Leesvordering:

Wêreld in fokus: Welkom in Kanada

Feb 13, 2020

Terwyl jy voorbereidings tref om na Kanada te verhuis, is dit belangrik om te weet dat sommige dinge waarskynlik volksvreemd vir jou gaan lyk en voel.

Maar moenie dat die onbekendheid van Kanada jou planne in die wiele ry nie – hier is ons volgepakte tas met alles wat jy nodig het om jou paspoort te laat stempel en Kanada jou huis te noem.

  1. Administratiewe lysie

Voordat jy jou tasse pak en die groot trek aandurf Kanada toe, is dit belangrik om al jou administratiewe goed in orde te kry. Hier is die belangrikste items om op dié lysie te sit:

Visums

Een van die belangrikste dinge wat jy moet uitsorteer, is visums vir Kanada. Dit is belangrik om te weet wat jou persoonlike visumvereistes is. Dit kan nogal ingewikkeld wees, aangesien daar ’n aantal verskillende permanente immigrasievisums is waarvoor jy kan aansoek doen. Dit sluit in:

  • Federale geskoolde werkers
  • Provinsiale nominasieprogram (PNP)
  • Kanadese ervaringsklas (CEC)
  • Gesinsborgskap
  • Besigheidsklas

Kontak die naaste konsulaat, hoë kommissie of ambassade van Kanada om die bal aan die rol te kry wat jou visum betref.

Die beste manier om uit te vind vir watter een jy moet aansoek doen, is om die vorm op die Kanadese regering se webwerf in te vul. Daar sal vir jou gesê word presies waarop jy geregtig is en watter visum die beste vir jou is. Op hierdie manier word die proses van aansoek om ’n visum minder stresvol.

Mediese sorg

Kanada bied aan sy burgers en permanente inwoners universele openbare gesondheidsversekering, wat toegang tot dokters teen lae koste dek. As jy dus net tydelike verblyfreg het, kom jy ongelukkig nie in aanmerking vir dieselfde voordele nie.

Medicare is die openbare gesondheidsorgstelsel in Kanada wat deur die regering befonds word. Dit is beskikbaar slegs vir permanente inwoners in Kanada. Om Medicare te ontvang, kan jy aanlyn aansoek doen by die Régie, sowel as by plaaslike apteke en dokterskantore.

Tandheelkundige sorg, aan die ander kant, kan baie duur wees. Dit is beter om gesondheidsversekering van ’n derde party te kry.

Dit kan maande duur om jou gesondheidsversekering in orde te kry, en daarom is dit ‘n goeie idee om met drie of meer maande se gesondheidsorg wat reeds afgehandel is, te verhuis.

Voldoende gesondheidsversekering is ’n visumvereiste vir Kanada, maak dus so gou as moontlik werk hiervan.

Om te koop of nie te koop, dit is die vraag!

Mortgage Professionals Canada het ’n verslag gepubliseer met die titel Owning versus renting a home in Canada. In hierdie verslag word gekyk na die totale prys wat huiseienaars betaal, in vergelyking met wat huurders kan verwag om oor ’n lang tydperk te betaal.

Die verslag het na 266 scenario’s in ’n aantal stede regoor Kanada gekyk. Die drie belangrikste plekke wat ondersoek is, was Quebec City, die groter Toronto-omgewing en Vancouver.

In die meeste gevalle is dit goedkoper om ‘n huis in Kanada te koop as om vir ‘n lang tyd te huur. Volgens die verslag kan dit duur wees om ’n huis te koop, maar die grootste deel van die eienaarskoste (die verbandbetaling) is al ’n geruime tyd lank vasgestel. Die resultaat is dat die huurkoste vinniger sal styg as die huiseienaarskoste.

Daar moet egter in gedagte gehou word in watter stad jy besluit om te woon. In stede soos Toronto en Vancouver is huur die grootste opsie, omdat dit te duur is om by die huismark in hierdie stede betrokke te raak.

  1. Laat die groot trek begin!

Nou dat jou administratiewe lysie voltooi en afgemerk is, is dit tyd om die lang pad Kanada toe aan te durf. Maar voordat jy die onbekende invaar, hier is ’n paar riglyne om jou in ’n japtrap te laat tuis voel.

Immigreer met troeteldiere

Daar is spesifieke riglyne wat jy moet volg as jy met jou troeteldiere na Kanada wil verhuis:

  • ’n Oorspronklike internasionale gesondheidsertifikaat uitgereik deur ’n geakkrediteerde veearts, of ’n oorspronklike sertifikaat van inenting teen hondsdolheid (nie nodig vir honde onder drie maande nie)
  • ’n Papieropgawe van jou troeteldier se vorige veeartse
  • ’n Afskrif van die doeaneklaringsvorm
  • ’n Afskrif van die oorspronklike paspoort van die eienaar
  • ’n Afskrif van jou visum of werkpermit

 

Die invoer van ‘n hond of kat sal jou 30 Kanadese dollar kos, maar die invoer van ‘n voël kos jou baie meer geld, omdat voëls in kwarantyn geplaas moet word. Troeteldiervervoerondernemings kan jou help met die verhuising van jou troeteldiere na Kanada.

Lewenskoste in Kanada

Iets om in gedagte te hou, is dat die lewenskoste in Kanada heelwat hoër is as waaraan ons hier in Suid-Afrika gewoond is. ’n Voorbeeld hiervan is dat jy in Suid-Afrika R13.17 betaal vir een liter melk, maar in Kanada kan jy tot R23.70 betaal.

Ondanks die hoë lewenskoste kan jy jou gewete sus met die wete dat saam met hierdie hoër pryse daar ook hoër salarisse en lone is. Die gemiddelde maandelikse netto salaris na belasting in Kanada is R32 920, teenoor die R15 604 in Suid-Afrika.

Kanadese belastingstelsel

Onder Kanada se gedesentraliseerde federale stelsel word belasting op verskillende vlakke gehef. Inkomstebelasting word deur die federale en die provinsiale regerings ingevorder.

Afhangend van jou status en diensvoorwaardes kan jy aan die einde van die boekjaar geregtig wees op ’n belastingterugbetaling.

BTW wissel tussen die provinsies, van 5% in Alberta tot 14.975% in Quebec. Dit word by die verkoopspunt bygevoeg en nie op die prysetiket nie; wees dus bewus daarvan dat ’n item wat as $10 geadverteer word, jou meer sal kos wanneer jy daarvoor betaal.

Onderrig in Kanada

Elke provinsie in Kanada is verantwoordelik vir die opstel van sy eie kurrikulum en onderwysstelsel. Daar is privaat skole, maar die meeste gesinne verkies openbare skole. Aangesien Frans die moedertaal van ongeveer 7,2 miljoen Kanadese is, is daar sowel Engelstalige as Franstalige skole.

Verpligte skoolopleiding begin gewoonlik op die ouderdom van ses jaar, en op 13 jaar begin elementêre en sekondêre onderwys. Kinders woon gewoonlik ’n openbare skool by wat naby hulle huis geleë is. As jy ’n voorkeur het vir ’n spesifieke openbare skool, is dit gewoonlik nodig om ’n eiendom in daardie distrik te koop of te huur, alhoewel jy aansoek kan doen as jy graag wil hê jou kind moet ’n skool buite jou omgewing bywoon.

Die skooljaar in Kanada duur gewoonlik vanaf die eerste week van September tot einde Junie (tien maande) en word in kwartale verdeel. Sommige skole het ’n jaar wat strek vanaf middel Augustus tot einde Mei.

Openbare vervoeropsies

Kanada het ’n taamlik uitgebreide busnetwerk, wat dit moontlik maak om nasionaal, provinsiaal en selfs na die Verenigde State te reis. Busvervoer kan vinniger as treinvervoer wees.

Jy kan dit ook oorweeg om per taxi van die een punt na die ander te beweeg. Elke taxibestuurder het ’n identifikasiedokument wat die wettigheid van sy aktiwiteite bevestig, sowel as ’n sertifikaat wat bevestig dat sy voertuig aan die stad se veiligheidstandaarde voldoen.

Sommige mense verkies om van saamrygeleenthede gebruik te maak. Al wat jy hoef te doen is om op ‘n webwerf wat hierdie soort dienste aanbied te registreer. Jy kan ’n rit aanbied of jy kan registreer as ’n passasier op ’n bestaande reis. Daar is ook privaat advertensiegroepe op Facebook. Met saamrygeleenthede kan jy heelwat geld bespaar in plaas daarvan om ’n motor apart te koop of te huur.

Kanada het ’n uitgebreide skoolvervoerstelsel. Net soos in die Verenigde State, gebruik die skoolvervoerstelsel tradisionele geel skoolbusse. In Quebec word 46 000 studente per bus met openbare vervoer na en van hulle skole vervoer.

Seisoene

Die gemiddelde winter- en somertemperature regoor Kanada verskil volgens die ligging. Winters kan in baie streke van die land baie koud wees, veral in die binneland en die Prairie-provinsies, wat ‘n kontinentale klimaat het. In hierdie gebiede kan die daaglikse gemiddelde temperatuur naby -15 grade Celsius wees, maar dit kan selfs onder -40 grade Celsius daal met erge wind. In nie-kusstreke kan sneeu die grond byna ses maande van die jaar bedek. Die kusgebied van Brits-Columbië geniet ’n gematigde klimaat met ’n sagte en reënerige winter.

Aan die oos- en die weskus is die gemiddelde temperatuur in die somer gewoonlik net meer as 20 grade Celsius, terwyl die gemiddelde somertemperatuur in die binneland tussen 25 en 30 grade Celsius wissel, met wisselvallige hitte van meer as 40 grade Celsius in sommige binnelandse streke.

Natuurrampe

As die natuur in ’n slegte bui is, kan daar baie dinge in Kanada gebeur. Bosbrande kom meestal voor in Brits-Columbië en die woude van Ontario, Quebec, die Prairie-provinsies, die Yukon en die Noordwestelike Gebiede. Daar kom gereeld oorstromings voor in die lente as gevolg van die sneeu wat smelt. Gedurende die somer kom tornado’s voor in die suide van Alberta, in Manitoba en in Saskatchewan, in die suide van Ontario en Quebec, in die binneland van Brits-Columbië en in die weste van Nieu-Brunswyk.

Die meeste vulkane is in die weste van Kanada geleë, waarvan die aktiefste in die Yukon en Brits-Columbië geleë is. Dit vorm deel van die Stille Oseaan se Ring van Vuur, wat bekend is vir sy aktiewe vulkane en aardbewings.

Sodra al die blokkies gemerk is, is dit tyd om jou tasse te pak en jou paspoort te laat stempel!

Laastens,

Welkom in Kanada!

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest