Leesvordering:

“Vat jou goed en trek!”

Apr 8, 2021

Deur Ilze Nieuwoudt

Dit gebeur alte dikwels dat die woorde van ’n liedjie of gedig in die volksmond vashouplek kry en tot ’n gesegde omvorm word. Só is die woorde “Vat jou goed en trek, Ferreira” reeds so tuis in Afrikaanse spreektaal dat dit nouliks ’n verduideliking kos aan die arme siel wat dié woorde toegesnou word. Dit is egter te verstane dat dié gesegde reeds sy intrek geneem het, want van die eerste verwysings na die gelyknamige liedjie is reeds in 1870 opgeteken. Sedertdien is dit in talle sangbundels opgeteken en word dit reeds geslagte lank gesing.

In ’n artikel deur dr. S.J. du Toit wat op 29 Januarie 1932 in Die Huisgenoot verskyn het, word die oorsprong van dié bekende volksliedjie ondersoek. Volgens Du Toit is daar, soos in die geval van talle ander volksliedjies, telkens nie net een “ware” verhaal oor die ontstaansgeskiedenis nie. “’n Klein vyftig jaar, selfs minder, is in die reël genoeg om die sluier van vergetelheid oor die oorsprongsgeskiedenis van ’n volksliedjie te trek,” verduidelik hy.

Volgens sy navorsing het Hendrik P.N. Muller reeds in 1889 in sy boek Zuid-Afrikaanse Reisherinneringen verwys na ’n liedjie wat deur ’n kommando op pad na Stellaland gesing is met die volgende woorde: “Vat jou goed en trek, Pereira! / Vat jou goed en trek! Al aan die een kant zwaard dra, / Al aan die een kant zwaard dra, ja, ja / Jannie met die hoepelbeen.” Muller het ook gereken dat Jannie “een oud voortrekker” was.

Die oorsprong van die liedjie is egter nie heeltemal duidelik nie – en volgens oorlewering het verskeie persone al beweer dat dié of daardie persoon die eintlike “Jannie met die hoepelbeen” was. Du Toit verwys in sy navorsing na twee oorsprongsverhale. In die eerste kom die liedjie oorspronklik na aanleiding van ’n oorywerige vryer van Somerset-Oos. Die mank wewenaar het blykbaar “’n sekere jong dame met meer besoeke vereer as [wat vir] haar eintlik aangenaam was. Saam met ’n vriendin het sy toe Vat jou goed en trek, Ferreira gedig.” Kort voor lank het die dorp ook aan die sing geraak en het die wewenaar sy besoeke gestaak.

Volgens die tweede weergawe, wat reeds in 1870 oorvertel is, is dié liedjie as ’n bespotting op die een of ander Bolandse dorpie deur die plaaslike werkersgemeenskap gesing. Hiervolgens was Ferreira die ongelukkige vent wie se vrou deur sy vriend afgevry is. Dié het toe besluit om die dorp te verlaat en sy vrou agter te laat “in besit van sy suksesvolle mededinger”. Du Toit vertel dat hoewel die man se naam wel nie “Jan Ferreira” was nie, het hy wel “’n paar baie krom bene gehad”. Die werkers het juis om veiligheidsredes ’n skuilnaam vir hul spotliedjie gekies.

“Jannie met die hoepelbeen” het dus na dié man verwys, terwyl “al aan die eenkant swaar dra” blykbaar volgens Du Toit na “die toestand van sy vrou” verwys het. Of Du Toit met die woord “toestand” na ’n swangerskap verwys, is nie duidelik nie, maar dit wil so voorkom.

Daar is egter nog weergawes opgeteken – soos dié een in dr. Anton Prinsloo se boek Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (uitgegee deur Pharos). Volgens dié weergawe, wat oorspronklik in die vrouetydskrif Die Boervrou van Oktober 1926 opgeteken is, was Annie Malony die komponis van die wysie. Sy het eens op die plaas van ene Van Aart in Somerset-Oos tuisgegaan. Van Aart se buurman was volgens oorlewering ’n Ferreira met die bynaam Hoepelbeen – sy een been was korter as die ander. Hoewel Van Aart die plaas by Hoepelbeen gekoop het, wou dié eenvoudig nie van die grond af padgee nie. Dit het ’n bespotting geword en Malony en een van Van Aart se dogters het onderskeidelik die musiek en lirieke van die liedjie geskryf. Kort hierna is die hele wyk, Hoepelbeen inkluis, na ’n dans genooi en is die liedjie hier gesing. Blykbaar het Ferreira hierna die boodskap gekry en wel sy goed gevat en getrek.

N.H. Theunissen skryf in Die Brandwag van 18 November 1938 ook oor “Vat jou goed en trek”. Volgens hom is daar deur oorlewering geglo dat die liedjie geskryf is deur ’n “’n sekere ou tante, Malonet”. Kon dit moontlik die Annie Malony wees waarvan Prinsloo ook geskryf het? Hoe dit ook al sy, arme Ferreira, wie hy ook al was, sal waarskynlik nog vir generasies ’n gespotte hoepelbeen wees wat eenvoudig nie wou trek nie.

Kitsfeit
Die eerste liedjie wat oor die destydse Springbok Radio uitgesaai is, was “Vat jou goed en trek, Ferreira.”

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kinderboeke vir oud en jonk!

Kinderboeke vir oud en jonk!

Nuut op die rakke: Kinderboeke vir oud en jonk! Skerwe - Sally Partridge Ses vriende woon ’n musiekfees in die Cederberg by. Net vyf kom terug. Vir haar sewentiende verjaarsdag nooi Demi Crowley haar vyf beste vriende saam met haar na ’n musiekfees vir die partytjie...

Lapa Uitgewers: Ouma Mollie en die mensvreter

Lapa Uitgewers: Ouma Mollie en die mensvreter

Ouma Mollie en die mensvreter Fanie Viljoen Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootse moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai. Gelukkig hou Nina haar ouma (gewoonlik) uit die moeilikheid. Vandag is egter nie...

Oom Paul, sy soldate en die plein

Oom Paul, sy soldate en die plein

Terwyl die storms oor die geskiedenis woed en betogers onlangs nog met spuitverf rondom Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria gedans het, staar dié ou staatshoof in stilte in die verte. Sy klipvoete staan dalk nou (nog) rustig op Kerkplein met sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest