Ek was so ver vier keer gelukkig om in die buiteland te kon wees. Bietjie meer as ’n mens die geleenthede wat ’n mens hier en daar deur van die voormalige onafhanklike tuislande gery het, sou bytel. Ja, die uwe en vroulief se wittebrood was ook deels in die buiteland, maar nie meer nie.

Die een buitelandse geleentheid was ook die gelukkigste jaar van my lewe. Ja, ’n hele jaar.

Pa Jan het die geleentheid gekry om ’n jaar lank te gaan navorsing doen in Syracuse, New York. Daar, amper teen die Kanadese grens. Ek was toe sewe, en het sub B hier misgeloop. Daar in die Moth Road Primary het ek die helfte van “Grade Two” en “Grade Three” in dié jaar deurloop.

Ons het in die dorpie Fayetteville gewoon. Ons het elkeen spanne maatjies gehad.

Omdat my beste maatjie in Stellenbosch, waar ons toe gewoon het, Engelssprekend was, was ek nie heeltemal wild vir die Engels nie. Die maatjie se ma was eintlik ook ’n Amerikaner, en tydens ’n lang vakansie was ons by die ouma in die VSA aan – in ’n stowwerige myndorpie. Die naaste beskrywing wat ek vandag sou kon gee oor waar die dorpie is, is soos ’n mens Amerika inkom, hou mens net reguit vir so ’n duisend of twee, drie kilometer. Destyds het die Amerikaners my dit op die hart gedruk, hulle praat Amerikaans. Dis g’n niks Engels nie, en ek was verras toe ek later jare agterkom hoe hulle nou na hulself as Engelssprekend verwys.

My broer, drie jaar jonger as ek, het egter nog min met die rooi taal te make gehad. Hy was egter van kleins af baie sosiaal en die taalprobleem was geen struikelblok nie. In plaas van om Engels, of dan Amerikaans, aan te leer, het hy die maatjies Afrikaans geleer. So in die Babels is te lekker gespeel. Ma Johanna kyk by geleentheid by die venster uit en sien ’n klomp oorloglustige kindertjies, met stokke en allerlei gewapen, die straat afgestorm kom. Vooraan haar eie. “Ôlôg!” gil die mannetjie terwyl hy sy “swaard” woes deur die lug laat klief. “Ôlôg!” skreeu die klein Yanks agterna.

Die lekkerste van die skool was dat die roede gespaar gebly het. Ek was jare later geskok toe ek uitvind dat pak kry by die skool g’n verbode was nie. Destyds kon die staat New York se onnies ook nog die “paddle” of “slipper” inspan – op seuns en dogters, met die onderstel die bestemming, maar daarvan was geen teken nie. Selfs vandag is lyfstraf in 19 van die Amerikaanse state wettig. Om die waarheid te sê, is meer as 300 000 seuns en meisies in die jaar 2 000 deurgedraf. Dit het daarna skerp afgeneem tot ongeveer 100 000 per jaar.

Maar van hierdie slagting was ek onbewus, wat kindwees in die VSA vir my bitter naby aan hemelse standaarde gebring het.

Nog ’n deel van kindwees was Kersfees. In Suid-Afrika was Kersvader al ’n ruk by my ’n kindermite. Maar in die VSA met sneeu en winkels wat musiek speel soos Jingle bells, het afvallig wees van Kersvader nie ’n kans gestaan nie. Nie lank nie, toe was Kersvader vir my weer ’n absolute werklikheid. Die Kersfees-opwinding was iets yslik.

En hét ek na Kersvader se besoek uitgesien, want Kersvader, so onthou ek van Kersfees by De Bakke in Suid-Afrika, kan Afrikaans praat. Wat ’n ontnugtering toe Kersvader kom en net die Yanktaal kon gooi.

Maar die Yanks was eens op ’n tyd dom. In plaas van met die Engels swoeg, kon hulle iets ordentliks soos Afrikaans gepraat het, of meer waarskynlik seker Nederlands. Ja, New York was eers Nieu-Amsterdam en ’n Nederlandse besitting. Die bekende Wall Street was Wallestraat – gelukkig nie Walletjesstraat nie, na aanleiding van ’n wal wat gegooi is om Indiane met lang vingers weg te hou. Verskeie woorde is van Nederlandse oorsprong, soos “coal slaw” (koolslaai), en ja, “gat fly” van …perdevlieg af. Kyk maar waar boer ’n perdevlieg. Aardvark en aardwolf het ook ’n Nederlandse streep weg. Selfs die woord “dollar” se gebruik in die VSA is aan die Nederlanders te danke. Wanneer die inwoners van die omringende Engelse kolonies goed by die Nederlanders aangekoop het, was dit, volgens hul eie dokumente, in “Riks Dollars”.

Dit kos nie veel verbeelding om die woord Rijksdaalders hierin te sien nie.

Die sprekendste voorbeeld van die Amerikaners se verkwanseling van hul kans om ’n ordentlike taal te kon praat, was die woord “yank.” Ja, dis ook aan Nederlands te danke. In die Nederlandse kolonie was naamlik baie mense met die naam Jan en ander met die naam Kees. Daar is toe sommer kortweg van die plek gepraat as daar waar baie Janne en Kese woon, en gou het dit Yankees geword.

Die omgekeerde (of so iets) het ook gebeur. Die Ou Wêreld het nie kossoorte soos mielies, pampoene, aartappels, patats, sekere soorte boontjies en nog ’n groot verskeidenheid ander geken nie. Dit het saam met Columbus van die  Nuwe Wêreld af gekom. Tot die Jerusalem-artisjok kom van Amerika af. Maar koring was deel van die Ou Wêreld en ’n mens lees in onder andere die Bybel daarvan, soos Rut wat op Boas se lande koringare wat op die grond beland het, moes gaan optel vir haar en Naomi.

Maar hoekom lees ’n mens dan gedurig van die Indiane wat so vreeslik koring geplant het? Selfs in ’n bekende ensiklopedie?  Want hulle het “corn” verbou, wat in die vertaalproses so knaend met koring vertaal word. Maar “corn” is mielies, met ander woorde die bekende “sweet corn”. Om “koringmeel” te kry, het die ou Indiane akkers fyngemaal. Ja, hulle het sand gebruik om die tannien uit te loog, maar dit was nie altyd nodig nie. Sommige van die Amerikaanse akkerspesies het so min tannien bevat dat ’n mens dié vrug omtrent soos neute kon eet.

Ja, en Columbus se manne was so vies oor die waardelose tabak wat hul skepe so swaar gemaak het, dat hulle dit oorboord gegooi het. Ongelukkig toe nie al die tabak nie.

Volgende keer praat ons verder oor die VSA (iewers in die buiteland). Intussen, dink ’n bietjie hoe saai ’n hedendaagse Nagmaalete sal wees as net gehou word by die kosse wat tot die Bybelse mense se beskikking was – selfs pynappels sou onbekend wees.

Dan sal jy sommer lees wat ’n verskimmelde besoeker aan die buiteland is.

Herman Toerien
Herman Toerien
Herman Toerien is ’n vryskutskrywer en politieke en staatkundige navorser van Bloemfontein. Hy skryf Maroela Media se daaglikse nuuskommentare en een keer per week ook dié van Pretoria FM, hy skryf Ruimtenuus vir RSG se gewilde program, Sterre en Planete, en onder sy wetenskaplike artikels en berigte tel verskeie oor outisme (sy jongste seun is outisties) en kanker, nadat hy meer as vier jaar gelede met twee soorte kanker gediagnoseer is. Verskeie van sy artikels is al in die publikasies van die GKSA (Doppers) en die NHK (Stoepsitters) gepubliseer. Hy was voor hy siek geword het ’n gereelde panneellid van RSG se program Kommentaar. Hy is getroud met Joan, ’n plaasmeisie van Bethlehem en ook ’n opgeleide onderwseres. Sy oudste seun, Nic, is ’n plaasbestuurder en hy en sy vrou, Leandri, woon op ’n vrugteplaas buite die Paarl. Sy jongste, Jandré, is ’n outistiese kunstenaar wat skilder, maar veral bekend is vir sy keramiekwerk.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest