Leesvordering:

Vyf dinge om in Kuala Lumpur te doen

Aug 20, 2020

Verken die Perdana Botaniese Tuine

Die Perdana Botaniese Tuine, ook bekend as Lake Gardens, is ’n entjie buite sentraal-Kuala Lumpur geleë, maar om ’n Grab-taxi soontoe te neem is beslis die moeite werd. Dié tuine beslaan ongeveer 92 000 hektaar (227 acres) en is ’n welkome groen toevlugsoord in die besige Kuala Lumpur (KL). Dit is ’n moet-sien-bestemming wanneer jy dié stad besoek.

Die park is in 1888 geopen en vandag is daar ’n groot meer, ’n Chinese kruietuin, verskeie beeldhouwerke, fonteine en watervalle, ’n klein reservaat vir bokke en perfek gemanikuurde tuine, insluitend orgideë- en hibiskustuine waar besoekers duisende blomme in alle vorms, kleure en groottes kan aanskou.

In die middel van die tuine is die Laman Perdana – groot kunsbome wat ’n oop ruimte kleurryk bedek en ideaal is vir konserte, kunsuitstallings en per geleentheid ’n hoogs aanbevole tai chi-klas.

Hoewel Laman Perdana uiters gewild is, beskou baie mense die Sunken Garden as die ware juweel van die botaniese tuine. Die Sunken Garden, ’n redelike onlangse toevoeging tot Perdana, is ’n ronde versonke tuin omsirkel deur priële wat heeltemal bedek is met Bauhinia kockiana-rankplante. Wanneer dié plante blom, is die hele area omring deur helder oranje. Die middelpunt van die tuin is ’n fontein in die vorm van ’n ster, met bankies wat ’n welkome ruskans in die skadu bied.

Die Perdana Botaniese Tuine is elke dag vanaf 09:00 tot 16:00 oop en hoewel ingang op weeksdae gratis is, is die toegangsfooi op naweke en openbare vakansiedae RM1 (R4,10). Vir meer inligting, of om uit te vind of enige spesiale geleenthede tydens jou besoek plaasvind, gaan loer op Perdana se amptelike webwerf.

Eet nasie lemak

Al doen jy niks anders op hierdie lys nie, sorg dat jy wel aan ’n bord nasi lemak smul. Dit is Maleisië se amptelike dis en hoewel dit tradisioneel ’n ontbyt is, word dit ook enige tyd van die dag bedien. Jy kan dit geniet as ’n peuselhappie of as jou hoofgereg vir middag- of aandete.

’n Basiese nasi lemak is witrys wat in klappermelk gaargemaak is en gegeur is met pandanblare, ’n geurmiddel wat gereeld in disse uit Suidoos-Asië gebruik word. In die meeste gevalle word die rys op die blaar van ’n piesangboom voorgesit, saam met sambal – ’n skerp brandrissie-smeer, tipies gemaak van brandrissies, garnale, knoffel, gemmer, salot, groenuie, palmsuiker en lemmietjiesap. Die dis word dan afgerond met ikan bilis (klein uitgedroogte wit ansjovis), grondboontjies nog bedek met hul papieragtige velletjies, komkommerskywe en ’n hardgekookte eier.

Nasi lemak is goedkoop en smaaklik, met ’n bietjie van ’n skop – die ware smaak van Maleisië. Om op ’n stukkende pastiekstoel in die middel van ’n straat- of kosmark te sit en hierdie heerlike dis te verorber, is eenvoudig fantasties.

Besoek die KL-voëlpark

Sou jy die Perdana Botaniese Tuine besoek, gaan maak ’n draai by die KL-voëlpark, ook bekend as Taman Burung Kuala Lumpur. Dié park bestaan uit ongeveer 8.5 hektaar (21 acres) welig tropiese reënwoud, met voetpaadjies en rusbankies oral vir besoekers. Dis ook die tuiste van meer as 3 000 voëls van 200 in- en uitheemse spesies.

KL-voëlpark is opgedeel in verskeie sones. In Sones 1, 2 en 3 vlieg, leef en broei die voëls vrylik in ’n omgewing soortgelyk aan hul natuurlike habitat. Hierdie vryvlieg-konsep laat KL-voëlpark uitstaan bo ander voëlparke. Verskeie voëldemonstrasies en voedings word reg deur die dag in al die sones aangebied, insluitend twee hoofvertonings om 12:30 en 15:30 by die amfiteater in Sone 4. Wees egter gewaarsku dat jy onder geen omstandighede die voëls mag voer of steur nie. Baie van die groter voëls het skerp kloue en snawels en sal sonder waarskuwing pik.

Die voëlpark is daagliks vanaf 09:00 tot 18:00 oop en die toegangsfooi is RM63 (R257,18). Die Hornbill Restaurant op die terrein is ook elke dag vanaf 09:00 tot 21:00 oop. Vir meer inligting besoek die KL-voëlpark se webwerf.

Drink baie, baie tee

Teh tarik is ontwikkel deur Indiese immigrante wat in Maleisië kom woon en werk het, en het gou ’n nasionale gunsteling geword. Vandag is dit een van die gewildste drankies in Suidoos-Asië. Dié tee se naam beteken letterlik “getrekte tee”. Dit word gemaak deur ’n mengsel van sterk swart tee en kondensmelk te “trek” deur dit herhaaldelik heen en weer vanuit ’n hoogte tussen twee koppies te skink. Dit gee die tee ’n egalige romerige tekstuur met skuim bo-op. Deur die tee tussen die koppies te gooi, koel dit ook af na die optimale drinktemperatuur en omdat die “getrek” die tee en kondensmelk goed meng, het dit ’n sterk, soet smaak.

Teh tarik word bedien as óf ’n romerige warm koppie gegeurde tee, óf koud oor ys wat help teen die hitte. Dit is die perfekte Maleisiese drankie wat koud of warm in byna elke restaurant en straatkafee in die stad beskikbaar is.

Besoek Chinatown

Geen besoek aan Kuala Lumpur is volledig sonder ’n inkopie-uitstappie na Petalingstraat en die omliggende systraatjies wat as KL se Chinatown bekend staan. Dit word deur baie beskou as die grootste Chinatown buite China! Met sy duisende winkels, stalletjies en straatsmouse, kan jy enigiets daar koop – van nagemaakte Chanel- en Louis Vuitton-sakke, wat byna soos die ware jakob lyk, tot tradisionele Chinese kruie. Dié plek het iets vir almal en wanneer jy koop, moet nooit die bedrag op prysetiket betaal nie. Daar word van jou verwag om te kibbel. Die handelaars vra drie tot vier keer die waarde van die produk, dus hoef jy nie sleg te voel om ’n lae aanbod te maak nie. Die kans is goed dat jy ’n winskopie sal losslaan indien jy by jou prys hou.

Natuurlik is daar fantastiese kos om van te kies en te keur. Met honderde restaurante en kosstalletjies sal jy beslis nie honger ly nie. Daar is ook heelwat moderne kroeë en straatkafees. Probeer gerus Cafe Etc se aangebrande kaaskoek of dan nou burnt cheesecake.

Met jou inkopies afgehandel en jou maag vol, is dit tyd vir ’n goeie dosis kultuur deur een van die baie tempels en plekke van aanbidding te besoek. Taoist Guan Di Temple is 120 jaar oud en moontlik die gewildste en mooiste in Chinatown. Hierdie tempel met sy herkenbare helderoranje fasade is opgedra aan Guandi, die Taoist se god van oorlog en literatuur, van wie daar ’n beeld agter in die tempel staan. Wierookstokkies is te koop en hoewel ingang gratis is en die tempel gewoonlik gevul is met toeriste, onthou dit is eerstens ’n plek van aanbidding, wees dus respekvol.

Let wel, Chinatown is nie die skoonste buurt in KL nie en om rou riool in die strate of deur ván nie klein nat markte te sien vloei, is nie ongewoon nie. Die beste raad is om toe skoene te dra en handreiniger saam te neem.

 

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest