Die 2019-verkiesing is om die draai en oor sekere aspekte daarvan is daar meer sekerheid as oor ander.

Ek het nou al vir ’n paar gehore ’n aanbieding oor politieke tendense en die verkiesing gedoen en dit val my op hoe oningelig mense eintlik oor stemkeuses is. “Vir wie moet ons stem?” is die vraag wat pal eerste opklink. Natuurlik is AfriForum nie ’n politieke party nie en ons skryf ook nie voor aan mense hoe om te stem nie. Ons wil Afrikaners vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika maak. My taak is om deur middel van ontleding mense beter toe te rus om self keuses te maak.

Voordat stemkeuses hoegenaamd ter sprake kan kom, moet mens egter besluit of jy wel wil stem of nie. Vir heelparty mense is stem ’n mors van tyd en dit is begryplik dat hulle so voel. Suid-Afrika se verkiesings is histories nie vreeslik mededingend nie – 2019 sal dit ook bewys – en minderhede ly grootliks aan wat die Kanadese filosoof Charles Taylor “demokratiese uitsluiting” noem. Jy as individu en lid van ’n minderheidsgemeenskap word wel toegelaat om te stem, maar die verkiesings gaan nie skielike en aardskuddende veranderinge teweeg bring nie. Dus, die tirannie van die meerderheid gaan nie heeltemal verdwyn nie (behalwe dalk in plekke soos die Wes-Kaap).

Vir ander weer is stem die enigste uitweg. “Jy móét stem, want dis jou plig!” lui hierdie refrein. Tussen hierdie twee maksimalistiese pole lê daardie (grys) waarheid: Stem as jy kan, maar moet beslis nie al jou hoop daarop vestig nie. Die harde waarheid is dat daar wel ’n parlement, nasionale regering, asook provinsiale regerings en wetgewers ná die verkiesing gaan wees. Hoe daardie liggame saamgestel word, hang van die aantal stemme in ’n stelsel van proporsionele verteenwoordiging af. Partye kry dus verteenwoordiging in proporsie tot die aantal stemme wat hulle op hulself verenig en na gelang van hoe mense vanjaar op hul stembriewe vir ’n party (of partye) op provinsiale en nasionale vlak stem.

Jy kan dus help besluit hoe die politieke besluitnemingsliggame saamgestel word. Gestel die ANC kry 70% van die nasionale stemme in die verkiesing, kry hulle 70% in die Nasionale Vergadering (NV) om sodoende skadelike wette te maak.

Dis net ’n voorbeeld, maar wys net in strak terme wat kan gebeur. Terloops, hulle het tans sowat 62% van die setels in die NV. Maar jy sal graag eerder ’n ANC op 60% wil trotseer as een op 80%. En jy sal hulle eerder by die stembus wil temper as om hul wetgewende mag “terugwerkend” te probeer beveg.

Ditto die provinsiale wetgewers, waar daar ook beleide uitgevaardig word wat van toepassing op die onderskeie provinsies is.

Hoe gaan die politieke landskap ná die verkiesing lyk?

Daar kan met redelike sekerheid gesê word dat die ANC weer hierdie verkiesing taamlik maklik sal wen. Die peilings wissel maar erg, maar die laagste posisie van die ANC in ’n peiling was 54%. As die grootste party kry hulle ook op stemdag meer stemme by as wat die peilings etlike maande vantevore wys.

Die vraag is egter met hoeveel hulle gaan wen en wat die permutasies vir die res van die partye se steun sal wees. Indien die ANC se steun nader aan 50% as 60% is en die EFF maak opgang, kan hierdie twee partye – wat ideologies die meeste belyn is – straks koalisies in provinsies soos Noordwes en Limpopo vorm. Die ANC kan ook dan meer populisties raak en saam met die EFF in die NV oor kwessies soos onteiening sonder vergoeding stem.

Die vraag is ook hoe die DA en kleiner partye gaan vaar. Die DA het in 2014 se nasionale verkiesing 22,23% van die stemme op hom verenig. Die peilings wys hulle kan enigiets tussen 20% en 24% van die stemme trek. Dit sal uiters teleurstellend vir hulle wees indien hulle te midde van die ANC se groot katarsis ten beste nie eens ’n kwart van die uitgebragte stemme kan trek nie. Hulle het hulself egter geen gunste gedoen deur voortdurend in rasseherries kant te kies nie.

Die EFF is tans ’n onbekende faktor. Hulle voer ’n taamlike stil veldtog in terme van plakkate en ander inisiatiewe. Die peilings plaas hulle op enigiets tussen 6% en 12% – en dit sal gevaarlik wees indien hulle 12% kan kry.

Die VF+ het sekerlik hul grootste en sigbaarste veldtog tot nog toe gevoer en hulle kan verwag om heelwat steun by die DA af te rokkel en sterker in die noorde van die land en in die parlement te staan ná die verkiesing. Die res van die kleiner partye is, met alle respek, geen werklike faktor nie en mens kan dit aflei uit hul (gebrekkige) veldtogte en sigbaarheid. Dalk bêre hulle die grofgeskut tot ’n week of twee voor die verkiesing, maar dis te betwyfel.

Uiteindelik lê die antwoord nie in die trek van kruisies elke paar jaar nie, maar in die verskil wat die burgery 365 dae van elke jaar maak.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Eugene Brink
Eugene Brink
Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest