Leesvordering:

Waarom moet ek my moedertaal behou in die buiteland?

Jan 16, 2023

Deur Alana Bailey

Indien ’n mens besluit om te emigreer, sal die sukses van hierdie stap afhang daarvan of jy in jou nuwe tuisland gaan aanpas. Dit sluit natuurlik ook in dat jy kultureel en taalkundig sal moet inskakel, maar dit beteken nie dat jy jou eie kultuur of taal hoef prys te gee nie.

Die Amerikaanse kenner van besigheidsbestuur, Jim Collins, waarsku dat ’n mens jou nie moet onderwerp aan die tirannie van “óf … óf” nie, maar eerder die geleenthede moet aangryp wat “en” bied. Dit geld ook wat moedertaal aanbetref. Gebruik die taal van jou nuwe omgewing EN jou moedertaal waar jy ook al kan.

Gengo, ’n maatskappy wat taaldienste aanbied, beklemtoon dat dit om persoonlike, sosiale, intellektuele, opvoedkundige en ekonomiese redes sin maak om jou taal te handhaaf. Hulle brei dan uit deur drie redes te noem waarom dit die geval is, naamlik omdat:

  • Dit kan jou kulturele identiteit en familiebande versterk. Navorsing wat deur die Amerikaanse organisasie IDRA (oftewel die Intercultural Development Research Association) onderneem is, het bevind dat wanneer ouers hulle eerste taal by die huis lewendig hou, kinders leer om trots te wees op hulle kultuur en wortels. Hulle kan dan steeds ook volwaardig met hulle moedertaalgemeenskap kommunikeer. Dit is gesond vir hulle selfbeeld en maak van hulle meer aanpasbare mense omdat hulle nie in net een taal of kultuur kan funksioneer nie.
  • Dit jou help om ander tale te bemeester. Taalleerders het voortdurende intellektuele ontwikkeling nodig. “Wanneer jong leerders wat nog nie Engels magtig is nie net Engels praat, funksioneer hulle op ’n laer intellektuele vlak. Wanneer ouers en kinders egter met mekaar kommunikeer deur die taal wat hulle die beste ken, funksioneer hulle op hulle ware vlak van intellektuele volwassenheid,” verklaar Gengo. Verder onderskryf dit ook wat AfriForum al dikwels genoem het, naamlik dat die vlot gebruik van jou moedertaal die aanleer en gebruik van meer tale vergemaklik en versnel. Mense wat egter hulle moedertaal gebrekkig praat en dan ook nog ’n taal moet aanleer, sal uiteindelik waarskynlik nie een van die twee tale of enige ander tale vlot kan gebruik nie.
  • Dit jou horisonne verbreed. Dalk wil of moet jy of jou nageslag eendag na jou land van herkoms terugkeer, en dan sal jou taalvaardigheid jou help om studie- en werksgeleenthede te vind en met plaaslike kollegas en kliënte te kommunikeer. Die ou spreekwoord dat jy nooit moet sê “Fonteintjie, van jou sal ek nooit weer drink nie” bly waar. In die 1940’s en 1950’s het baie mense uit Brittanje en Europa na Suid-Afrika verhuis as gevolg van die grootskaalse werkloosheid daar na afloop van die Tweede Wêreldoorlog. Van hulle nageslag trek nou weer terug Brittanje en Europa toe omdat hulle daar meer loopbaangeleenthede sien. Die wêreld verander voortdurend en almal wil tog soveel opsies vir hulleself en hulle kinders se toekoms skep as moontlik.

Selfs al is terugkeer nie ’n opsie nie, kan taalvaardigheid tog help om jou inkomste aan te vul deur ’n deeltydse- of voltydse vertaler, tolk of onderwyser te word.

Wat kan Afrikaanse ouers dus doen om hulle moedertaal lewendig te hou?

Om net tuis met mekaar Afrikaans te praat, is noodsaaklik, maar gaan nie noodwendig kinders se gebruik van die taal laat groei nie. Hulle sal ’n woordeskat moet ontwikkel wat breër strek as die alledaagse temas wat tuis ter sprake kom. Emigrante se taal verstar dikwels en bly nie by met die ontwikkeling van die taal in die vaderland nie. ’n Interessante voorbeeld hiervan is die nageslag van gesinne wat pas na die Anglo-Boereoorlog na Patagonië verhuis het. Tot onlangs kon baie van hulle nog Afrikaans praat, maar omdat hulle in so ’n afgeleë wêrelddeel woon, was dit die weergawe van die taal wat Afrikaners in 1902 gepraat het, nie die taal van vandag nie. Dit het hulle soms moeilik verstaanbaar vir hulle Afrikaanse tydgenote in Suid-Afrika gemaak.

Die maklikste manier om Afrikaans lewendig te hou, is dus om dit binne gesinsverband te praat, maar dit ook aan te vul deur na Afrikaanse musiek te luister, Afrikaanse fiksie en nie-fiksie te lees, Afrikaanse programme te kyk en selfs nou en dan na ’n Afrikaanse nuusbulletin te luister. Op dié wyse sal kinders se taalgebruik natuurlik aanhou ontwikkel en sommer hulle algemene kennis ook. Gelukkig maak stromingsdienste soos AfriForumTV dit maklik om van hierdie wenke na te volg.

Taalhandhawing hoef nie soos ’n uitputtende opdrag aangepak te word nie, maar eerder soos ’n taalavontuur wat saam met die ontdekking van ander tale en kulture ’n gesin kan verryk.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. [Mening] Johannesburg...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Hongarye

Uit en tuis: ’n e-pos uit Hongarye

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Yulan Love wat in Hongarye...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest