Leesvordering:

Wat om te pak: Handbagasie 

Mar 9, 2022

Is dit jou eerste oorsese vlug of het jy lanklaas seker gemaak wat jy in jou handbagasie mag inpak? Hier is ’n kort gids oor wat jy moet onthou en wat jy moet vermy wanneer jy weer jou tasse pak!

Dit is aaklig as jy per ongeluk iets in jou handbagasie gepak het wat nie toelaatbaar is nie en eers een kant toe moet staan sodat hulle jou hele tas kan deursoek. Voorkom dit deur te weet wat jy nie in jou handbagasie moet pak nie.

Wat om te vermy

Houers wat vloeistowwe bevat, soos sprei, jel, parfuum of gesigwas moet 100 ml of minder wees en moet in ’n 1 L deurskynende, seëlbare sak geplaas word. Vermy vloeistowwe sover jy kan, maar as jy kontaklensoplossing, formulemelk of voorgeskrewe medisyne (soos hoesmedisyne) moet saamneem, sal die 100 ml-reël nie van toepassing wees nie.

As jy jou grimeringsak net so in jou handbagasie gooi, onthou om onnodige vloeistowwe soos naellakverwyderaar uit te haal. Ander items waarvoor mens dikwels by sekuriteit voorgekeer word, is aanstekers, blikoopmakers, naelvyle, knipmesse, vrugte, bottels water of items wat mense per ongeluk in hulle sakke het, soos skroewe. Indien jy dalk op pad is na familie vir Kersfees, onthou ook dat toegedraaide pakkies nie toelaatbaar is nie. Vat eerder toedraaipapier saam en draai jou geskenkpakkies toe ná die vlug.

Jou handbagasie moet bestaan uit items wat jy onmiddellik nodig het; pak daarom alles in jou gewone bagasie waarsonder jy kan klaarkom tydens die vlug. Hier is die items waarmee jy met gemak jou handbagasie kan vol maak.

Wat om te pak

Hoe groot jou handbagasietas mag wees, wissel van lugredery tot lugredery, maar ’n veilige riglyn is ’n tas met afmetings van 56 cm x 36 cm x 23 cm wat nie meer as 8 kg weeg nie. Die handbagasieregulasies wys daarop dat groter skootrekenaarsakke en aktetasse as aparte handbagasie kan tel en dat jy net een tas as handbagasie mag neem. As jou skootrekenaar of handsak klein genoeg is, tel dit net as ’n persoonlike item wat jy wel kan saamneem buiten jou handbagasietas.

As jy met kinders reis, word jy ook toegelaat om een opvoubare stootwaentjie en een babasak met doeke, bottels en kos saam te neem sonder ekstra koste, mits dié twee items nie gesamentlik meer as 8 kg weeg nie.

Maak seker jy het al jou benodigdhede in jou handbagasie:

Reisdokumente: Paspoort, beursie, kredietkaart, belangrike telefoonnommers (banknommer vir ingeval jou kaart geblok word, reisversekeringnoodnommers of ambassadekontaknommers), verblyfdokumente, vlugkaartjies, reisversekering, doktersvoorskrifte en enige ander persoonlike dokumente.

Toiletware: Sneesdoekies, voorgeskrewe medikasie, haarborsel, minideodorant en vroulike sanitêre produkte. As dit ’n lang vlug is, kan jy dit ook oorweeg om jou tandeborsel en ’n buisie tandepasta van minder as 100 ml saam te neem.

Slaap/Gemak: ’n Warm baadjie of top om die lugversorging te oorleef, nekkussing en ’n ekstra stel klere indien jy ’n oorstaanvlug het of vir ingeval jou gewone bagasie vermis word.

Vermaak: Boek, tydskrif, selfoonlaaier, iPad, oorfone, pen en papier en kamera.

Lekkernye: Kougom, water (wat jy kan koop nadat jy deur sekuriteit is) en enige soet of sout lekkernye wat nie vrugte of groente is nie.

Dit is nie nodig om jou te veel te bekommer as dit jou eerste reis is nie, want wat jy nie mag saamneem nie, word bloot uit jou bagasie verwyder. Die reëls is ook duidelik en solank jy skerp voorwerpe, wapens en groot houers vloeistof vermy, is jy so te sê deur die sekuriteitstoets. Die goue reël is om so min as moontlik te pak sodat jy nog genoeg plek het om al jou inkopies te kan terugbring!

  • Klik hier om jou kontrolelys af te laai.

LEES OOK: Kom ons reis na Suid-Afrika. Wat moet jy weet?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest