Leesvordering:

Verbreek die radiostilte – Finding Cloud Cuckoo Land

Jul 21, 2016

92 dae gelede het ons ons vaderland verlaat en op hierdie warrelwindreis deur Suidoos-Asië vertrek. As jy ons storie volg, sou jy agtergekom het dinge in Finding Cloud Cuckoo Land is maar ‘n bietjie stil. Maar moenie kwel nie; dit is omdat ons ons gate uit geniet terwyl ons stories en herinneringe versamel om op ons nederige blog met jou te deel. Om te blog, het ek agtergekom, is nogal ‘n werk op sy eie. Om tyd te maak om gedagtes en stories te gaan sit en neerskryf kan soms moeilik wees, maar ons het besluit die radiostilte duur te lank en ons het te veel stories en foto’s om te deel, so sal ons meer moeite doen om ons blog op datum te hou – selfs al is dit net om ons familie en vriende op hoogte te hou.

Om te reis was nog altyd ons droom en nou het daardie droom waar geword, maar alle drome vra ook opofferings en die reis verloop nie altyd klopdisselboom nie. Busritte kan angswekkend wees, hotelkamers aaklig en mense gewoon onbeskof. Soms lyk die droom vir die res van die wêreld wonderlik, maar ons het ook goeie en slegte dae net soos by die huis. Die goeie oortref die slegte, maar slegte goed gebeur en kan jou frustreer en hartseer of bloot die josie in maak. Al hierdie slegte ervarings het ons egter lesse geleer en daarom stamp ons selde ons koppe twee keer teen dieselfde klip.

Hier is ‘n paar van die lesse wat ons tot dusver geleer het:

1. Begin jou dag met ontbyt. Hierdie les het ons al in ons tweede week op reis vinnig geleer. As jy moeg, warm en honger is, kan dinge vinnig vir alle betrokke partye lelik skeefloop. Glo my, probleme word makliker met ‘n vol maag opgelos.

2. Busritte is nie lekker nie. Om ure in ‘n bus te sit om van die een land na ‘n ander te ry, is reeds ‘n beproewing. As hoevele mense op die bus boonop opgooi en die bus aanhoudend stop om soos ‘n koerierdiens pakkies op en af te laai, as daar sakke van die dak afval en die bestuurder op smal kronkelpaadjies ry asof die duiwel hom jaag, weet jy jy is op ‘n  bus in Asië. Daar is maniere om dit te vermy, maar as jy goedkoop wil reis, sal jy waarskynlik só ‘n bus haal. In daardie geval kan jy net een ding doen – haal asem, sit jou oorfone op en glo die mense “weet wat hulle doen”.

3. Die mense in Asië is geldhonger. As jy van Westerse afkoms is (selfs as is jy ‘n arm Afrikaan), glo hulle jy het ‘n vet beursie en hulle wil jou baie graag help om daardie vet beursie ‘n bietjie dunner te maak – of dit nou is deur die koste van produkte te verdubbel of deur vir jou te min kleingeld te gee. Werk baie versigtig met jou geld en probeer om nie kwaad te raak oor die aanhoudende – en ek bedoel aanhóúdende – uitbuiting nie; dit kan baie maklik jou bui of jou hele dag bederf.

4. Die Viëtnamese Hand is frustrerend. As Viëtnamese nee sê, maak hulle ‘n handgebaar: hulle steek ‘n hand reguit in die lug op en draai dit 180 grade na links en regs. Ons het dikwels verdwaal of wou net iets eenvoudig vra, maar dan is daardie hand in die lug gegooi en dis die einde van die gesprek. Dan help dit nie eens jy probeer weer nie; jy word bloot geïgnoreer en dis die einde van die storie.

5. Moet nooit vergeet dat hierdie die kans van ‘n leeftyd is nie. Al gaan dit soms rof, sal jy later vergenoeg en met vreugde terugdink aan jou reis. (Ek dink ons leer hierdie les daagliks.)

6. Jy gaan huis toe verlang. Die heel grootste les is om nie jou huis as vanselfsprekend te aanvaar nie. Waar jy ook al vandaan kom, jou huis is waar jou mense, jou kultuur en soms jou taal is, maar bo alles is dit waar jou hart is. Gelukkig is vriende en familie met tegnologie net ‘n telefoonoproep ver, maar op een of ander tyd tydens jou reis gaan jy huis toe verlang.

Op ons reise het ek oorblyfsels van verskriklike oorloë gesien wat net so gelos is vir ander om op te ruim. Ek het gesien hoe mense elke greintjie menslikheid verloor as gevolg van gierigheid. Maar wat maak my die bangste maak, is die besoedeling van ons geliefde oseane en woude. So doen asseblief vir ons ‘n guns, of dalk twee: tel jou vullis op en wees net gaaf met jou bure.

Ek moes dit net van my hart af kry. Maar op ons reise het ek het ook natuurskoon gesien en mense met harte en glimlagte so wyd soos die see ontmoet. Ek het dinge beleef wat ek nooit sal vergeet nie en ek het goed gesien wat nooit weer ongesiens kan word nie. Ek geniet elke tree van hierdie reis en sal dit aanhou geniet.

Bly ingeskakel; daar is tonne stories op pad.

Lees ook: Uit en Tuis Rubriek – Groete uit Suidoos-Asië

Conrad & Mareli is twee pasgetroudes van sonnige Suid-Afrika. Hulle het onlangs besluit om alles op te pak en deur Suidoos-Asië te gaan toer, beginnende in Viëtnam. Volg hulle storie op hul webtuiste (http://www.findingcloudcuckooland.co.za/) en kyk na hulle foto’s of sê net hallo. Hulle is fotograwe, ontwerpers, organiseerders en is altyd op soek na nuwe geleenthede en avonture. Moenie huiwer om hulle te kontak nie!

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest