Leesvordering:

Vyf gratis dinge om te doen en te sien in Dublin

Mar 13, 2019

Almal weet ’n mens moet maar diep sakke en lang arms hê wanneer jy vir ’n ruk oorsee wil gaan.

En wanneer jy die groot besluit neem, moet jy jou maar gereed maak om vir ’n rukkie van water en brood te lewe.

Net omdat jy elke liewe sent omdraai, beteken nie jy hoef heeldag by die huis te sit nie. Hoewel baie van die besienswaardighede toegangsgeld vra voordat jy dit enigsins mag sien, is daar baie om te doen vir dié wat eerder wil bespaar.

Gaan stap in ’n park

Een ding wat ek baie hier in Ierland waardeer, is hoe mooi die parke hier in stand gehou word. Dis skoon, dis veilig en die groenigheid is van die mooiste wat jy al ooit gesien het.

As jy gelukkig is en die son skyn, sal jy talle ander mense in die park gewaar: Baie ma’s en babas, baie drawwers en dan ook ander wat net graag ’n blaaskans neem.

Drie van my gunstelingparke hier in Dublin is Bushy Park (die bome maak dit baie sprokiesagtig en jy voel soos ’n wafferse Sneeuwitjie wat in die woud wandel), St. Stephen’s Green (as jy lus is om mense te kyk, is dit net die plek) en Phoenix Park (dis nie net die grootste omheinde park in Europa nie, dit is ook ’n plek wat jou laat voel asof jy kilometers van die stad af is – hier kan jy behoorlik asemhaal en as jy gelukkig is, sommer ook met ’n paar makkerige takbokke kennis maak).

Besoek ’n museum

Die meeste van die museums hier in Dublin het gratis toegang. Die National Gallery of Ireland is regtig ’n moet wanneer jy hier is (die galery het kuns wat uit die 1400’s dateer!), asook die National Museum of Natural History (dis ’n moet as jy van argeologie en eeueoue diere en hul ontwikkeling hou, en as die verlange partykeer te erg raak, help dit om ’n leeu of olifant uit Afrika te sien – al is dit nou net die geraamte!).

Wandel op die Trinity College-kampus

Trinity College is Ierland se oudste universiteit en het pragtige geboue. Die oudste gebou is in 1592 gebou. Jy kan op die kampus rondwandel en die geboue en standbeelde bewonder.

As jy wel ’n geldjie het om te bestee, kan jy na een van die wêreld se oudste boeke, The Book of Kells, in die “Long Room” gaan kyk.

Staproetes

Dublin is ’n mooi stad met baie geskiedenis, maar as jy ’n bietjie meer van die natuur wil sien, is die staproetes ’n moet.

Een van die bekendste staproetes (so om en by 11 km) is van Bray na Greystones, twee klein dorpies suid van Dublin. Die roete kan ’n bietjie modderig wees as dit gereën het, maar dit is nie so erg dat jy dit glad nie kan doen nie. Die roete is gemaklik – met ’n paar plekke wat ’n bietjie meer uitdagend as die res is – maar maklik genoeg sodat enigiemand dit gemaklik kan stap.

En as dit ’n perfekte, mooi dag is, kan jy dalk ’n deeltjie van Engeland oorkant die see sien!

Nog ’n lekker staproete is in Howth, ’n klein dorpie noord van Dublin. Daar is verskillende afstande, afhangend van watter afdraaie jy neem. Op ’n perfekte dag kan jy ver oor die see kyk en die natuur bewonder.

Graffiti en straatkuns

Dublin self het soveel interessanthede wat ’n mens maklik kan misloop as jy nie genoeg rondkyk nie.

Hoewel graffiti in die meeste plekke taboe is, is hier dele in Dublin waar dit verwelkom word. Van die kunstenaars is regtig baie talentvol.

’n Gratis staptoer (skakel: https://free-dublin-tours.com/tours/free-original-dublin-alternative-tour/) sal jou help om al die weggesteekte kuns te sien wat gewone toeriste dikwels miskyk.

Daar is nog heelwat ander goed wat jy gratis hier in Dublin kan doen. Een ding is egter belangrik: Sorg altyd dat jy ten minste ’n geldjie in jou sak het om ná jou gratis avonture ’n pint Guinness by ’n regte Ierse pub te kan drink!

Meer oor die outeur

Elsje du Toit

Elsje du Toit is ’n plattelandse meisie wat in die Noord-Kaap grootgeword het en later vir 5 jaar as joernalis by Volksblad en Netwerk24 in Bloemfontein gewerk het. Sy en haar man, JJ, bly sedert Januarie 2018 in Dublin. Hoewel sy al ’n rukkie hier bly, kan sy nog nie heeltemal aan die yskoue weer gewoond raak nie, maar tog geniet sy elke oomblik

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest