Leesvordering:

Vyf reiswenke waarvan niemand jou vertel nie

Sep 28, 2017

Deur Monique Taute

As die reisgogga jou eers gebyt het, laat hy nie maklik weer los nie. Elke jongmens behoort die wêreld te gaan sien. Deur te reis, verbreed jy nie net jou horisonne nie, maar ook jou lewensuitkyk. Ek en my man brand om nuwe plekke te sien en nuwe dinge te beleef. Daarom probeer ons om ten minste een keer per jaar ’n nuwe stukkie van die wêreld te gaan sien. Hier is ’n paar reiswenke waarvan niemand jou vertel nie:

  1. Koop goedkoop vliegkaartjies

Besoek www.skyscanner.net voordat julle besluit waarheen julle wil reis. Dié webwerf het ’n soekfunksie waarmee jy kan kyk na watter lande die goedkoopste vliegkaartjies beskikbaar is. Ná julle besluit het waarheen om te gaan, bevestig watter lugredery vir watter die goedkoopste vlugte bied. Ons was verbaas om te sien hoe ’n groot prysverskil een dag aan jou vliegkaartjie kan maak. Die goedkoopste opsies op www.skyscanner.net sal heel waarskynlik van onbekende lugrederye wees. Moenie dat dit jou afskrik nie. Gaan lees ’n paar resensies oor die betrokke lugredery voordat jy ’n besluit maak. Ons het in Augustus vanjaar met Angola Airlines Portugal toe gevlieg. Die kaartjies was spotgoedkoop en ons het dus die ergste verwag. Buiten die ou programme op die vermaakstelsel het die lugredery ons egter beïndruk met goeie diens, lekker kos en ’n gemaklike vlug.

  1. Restaurante: Diensfooie, brood en etenstye

In baie lande is dit nie praktyk om ’n fooi (tip) by restaurante of hotelle te betaal nie. Ons het ’n paar Europese lande soos Italië, Switserland, België en Portugal besoek, waar jy nie ’n fooitjie hoef te betaal nie. Vind voor die tyd uit of jy ’n fooitjie moet los of nie, aangesien kelners in baie lande goed betaal word en diensfooie dikwels klaar by die rekening ingesluit word. Soos in Suid-Afrika bring kelners in Europese restaurante oor die algemeen vir jou broodjies, botter en dies meer sodra jy gaan sit. Anders as hier, betaal jy egter vir alles wat jy eet. Om onverwagte kostes op jou rekening te voorkom, stel ek voor dat jy jou aptyt spaar vir die kos wat jy bestel. Laastens is dit belangrik om te weet dat etenstye tussen land kan verskil. Europese restaurante het verskillende spyskaarte vir verskillende etenstye en kombuise is dikwels net sekere tye van die dag oop.

  1. Koop ’n SIM-kaart

Ons het vanjaar besluit om ’n oorsese SIM-kaart te koop – een van die beste besluite omdat dit ons baie tyd en moeite gespaar het. Eerstens kon ons Google Maps gebruik, wat beteken het dat ons dae van verdwaal met ’n onderstebo toeristekaart iets van die verlede was. Google Maps bied ook ’n funksie wat jou wys watter vorm van vervoer jou die vinnigste by jou bestemming sal uitbring en wanneer dit vertrek. Dit beteken dat jy vinnig kan kyk of jy sommer kan stap of eerder die bus, trem, trein of moltrein moet gebruik. Tweedens was dit baie gemaklik om vinnig te google of te bel om te hoor hoe laat ’n plek oop- of toemaak. Dit het ’n paar keer voorkom dat ons voor dooiemansdeur opgedaag het. Die funksie kom ook handig te pas om restaurante of winkels in jou omgewing op te spoor. Laastens is dit natuurlik ook lekker om toegang tot sosiale media te hê om jou spesiale oomblikke met familie en vriende te deel. Vir ons was die beste van alles dat jy ’n SIM-kaart in Europa kan koop met 500 minute-praattyd en 3 Gb-data teen slegs R150 – beslis ’n winskopie! Nóg ’n pluspunt is dat daar nie meer swerwing (roaming) tussen lande toegepas word wat deel van die Europese Unie is nie. Dit beteken dat jy dieselfde SIM-kaart in verskeie lande in Europa kan gebruik. (Aangesien data en lugtyd in Suid-Afrika baie duur is, sal dit in die meeste lande aansienlik goedkoper wees as by ons).

  1. Vervoer

In stede of dorpe in die meeste ontwikkelde wêreldlande kan ’n mens uit verskeie vervoeropsies kies, byvoorbeeld busse, trems, treine of moltreine. In ontwikkelende (of armer) lande, byvoorbeeld Mauritius, is vervoeropsies tot die huur van ’n motor of die gebruik van taxidienste beperk. Die vinnigste en mees ekonomiese manier om ’n stad, dorp of eiland te verken, is beslis deur ’n bromponie te huur. In Mauritius, Portugal, Barcelona en Rome het ons bromponies gehuur wat ons ure se stap en tyd gespaar het. In Europa sal dit jou min of meer R450 per dag kos, wat heelwat goedkoper as toerisbusse is. Indien jy ’n SIM-kaart gekoop het, soos ek hierbo aanbeveel, sal jy maklik jou pad vind deur van Google Maps gebruik te maak. Nog ’n pluspunt is dat ons nog nooit vir ’n internasionale lisensie of motorfietslisensie gevra was om ’n bromponie te huur nie. Al wat jy benodig, is jou paspoort en jou Suid-Afrikaanse bestuurslisensie en dan kan jy in die pad val!

  1. Cash Passport-kaart

Vra jou bank vir ’n Cash Passport-kaart – dit is maklik om beheer te verloor oor hoeveel geld jy op jou reis spandeer. Ons hou daarvan om van hierdie kaart eerder as ons tjek- of kredietkaarte gebruik te maak. Die kaart is vir vyf jaar geldig en jy kan tot vier verskillende geldeenhede daarop laai (die Amerikaanse dollar, Britse pond, euro of Australiese dollar). Een van die groot voordele van dié kaart is dat jy wisselings in die wisselkoers vryspring deur vooraf geld op die kaart te laai. Jy kan ook gratis met jou kaart betaal of geld teen ʼn vaste fooi (ongeveer R30) by ’n OTM trek. Jy kan ook die Cash Passport-toep gebruik om te kyk wat jou balans is en watter transaksies jy aangegaan het, of om geld tussen verskillende wisselkoerse te skuif. Laastens is dit redelik maklik om vir die kaart in aanmerking te kom: besoek bloot jou bank en neem jou ID, paspoort en vliegtuigkaartjie saam. Indien jy die kaart weer tydens ’n volgende reis wil gebruik, kan jy weer geld daarop laai deur jou bank te kontak.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest