Wenke om met kinders oorsee te reis

Om die kleinspan saam oorsee te neem kan ’n uitdagende taak wees! Maar met ’n paar basiese voorbereidings kan jy seker maak jou vakansie verloop seepglad. Hier volg drie wenke wat vir jou gemoedsrus sal verseker:

  1. Maak seker jy het dié dokumentasie byderhand

Die departement van binnelandse sake vereis sedert 2015 dat ouers ook ’n geboortesertifikaat moet toon vir enige kind jonger as 18 jaar en nie net meer paspoorte soos voorheen die geval was nie. Dit geld vir kinders wat Suid-Afrika verlaat of binnekom. Indien slegs een ouer saam die kind reis, moet jy ook ’n gesertifiseerde toestemmingsbrief van die ander ouer kan toon.

Daar is talle gevalle van gesinne wat bloot geweier is om die land te verlaat of binne te kom omdat hulle nie al die nodige dokumentasie byderhand gehad het nie. Indien jy nie jou kinders se geboortesertifikate kan opspoor nie en ’n afskrif benodig, moet jy ’n BI-154-vorm voltooi en dit by jou plaaslike departement van binnelandse sake inhandig. Aangesien dit tot ses maande lank kan neem vir die aansoek vir ’n afskrif om geprosesseer te word, moet jy seker maak jy doen dit vroegtydig!

Hier is al die inligting wat jy nodig het:

  1. Maak die vlug makliker

Wanneer jy ’n vliegkaartjie vir ’n minderjarige bespreek beteken dit nie outomaties dat hulle ’n kindervriendelike ete ontvang nie. Indien jou kleinspan gewoonlik vol fiemies is as dit by kos kom, maak seker jy spesifiseer dat jy kinderetes wil ontvang wanneer jy aanlyn of deur jou toeragentskap bespreek. Dieselfde geld indien jou gesin enige allergieë het en dus spesiale etes gaan benodig.

Maak ook seker jy pak genoeg water vir die vlug in, want die verandering in lugdruk kan ongemaklikheid veroorsaak en om te sluk help om druk van hul ore te verlig. Laat hulle water drink wanneer die vliegtuig opstyg, asook tydens die laaste 30 minute van die vlug.

  1. Gebruik tegnologie tot jou voordeel

Tegnologie kom handig te pas wanneer jy en jou gesin oorsee vakansie hou; nie net om kinders veilig te hou nie, maar ook hom hulle besig te hou! Indien jou kinders hul eie selfone het, is daar talle toepassings wat jy op jou en hul selfone kan aflaai waarmee jy hulle enige tyd mee kan opspoor. Op Apple se App Store is die Find my Friends-toepassing handig, terwyl die Find my kids– of die Family GPS tracker Kid Control-toepassing op Google Play beskikbaar is. Indien jou kinders nie selfone het nie, kan jy ’n Q50 GPS-horlosie aanskaf waarmee jy jou kind se bewegings vanaf jou selfoon kan dophou. Dit is veral handig in besige stede en op lughawens, waar dit moeilik is om die heeltyd ’n oog op jou kinders te hou.

Nog ’n handige toepassing is The Phone Sheriff waarmee jy jou kinders se tyd wat hulle op hul selfone spandeer, kan beperk. Indien hulle byvoorbeeld slegs een uur per dag op hul selfone mag spandeer, sluit die selfoon outomaties nadat die tyd verstryk het. Dit kan veral effektief werk met tieners wat op hul selfone leef tydens familievakansies!

Vir die jonger generasie is daar ook opvoedkundige toepassings wat hulle op ’n lang vlug kan besig hou. Van die bestes sluit in:

  • Jungle Time;
  • Endless Alphabet;
  • Me Comics;
  • Disney Storytime;
  • 8 Planets; en
  • Word Wagon.

Al die nodige dokumentasie en ’n paar toepassings tot jou beskikking sal jou dus toelaat om met totale gemoedsrus oorsee te reis – dit sal jou gesin vir jare laat praat oor dié vakansie!

 

Lees ook: 15 Toepassings om jou weg oorsee te vind

Teken in op ons nuusbrief

Wees die eerste om die jongste nuus en meer te ontvang!

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest