Na afloop van die onlangse betogings teen plaasaanvalle is daar weer deur verskeie individue groot gewag gemaak van “die buiteland wat nie weet van plaasmoorde in Suid-Afrika nie en ingelig moet word”.  Terselfdertyd het ’n videogreep van ’n EU-sitting gesirkuleer waar ’n versoek om gesprek oor dié tema onsuksesvol was.

Daarteenoor duur die dramas om die omstrede Gupta familie voort na lord Peter Hain die ondersoek van Britse maatskappye se betrokkenheid by hulle onreëlmatige finansiële bedrywighede op talle buitelandse platvorms versoek het.  In aanloop tot die ANC se konferensie het die voorblad van een van die wêreld se mees invloedryke tydskrifte, The Economist, die Suid-Afrikaanse vlag in die vorm van ’n slang onder die opskrif, “The corruption of South Africa” vertoon.

Aan die een kant is daar dus bewerings oor onkunde en ’n totale gebrek aan internasionale belangstelling, aan die ander kant is daar bewyse van betrokkenheid en ingeligtheid op die hoogste vlak.

Die vraag is dus wat die buiteland oor Suid-Afrika weet, wil weet en nie wil weet nie.

Wie is “die buiteland”?

Om die vraag te beantwoord, moet ’n mens duidelikheid hê oor wie met “die buiteland” bedoel word.

As vertrekpunt kan ’n mens aanvaar dat die lande wat ingelig moet word oor gebeure in Suid-Afrika, verkieslik lande met invloed moet wees.  Praat ons byvoorbeeld van Duitsland, is dit naas Sjina, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot met beleggings van meer as R81-miljard[i] in die land.  Daarteenoor is ’n land soos Togo nie juis ’n vername handelsvennoot nie en het dit beperkte invloed, met ’n ambassadeur wat nie op ’n residensiële basis aangestel is nie.

Regerings en senior sakelui van invloedryke lande, veral lande met groot beleggings, handelsbelange of ’n groot aantal burgers wat tydelik of permanent in Suid-Afrika woon, beskik almal oor uitgebreide intelligensiedienste.  Hulle gebruik eie dienste en/of privaat instellings om deurgaans veiligheidstoestande en misdaadtendense in die land te ontleed en aan hulle terugvoer te gee.  Dikwels sal hulle selfs beter ingelig as die meeste Suid-Afrikaners oor brandpunte en risiko’s in die land wees.

Tweedens is letterlik honderde verteenwoordigers van hoofstroom internasionale media instellings in Suid-Afrika gestasioneer.  Die land is ’n gewilde basis vir hulle vanwaar hulle stories deur Suider-Afrika of selfs verder kan opvolg.  Die meeste van hulle behoort aan die Foreign Correspondents’ Association of South Africa (sien www.fcasa.org).  Hulle beriggewing berus op aktuele sake, maar ook die grondige kennis van wat hulle onderskeie nismarkte se unieke belangstellingsvelde is.  Ons mag reken die hele wêreld sal belangstel in ’n bepaalde Suid-Afrikaanse kwessie, maar hulle sal dikwels weet dat dit nie die geval is nie.  Vanjaar is byvoorbeeld meer as ooit tevore oor plaasaanvalle gepubliseer, maar dan juis veral in die gevalle waar die slagoffers buitelandse burgers was.

Ons leef in ’n tyd waar ons toegegooi word met nuus.  Ons filter dit volgens eie belange en kan die res van die wêreld nie blameer daarvoor dat hulle dieselfde doen nie.  Mense wat verwag dat buitelandse regerings hulle moet uitspreek teen korrupsie en misdaad in Suid-Afrika, is gewoonlik self uiters onkundig oor korrupsie, misdaad en geweldpleging in ander lande.

Vandeesmaand in ’n gesprek met ’n senior Europese parlementslid is die ongemaklike waarheid weer by my tuisgebring toe hy skouers optrek en sê: “Ja, ’n gemiddeld van 52 moorde per dag is tragies, maar julle is nog geen Sirië nie en ander wêreldleiers het net soveel klagtes teen hulle as julle president Zuma, indien nie meer nie.”  Suid-Afrika is in die meeste gevalle eenvoudig nie die kern fokuspunt van internasionale aandag nie.

Hoe dan gemaak met internasionale skakeling?

Ten spyte daarvan dat buitelandse regerings en sakelui eie intelligensie oor Suid-Afrika insamel, kan instellings soos byvoorbeeld AfriForum of Solidariteit altyd ’n aanvullende rol speel om geloofwaardige inligting vanuit ons perspektief aan hulle deur te gee.  Dit mag wees dat ons oor kennis van situasies beskik wat nog nie algemeen bekend is nie en vir hulle van belang kan wees.  Ons dra ook nie kennis van alle onderhandelinge en gesprekke agter die skerms nie en dalk geskied die deurgee van sodanige inligting juis op ’n tydstip wanneer dit wel ’n betekenisvolle verskil in sulke onderhandelinge kan maak.

Wat internasionale instellings betref, het die Suid-Afrikaanse regering ook al telkemale hulle sensitiwiteit oor kritiek getoon.  Die ANC-regering se huidige hervatte pogings om van deelname en verantwoordbaarheid aan die Internasionale Strafhof te onttrek, bewys dit.  So ook die feit dat die regering jaarliks verteenwoordigers stuur na die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland (wat sedert 2010 deur AfriForum bygewoon word) om ons aan te val en te probeer diskrediteer wanneer ons kritiek oor die regering se hantering van kwessies soos moedertaalonderrig en plaasaanvalle uitspreek.  Dit is dus nodig om van hierdie platvorms gebruik te maak om voortdurend druk op die regering te plaas om hierdie sake meer daadwerklik te hanteer.

Goeie bande met geloofwaardige media instellings is verder nodig, omdat ’n mens dalk net ’n joernalis se belangstelling kan prikkel om wel ’n storie te doen oor ’n saak wat hy of sy tevore misgekyk het.

In al hierdie gevalle is geloofwaardigheid van die grootste belang.  Wolhaarstories het in die verlede al dikwels belangrike Suid-Afrikaanse kwessies groot skade berokken.  Daar was al etlike kere foto’s versprei van sogenaamde slagoffers van plaasmoorde en kennisgewingborde wat mense aanhits tot moord.  Later het dit geblyk dat die foto’s nie eens in Suid-Afrika geneem is nie.  Ongelukkig sal elke persoon wat dit geglo het, ontstel was daardeur en toe moes uitvind dat dit vals nuus was, in die toekoms uiters skepties teenoor enige ware nuus op die terrein staan.  Ons moet dus sulke stories ontmasker, die verspreiding daarvan so ver as moontlik voorkom en onsself vestig as ’n toeganklike bron van betroubare inligting.  Assosiasie met individue of instellings wat hulle aan oordrywing of die verspreiding van vals nuus skuldig maak, moet verder ten alle koste vermy word.

Nog ’n rede waarom buitelandse skakeling nodig is, is dat dit ’n noodsaaklike verbreding van kennis meebring.  Ons kan leer uit ander lande en media se beste praktyke en daardeur ook die dienste wat ons lewer, deurgaans verbeter.

Die bou van ’n netwerk geloofwaardige medewerkers deur die wêreld bied aan ons die geleentheid om wedersyds kennis en ervaring uit te wissel en moet voortdurend aandag geniet.

Samevattend is dit dus nodig om realisties te wees oor internasionale bande – dit gaan geen kitsoplossings bied vir ons probleme in Suid-Afrika nie, maar bly noodsaaklik omdat dit wel een van die stene is waarmee die pad na oplossings gebou word.

Die onus rus op ons om daardie pad self verder te bou met werk aan ons geloofwaardigheid, realistiese berekeninge oor wat internasionaal moontlik en nodig is, maar veral ook eie betrokkenheid by ons probleme en die skep van sterk, onafhanklike, eie instellings.

Dit is dus letterlik ’n geval waar nie een van die twee roetes, nasionale of internasionale skakeling, ten koste van die ander nagelaat kan word nie en dus vorm beide deurgaans deel van AfriForum en die breër Solidariteit Beweging se strategië. – Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof, AfriForum

[i].“R81 billion” in Engels.

Hierdie artikel het oorspronklik op Maroela Media se webtuiste verskyn.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Adjunk Uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir Internasionale skakeling, taal en kultuur.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest