Leesvordering:

Vyf bemarkingstendense om in 2021 dop te hou

Jan 19, 2021

’n Dekade of twee gelede was bemarking redelik beperk tot gedrukte media en TV- en radioadvertensies. Nou is daar ontelbare bemarkingskanale en -tegnieke wat jou in kontak kan bring met jou ideale kliënt en die sukses van jou besigheid kan beïnvloed. Die probleem is egter dat dié bemarkingskanale so vinnig ontwikkel dat dit moeilik is om by te hou. Hier is ’n paar nuwe bemarkingstendense wat jou kan help om uit te staan bo jou kompetisie.

  1. Plasings op sosiale media waarop jy kan koop

Sosiale media het ’n belangrike deel van die meeste besighede se bemarking- en kommunikasiestrategie geword. Indien jou besigheid nie ’n aanlyn winkel het nie en jy nie sosialemediaplasings gebruik om handel te dryf nie, is jy besig om verkope te verloor. Sosialemediaplatforms bied ’n massiewe geleentheid vir aanlyn handelaars. Sowat 72% van Instagram-gebruikers het aangedui dat hulle ’n produk gekoop het wat hulle op die Instagram-toepassing gesien het. Dit is daarom belangrik om jou sosialemediaplatforms nie net as bemarkingsplatform te gebruik nie, maar ook as ’n verkoopskanaal. “Tag” jou produkte in jou plasings en stories om dit maklik te maak vir kliënte om daardie produkte te koop. Om dít te kan doen, moet jou webtuiste egter aan jou Facebook-blad gekoppel wees. Dié soort plasings lyk soos gewone plasings, maar is aan die verkoper se webtuiste verbind om kliënte maklike toegang tot die produkte te gee.

  1. Aangepaste werklikheid

Die tegnologie wat die werklikheid met die digitale wêreld vermeng, is nog baie nuut in bemarking, maar dit gaan in die toekoms al meer gesien word. Ray-Ban het dit in ’n stadium byvoorbeeld moontlik gemaak om deur middel van jou rekenaar se kamera hulle sonbrille aanlyn “aan te pas” sodat kliënte kan sien of ’n bril by hulle gesig pas. Dié tegnologie het ál meer verfynd begin raak en word in verskeie industrieë gebruik. Die Sweedse meubelmaatskappy IKEA het dit byvoorbeeld moontlik gemaak vir kliënte om te visualiseer hoe ’n meubelstuk in hulle huis gaan lyk. Kliënte kan hulle foon of rekenaar oor ’n kamer in hulle huis beweeg en die meubelstuk in die kamer plaas om te sien of dit gaan werk of nie.

  1. Persoonlike bemarking

Kliënte hou nie meer van generiese e-posse vir bemarkingsdoeleindes wat nie direk op hulle as persoon gemik is nie. Een van die groot bemarkingstendense vir die volgende jaar is die vermoë om persoonlik met jou kliënt kontak te maak. Volgens ’n onlangse opname wat deur 1 000 respondente voltooi is het 80% aangedui dat hulle meer geneë sou wees om besigheid met ’n maatskappy te doen wat ’n persoonlike ervaring skep. Dit kan so eenvoudig soos ’n persoonlik geadresseerde nuusbrief wees. Maatskappye soos Netflix wys byvoorbeeld programme vir die gebruiker gebaseer op komplekse persoonlike data. Elke Netflix-gebruiker sien dus ’n verskillende tuisblad gebaseer op vorige programme wat hulle gekyk het. Nuwe navorsing dui daarop dat tot 90% van bemarkers in 2021 van een of ander vorm van persoonlike bemarking gebruik gaan begin maak.

  1. Interaktiewe inhoud

Blogplasings is steeds bruikbaar vir gebruikers wat meer in-diepte inligting wil hê, maar in 2021 gaan daar ’n toename in die behoefte aan interaktiewe inhoud wees. Besoekers aan jou webtuiste gaan op soek wees na alternatiewe inhoud soos interaktiewe kaarte en grafika wat hulle aandag langer gaan hou. Die aard van die inhoud gaan natuurlik verskil van industrie tot industrie. Een voorbeeld wat baie effektief vir die maatskappy VenturePact gewerk het, is om ’n sakrekenaarblokkie op hul webtuiste aan te bring. VenturePact bou toepassings vir kliënte en besoekers kon die sakrekenaar gebruik om uit te werk wat ’n toepassing sal kos. Binne twee weke het hulle ’n 15%-toename in besoeke aan hul webtuiste gehad en ’n 28%-verhoging in verkope.

  1. Videobemarking

Die gebruik van video’s in bemarking is niks nuuts nie en dit bly noodsaaklik in 2021. Video’s kan gebruik word om inligting oor ‘n produk of diens weer te gee sonder dat die gebruiker veel hoef te lees. In ’n wêreld waar alles vinniger en doeltreffender moet plaasvind, is video’s ideaal om jou kliënte te bereik.

Tegnologie verander teen ’n vinnige tempo en dit is belangrik om bewus te wees van die jongste tendense sodat jou besigheid nie agterbly nie. Dit is nie nodig om al die nuwe tendense te gebruik nie, maar wel dié wat tot voordeel van jou kliëntebasis gaan wees.

 

Hierdie artikel het oorspronklik op AfriForum Sakenetwerk se webtuiste verskyn.

AfriForum Sakenetwerk is ’n inisiatief van AfriForum waar verbruikers sakeondernemings in Suid-Afrika op ’n webplatform kan opspoor.

AfriForum Sakenetwerk is tot diens van kliënte, asook klein én groot sakeondernemings reg oor Suid-Afrika.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest