Leesvordering:

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?  

Sep 5, 2018

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om dit te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan uitkyk of so lekker kan skaterlag vir ’n Afrikaanse grap nie. Maar wat mis Suid-Afrikaners die meeste? Is dit die Bovril en Mrs Ball’s-blatjang, of is daar iets meer?

Een ding is verseker, as die stand van Suid-Afrika se politieke en veiligheidsomgewing anders was, sou veel minder Suid-Afrikaners groener weivelde gaan soek het. Dit is omdat kultuur ’n hartsding is. Dit is nie net braaivleis en malvapoeding nie, maar ’n sin van behoort wat ’n mens die meeste mis. So wat is dit wat jy nie net as ’n Suid-Afrikaner mis nie, maar as Afrikaner?

1. Laurika Rauch en Afrikaanse digkuns

Om op ’n stil nag op te kyk na die sterre en Laurika Rauch se Mannetjies Roux of Bloubergstrand te neurie. Of om ’n ou boek uit jou boekrak te haal en dis toevallig die digbundel Die mooiste van Van Wyk Louw, saamgestel deur Peter Louw. Jy blaai dit deur en kan nie help om rillings te kry as jy weer Nagwaak en Seekoeivlei lees nie.

2. Groot familiekuiers

Soos Karen Zoid se liedjie lui Afrikaners is plesierig, veral Kersfees of sommer enige vakansiedag. Familie is die murg en been, en geen Kersdag is volledig sonder elke verlangse neef en ’n skaapboud nie. Gasvryheid is Afrikaners se liefdestaal, en almal is altyd welkom!

3. Kreef vang en oop Bosveldvure

Dit is nie net kleilat in die plaasdam speel of kreef vang op Lambertsbaai wat ’n mens onthou nie, maar juis die vryheid om avontuurlustig te wees. ’n Houtvuur in die Bosveld is anders as ’n steenkoolvuur of ’n gasbraaier. Hoe nader aan die natuur, hoe beter!

4. Werksetiek en Boeremaniere

’n Mens kan seker nie almal oor dieselfde kam skeer nie, maar daar is tog nog jongmanne wat pet afhaal as hulle die oom groet, of wat die deur vir ’n dame oophou. Net soos goeie Boeremaniere, is werksetiek ook ’n onmisbare kultuureienskap wat so skaars soos hoendertande is. Suid-Afrikaners is bekend as harde werkers. Geen wonder Afrikaners verlang so na mekaar se geselskap nie!

5. Die tradisie van ’n maaltyd

Natuurlik mis Suid-Afrikaners in die buiteland ’n braai met ’n ordentlike biefstuk gedoop in Jimmy’s sous, ’n koeksister vir nagereg en ’n bakkie warm melkkos met kaneel op. Dit is omdat kos vir Suid-Afrikaners en Afrikaners ’n ervaring is, ’n manier om tyd met familie en vriende te spandeer. Dit is net ons wat heelaand om ’n vuur kan sit en gesels en wat altyd genoeg kos voorberei vir dubbel soveel mense as wat daar is. Boere was bekend daarvoor dat hulle sommer ses tot twaalf koppies koffie gedrink het voordat hulle van die ontbyttafel opstaan; net so rek ons maaltye nog altyd so lank as moontlik uit!

Suid-Afrika is nie altyd rooskleurig nie. Elke land moet sy kruis dra, maar om deel te wees van ’n grenslose gemeenskap bly onskatbaar. Kultuur is bloot ’n gedeelde geskiedenis met allerhande unieke en soms lawwe kultuurpraktyke, en hoe gering dit ook al is, is dit wat ons óns maak. Kultuur word gevier deur dit te ervaar, dit te onthou en dit oor te vertel. Vier dit soveel as wat jy kan met Liewe Heksie, Tolla van der Merwe-grappies, tolletjiebrei, malvalekkers braai en moerkoffie drink!

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest