie was in die ongerepte duine, wat beteken het dat die bruid met ’n Land Rover aangery is. Dit was ’n koelerige middag en ons ou groepie van so tagtig mense het maar klein gevoel in die groot, oop ruimtes van die woestyn.

Die aand se feestelikhede is in Swakopmund se kasteel of fort (genaamd Pathfinder Heim) voortgesit, en Nicole se familie het gesorg vir ’n onvergeetlike aand. Die stringe liggies bokant die stoele het dit soos ’n sprokieswêreld laat voel. Die tema was vintage, met ou 33-spoed vinielplate vir plekmatjies en stapels ou boeke. Selfs die blommerangskikkings het daarvan getuig. Benewens al die Duitse eetgoed was daar heerlike gebraaide gemsbok-steaks.

Die bruid en bruidegom het heelwat verpligtinge gehad: Benewens die tradisionele toesprake moes hulle met ’n treksaag wys dat hulle kan saamwerk en ’n dik stomp deursaag – onder luide gelag en gespot. Die dansery het tot laat aangehou.

Twee foto’s wat die kontras tussen die twee bestemmings demonstreer. Links bo is ons dubbelkajuitbakkie in Namibië, en regs die witblits in Spanje – en ons was ewe tuis in albei. Viva la difference!

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest