Leesvordering:

Vlugtelinge na ’n nuwe land

Apr 8, 2020

Die koms van nagenoeg 300 Franse Hugenote na die Kaap in die laat 1680’s word vandag dikwels geromantiseer. Die idee van wyn, die elegante klanke van die Franse taal en die gekultiveerde Franse in die asemrowende skoonheid van die Drakenstein-streek in die Kaap, kan ons met ’n hedendaagse perspektief met jaloesie en romanse vervul. Die werklikheid was egter glad nie so rooskleurig nie. Ilze Nieuwoudt stel ondersoek in.

Meer as 200 000 Franse Hugenote het gedurende die 1600’s en 1700’s uit Frankryk gevlug. Sowat 300 hiervan het aan die suidpunt van Afrika ’n heenkome gevind en ’n noemenswaardige deel (naamlik ’n vyfde) van die destydse Europese bevolking aan die Kaap gevorm. Die meerderheid van die Hugenote het egter na lande soos Amerika, Nederland en Engeland gevlug.

Hoekom vlug?

Die Hugenote het reeds sedert die 1500’s ernstige vervolging in hul vaderland beleef. Hulle het die Protestantse geloof aangehang, en is daarom deur die Rooms-Katolieke heersers veroordeel en vervolg. Massamoorde is op volgelinge van die Protestantse geloof uitgevoer. In 1562 is 1 200 Hugenote vermoor in Vassy, Frankryk, waarna verskeie soortgelyke aanvalle sou volg. In een uiters brutale aanval, die St. Bartolomeusnag-slagting, in Augustus 1572 is meer as 8 000 Hugenote vermoor.

Teen 1598 is die Edik van Nantes onderteken en is die dekades lange stryd teen die Franse Protestante vir eers laat vaar. Die edik het aan die Hugenote meer geloofsvryheid gegee en hulle toegelaat om hul geloof in spesifieke stede te beoefen. Tog was die vrede van korte duur en onderdrukking is hervat. In Oktober 1685 het die Franse koning Lodewyk XIV die Edik van Nantes herroep waarna grootskaalse aanvalle op Hugenote hervat is. Volgens die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika is dié gelowiges se kerke en huise afgebrand, en hul Bybels en liedboeke vernietig. Talle Hugenote is na die brandstapels gestuur, terwyl ander as slawe op galeie moes werk, of as slawe na die Wes-Indiese Eilande verban is. In talle gevalle is die kinders uit Hugenote-huishoudings verwyder en by Rooms-Katolieke ouers geplaas of deur Katolieke monnike en nonne opgevoed.

Hugenote aan die Kaap

Drie jaar ná die herroeping van die Edik van Nantes kom die eerste georganiseerde groep Franse Hugenote in 1688 aan boord die Oosterland en die Voorschoten in die Kaap aan. Hulle was egter nie die eerste Hugenote wat hulle permanent aan die Kaap kom vestig het nie. Francois Villion (tans bekend as Viljoen) het in 1671 na die Kaap gekom, terwyl Jean de Long (tans bekend as De Lange) en sy gesin in 1685 en die Guillaume-broers en Francois du Toit in 1686 hierheen gevlug het.

Die Hugenote is aan die Kaap verwelkom, juis aangesien hul geloof met dié van die Nederlanders wat reeds hier gevestig was, ooreengestem het en aangesien hulle oor landboukennis beskik het. H.C. Viljoen van die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika skryf dat die Hugenote aangemoedig is om koring te verbou en met skape te boer. Wynverbouing het wel ’n groot deel van die nalatenskap van die Franse Hugenote geword.

Teen 1729 het 279 Franse en hul nasate aan die Kaap gewoon. Die meerderheid van dié vlugtelinge is in Franschhoek en Drakenstein (die teenswoordige Paarl) gevestig. Hulle is volgens die historici Hermann Giliomee en Bernard Mbenga (in die boek Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika) aangemoedig om met die ander vryburgers te assimileer. Die plaaslike taal en kultuur is spoedig aangeleer en kort voor lank het die Franse taal heeltemal onder die nasate van die Hugenote uitgesterf. “[T]een 1750 kon niemand jonger as 40 nog Frans praat nie,” luidens Giliomee en Mbenga.

Hugenote in 2020

Talle families, veral Afrikaner-families, kan vandag nog hul skakel met die Franse Hugenote naspoor. Die bekendste Hugenote-families sluit onder andere in De Villiers, Malan, Du Toit, Du Preez en Du Plessis. Dit is interessant om daarop te let dat dié familiename met tyd verafrikaans is, en soms net-net ooreenstem met die oorspronklike Franse vanne. Vergelyk byvoorbeeld die verandering in die skryfwyse van die volgende bekende Hugenote-vanne:

  • Bruère – Bruwer
  • Du Plessey – Du Plessis
  • Dutoit – Du Toit
  • Mesnard – Minnaar
  • Pinard – Pienaar

Besoek gerus www.hugenoot.org.za vir meer inligting oor Hugenote-voorouers en ’n databasis van Hugenote wat na Suid-Afrika gevlug het.

Die Franse Hugenote-monument in Franschhoek herdenk die koms van die Hugenote na die Kaap en toon waardering vir dié groep se Protestantse erfenis. Die monument is ryk aan simboliek – die kruis (heel bo) verwys na die Christelike geloof; die son (bo die boë) versinnebeeld geregtigheid; die drie boë dui op die Drie-eenheid van God; en die waterpoel en suilegang dui op vrede ná die Hugenote se stryd. Foto: Ilze Nieuwoudt

 

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest