Leesvordering:

Ware Suid-Afrikaanse boerdery-uithouvermoë sigbaar in Australië

Sep 16, 2021

deur Robyn Vogels

Dit was ’n absolute vreugde om met hierdie jong paartjie te gesels wat slegs twee jaar gelede vanuit die Wes-Kaap in Australië aangekom het. Hulle het hul geliefde vaderland, ’n familieplaas en alles wat vir hulle bekend was, agtergelaat om alleen na ’n ander deel van die wêreld te verhuis en van voor af te begin. Dit vat ware Suid-Afrikaanse stamina om jou drome na te jaag. Om die pessimiste te ignoreer en stroomop te swem met entoesiasme en deursettingsvermoë. Nika en Dirk se storie is waarlik inspirerend. Hulle het as ’n paartjie hier opgedaag en gegroei tot ’n gesin, en moes wegholbrande, COVID-19-inperkings en erge verlange huis toe trotseer.

Dirk Bester is ’n vyfde generasie boer van die Swartland in die Wes-Kaap. Hy en sy vrou, Nika, was verbind tot hul grond en hul land. ’n Toename in plaasaanvalle en gerugte dat grondgrype sou plaasvind, het egter beteken dat hulle dinge moes heroorweeg … maar waarheen en hoe?

Dirk en sy pa het Kanada en die VSA besoek in die hoop om ’n plek te vind waar hulle sou kon voortgaan met ’n familieplaas. Hoewel die geleenthede goed gelyk het, het hulle teruggekeer Suid-Afrika toe sonder dat hulle oortuig was dat hulle hul plekkie gevind het. Toe, tydens ’n besoek aan Victoria en Tasmanië in Australië vroeg in 2018, het Dirk en Nika besef dít was die plek wat hulle hul tuiste wou maak. Die klimaat en boerderye was baie dieselfde as die Wes-Kaap en hulle het dus hul visumplanne en hul drome aan die gang gekry.

Alhoewel Dirk se familieplaas in Suid-Afrika ’n skaap- en graanplaas was, was daar altyd die droom om ’n wynplaas te hê. Hulle het in elk geval ná deeglike ondersoek besef dat ’n kommersiële graanplaas baie duur sou wees om in Australië tot stand te bring. “Jy moet die bewerkings oor en oor doen wanneer jy R10 na $1 omsit,” sê Nika.

Dus het hulle, met die ondersteuning van hul geliefdes in Suid-Afrika, begin om hul droomwingerd tot stand te bring.

Op ’n hoog geleë koel stuk grond aan die voetheuwels van die Victoria Alpe, die Victorian High Country, het hulle ’n 20 jaar oue boetiekwynplaas te koop raakgeloop en dit in September 2019 gekoop. Die wingerd het hoofsaaklik uit Italiaanse druiwevariëteite bestaan en is op ’n belangrike toerismeroete met ongelooflike uitsigte geleë. Dit het ’n bietjie aandag gekort, dus het die jong paartjie begin om ’n nuwe produkidentiteit te skep, die huidige geboue op te knap en planne te maak vir uitbreiding. Nika het gehoor dat daar baie prosesse, reëls en regulasies sou wees in Australië. Sy het egter uitgevind dat daar altyd ’n rede is vir hierdie vasgestelde reëls. “Ek was verstom toe ek langs ’n persoon kon sit wat ons gehelp het met die beplannings- en boupermitte; hy het ons planne met soveel respek hanteer,” sê Nika. Die plaaslike raad het baie steun aan hulle gebied en die burgemeester het hulle selfs kom besoek en genoem dat hy hul planne onder oë gehad het en opgewonde was daaroor.

Dit is ongelooflik as ’n mens in ag neem wat hierdie paartjie alles in die laaste twee jaar bereik het ten spyte van die baie uitdagings wat hulle moes oorkom. Hulle het eers met die restaurant- en kelderdeuropknappings begin en was baie opgewonde toe hulle hul deure kon oopmaak. Ongelukkig moes hulle ná net drie weke sluit, aan die begin van die COVID-inperkings. Om dinge verder te vererger, het daar ’n paar maande voor dit brande gewoed wat naby genoeg was dat dit hul hele oes in rook gehul het. “Die feit dat daar geen oes was vir die eerste jaar op ons plaas nie, is hartverskeurend,” sê Dirk. Hulle moes die chefs en nuwe personeel wat aangestel is, laat gaan.

Hulle het tydens die pandemie ’n distilleerdery by die wynplaas opgerig sodat hulle die ongebruikte druiwe en die druiwedoppe kon gebruik om jenewer en brandewyn te maak. Dirk sê: “Dit was logies dat ek stookketels van Suid-Afrika sou invoer. Ek het al die toerusting en die gehalte daarvan geken.”

Asof dit nog nie genoeg was nie, het die jong paartjie onlangs met ’n gesin begin. Hul seuntjie, Dirk Junior, (die sesde Dirk in ’n ry) is laat in Desember 2020 gebore. ’n Mens kan nie hierdie ongelooflike vreugde beskryf nie, maar terselfdertyd ook nie die hartseer om so ver weg te wees van grootouers en geliefdes nie, terwyl daar geen manier is om internasionaal te reis om sy geboorte te vier nie. Nika verduidelik dat sy en Dirk verslaaf is aan hul werk. Hulle motiveer mekaar die heeltyd. Hulle spot gereeld, “Dit was al twee jaar, hoekom is ons nog nie klaar nie?” Hulle besef dat hulle nooit gaan klaar wees nie en hulle is mal oor hierdie droom waaraan hulle besig is om te werk.

“Die bure was ongelooflik,” sê Dirk. “Daar is mense wat net in die oprit inry en hulp aanbied of ons oornooi vir aandete. Die plaaslike media ondersteun ons, die dorpsraad, die dorp … almal. Ons hou van die platteland.”

Nika en Dirk is ook verstom oor hoe die Australiërs hul spyskaart geniet. Hulle het aan die begin slegs ’n paar Suid-Afrikaans-geïnspireerde items saam met die basiese plaaslike gunstelinge bedien. Kort voor lank het hulle agtergekom dat die Australiërs bereid is om ’n verskeidenheid dinge te probeer, en die minder bekende keuses op die spyskaart het begin verkoop. “Ons inspirasie kom van die Speseryroete: Noord- en Suidelike Afrika, Suid-Asië en Europa,” verduidelik Nika. “Ons hou van die diepte wat speserye in kos bring en waar ons aan die begin besluit het om veilig te speel, het ons agtergekom die Aussies is baie lief daarvoor, veral dinge soos peri-peri en bobotie.”

Wat hou die volgende paar maande vir dié jong gesin in? Wel, hul drie jenewers, wat ’n rooibosjenewer insluit, word aanlyn verkoop terwyl hulle wag dat inperkings gelig word sodat hulle weer die restaurant en kelderdeure kan oopmaak. Dirk en Nika is baie opgewonde oor die eerste landgoedwyne wat op die punt staan om gebottel te word, en hulle werk ook aan verdere ontwikkeling van die whiskey, brandewyn en rum in die distilleerdery. Hulle is ook besig om vier luukse eko-kothuise op die plaas te voltooi met ’n uitsig oor die vallei.

Ek het die paartjie gevra watter raad hulle vir ander Suid-Afrikaanse boere en entrepreneurs sal gee. Hier is hulle topwenke:

“Ons het vinnig geleer dat jy nie meer hooi op jou vurk moet laai as wat jy kan hanteer nie. Hier moet jy kleiner treetjies neem. Alles is net anders en ’n mens moet anders dink. Australië het ongelooflike geleenthede, maar ’n mens kan hulle nie alles op een slag gebruik nie,” sê Nika. “Glo altyd dat dinge moontlik is – dan sal jy altyd ’n manier vind om dinge te doen waardeur jy jou doelwit kan bereik,” voeg Dirk by.

Ek was verras toe ek hoor dat Nika ons boek, Your Move Guide to Australia, gelees het. So, ek moes toe vra of dit enigsins van hulp was, omdat dit baie meer op die stadslewe gerig is. Nika lag: “Robyn, dit was ongelooflik! Veral die slang – jy kry veral in hierdie omgewing waar ons bly heeltemal ’n ander soort Engels!”

Nika en Dirk het hier opgedaag met ’n positiewe houding en die uitgangspunt dat dinge gedoen kan word. Hulle was baie ontvanklik vir voorstelle en dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van die plaaslike mense ontvang het. Dit is ’n resep vir sukses. Ons wens Nika en Dirk alles van die beste en hoop om hulle weer gou te kan besoek.

 

Besoek Glenbosch se webtuiste hier. 

 

Meer oor die outeur

Robyn Vogels

Robyn Vogels het Personnel Relocations in 2008 gestig om mense wat na Australië verhuis te ondersteun. Haar persoonlike ervaring van verhuising oor die wêreld heen gee haar begrip vir die ingewikkelde verhuisingsproses, veral vir gesinne met kinders. Haar dienste vereenvoudig die proses om dit gemaklik en moeitevry te maak teen ’n bekostigbare prys.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest