Leesvordering:

Vergrootglas op ekspat-depressie

Mar 28, 2022

Die belangrikheid van goeie geestesgesondheid is ’n onderwerp wat wêreldwyd meer en meer aandag kry – en ook verdien. Die stigmas oor toestande soos depressie en angsversteurings, asook die behandeling daarvan, is beslis nog nie iets van die verlede nie, maar daar is deesdae meer begrip daarvoor en dit is iets  waaroor mense meer geredelik praat.

Een soort depressie waarop daar onlangs eers meer klem geplaas is, is die voorkoms van depressie in ekspats.

Dit is belangrik om nie ekspat-depressie te verwar met ’n aanpassingsversteuring nie, want die laasgenoemde is eerder ’n korttermynreaksie op ’n groot bron van stres. Die depressie wat hier omskryf word, is klinies van aard en sluit simptome soos lae energievlakke, hoofpyn, lyfseer en maagprobleme in. Daar word berig dat hierdie simptome tussen 2014 en 2016 met soveel as 50% toegeneem het by ekspats wat na China verhuis het. Janet Visser, ’n ekspat wat Suid-Afrika vier jaar gelede verlaat het en nou in Texas woon, beskryf die aanvanklike aanpassing as “oorweldigend en emosioneel, ’n regte-egte emosionele wipplank”.

Studies oor die laaste 25 jaar toon dat die druk op ekspats soveel groter is as vir dié wat kies om tuis te bly. Nie net ervaar hierdie persone die normale druk by die werk nie, hulle is onder ekstra druk om op ’n persoonlike en professionele vlak ’n sukses van die skuif te maak. Hierdie depressiewe gevoelens kan ’n sneeubal-effek hê en uiteindelik lei tot selfmoordneigings, daarom is dit so belangrik om bewus te wees van die simptome en stappe te neem om dit te voorkom.

Vyf wenke om ekspat-depressie te beveg

Bou ’n netwerk

“Ek het dadelik die bure gaan ontmoet. Ek weet dit klink simpel, maar tot vandag toe nog kan ek op hulle knoppie druk,” vertel Sanet Verster, wat nou reeds drie jaar as mediese dokter in Kanada werk. Dit kan intimiderend wees om daardie eerste stap te doen, maar sodra jy ’n naam by ’n gesig kan sit, voel dit meer bekend en het jy iemand by wie se deur jy in noodgevalle kan gaan aanklop.

Behou jou wortels

“Dit is oukei om vir jou vriende en familie te sê dat jy huis toe verlang. Dit is ook belangrik om eerlik met jou lewensmaat te wees, veral as jy depressief begin voel,” glo Janet. Sy is ook lief daarvoor om Suid-Afrikaanse resepte te maak as sy verlang. “Ek het ook al uitgestel om ’n oproep van ’n geliefde in Suid-Afrika te neem, net omdat ek op daai oomblik baie emosioneel was en hulle sommer maklik vir jou sal sê om terug te kom, al weet hulle dit is nie regtig ’n antwoord nie.” So ook, is dit belangrik om by Suid-Afrikaanse netwerke in ander lande aan te sluit sodat jy tog ook dáár ‘n stukkie “huis” kan beleef.

Leer die taal

Indien jy reeds met die taal vertroud is, is dit natuurlik ’n bonus! Soms is dit egter nie die geval nie. Om aanvanklik ’n paar kernwoorde te leer – en dan later ’n paar sleutelfrases – kan wondere doen om jou te help om meer tuis te voel. Omdat supermarkte en openbare vervoer se stelsels in ander tale baie oorweldigend kan wees, kan baie van daardie angs bekamp word as jy gedeeltes van die taal kan verstaan.

Ontdek en skep ’n roetine

Daar is min goed so lekker as om ’n nuwe plek te ontdek, so moenie terughou nie! Gaan ontdek al die nuwe eetplekke, mooi landskappe en oulike winkeltjies, maar onthou ook om vir jou ’n roetine te begin vestig. Kry ’n gimnasium en gaan oefen daagliks, kies ’n gunstelingkoffiewinkel en loer elke oggend op pad werk toe daar in, of besluit wat is jou “go-to”-supermark.

Beplan die vakansie huis toe

Moenie skaam wees om te droom nie. Die wete dat daar ’n wegbreek om die draai wink, maak die lang pad deur die sneeu-winter baie korter. Om met jou familie wat nog in Suid-Afrika is te praat, is maar ’n moeilike storie, so dit is baie lekker om te weet jy kan bel en oor al die vakansieplanne praat. Dit oriënteer jou en gee jou iets om na uit te sien – wen-wen.

LEES OOK: My kind emigreer – hoe nou gemaak?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest