Leesvordering:

Wêreldwyd – AfriForum se tuiskomplek vir ons mense in die buiteland

Jan 7, 2020

Maart 2020, Suid-Afrika: Visums is onttrek, grense is gesluit en meer as 57 miljoen mense word onder volskaalse inperking geplaas. Die land is as ’t ware tot stilstand gedwing, en terwyl die wêreld asem ophou om te sien hoe die COVID-19-pandemie uitspeel, is talle Suid-Afrikaners in die buiteland vasgekeer.

In die agt maande waarin internasionale reise na en van Suid-Afrika opgeskort was, is Wêreldwyd, ’n inisiatief van AfriForum, oorval met honderde navrae van Suid-Afrikaners wat in nagenoeg 50 lande reg oor die wêreld gestrand geraak het.

Wêreldwyd is agt jaar gelede op die been gebring om aan Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon ’n platform te bied om steeds in voeling met hul geboorteland te bly. Volgens Sue-Ann de Wet, bestuurder van Diaspora, Skakeling en Identiteit by AfriForum en meer spesifiek aan die stuur van Wêreldwyd, het die skielike inperking en sluiting van grense vir honderde Suid-Afrikaners in die buiteland in ’n krisis ontaard. “Wêreldwyd is oorval met honderde navrae van Suid-Afrikaners wat besig was om in die buiteland te toer, te kuier of te werk. Die sluiting van die land se grense het hierdie mense gestrand gelaat. In die ergste gevalle was hulle iewers met weinig toegang tot geriewe, kommunikasie, beskerming of lewensmiddele vasgekeer.”

Die verhale van mense – elk met unieke omstandighede – wat by Wêreldwyd om hulp aangeklop het, is legio, sê De Wet. “Ons kan boeke skryf vol verhale van mense wat teruggekeer het uit die buiteland en daarna onder kwarantyn geplaas was; oor mense wat eenvoudig nie kon terugkeer nie; dié wat terug was en toe weer wou weg; mense wat familie aan die dood afgestaan het en begrafnisse in Suid-Afrika wou bywoon. Daar is soveel stories van mense wat ongekende ontberinge gehad het, soos die mense wat op skepe gestrand gelaat was, en telkens was Wêreldwyd daar met ’n antwoord of om Suid-Afrikaners by te staan in dié omstandighede.”

Terwyl Suid-Afrikaners gesukkel het om vanuit die buiteland terug te keer, het drakoniese kwarantynvereistes op plaaslike bodem boonop verdere uitdagings geskep. Ook aan dié front het Wêreldwyd in samewerking met AfriForum en die regsfirma Hurter Spies Ing. ingespring om na die belange van Suid-Afrikaners om te sien. “Danksy volgehoue druk deur litigasie wat Hurter Spies Ing. namens AfriForum gevoer het, het die staat uiteindelik sy kwarantynvereistes vir terugkerende Suid-Afrikaners uit die buiteland gewysig om verpligte kwarantyn vir terugkerendes uit te faseer,” verduidelik De Wet.

COVID-19 het ’n definitiewe rol gespeel by Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika teruggekeer het. Talle Suid-Afrikaners het boonop hul werk as gevolg van die pandemie en inperking verloor en sonder die nodige hulpbronne en ondersteuningsnetwerk in plek, was die nagevolge daarvan noodwendig rampspoedig. De Wet hou egter vol dat Suid-Afrika nie gevrywaar is van ’n tweede vlaag van die virus nie en dat voorbereiding juis nóú noodsaaklik is. “Hierdie pandemie het almal onkant betrap. Ons moet egter in gedagte hou dat so iets weer in ons leeftyd kan gebeur en dan moet ons voorbereid wees, en juis om dié rede sal Wêreldwyd poog om ons mense op hoogte te hou van die nuutste regulasies, wetgewing, inligting en wenke.”

Wêreldwyd in ’n neutedop: Hoe jý daarby kan baat

Wêreldwyd bied reeds die afgelope agt jaar ’n aanlyn tuiste vir Suid-Afrikaners wat hulself in die buiteland gevestig het. “Ons streef voortdurend daarna om Suid-Afrikaners op hoogte te hou van sake wat hulle as Suid-Afrikaanse ekspats en reisigers raak. Ons voorsien hulle van akkurate inligting en betroubare advies – of dit nou advies is oor ’n volgende reis of inligting aan persone wat emigrasie oorweeg, Wêreldwyd bied ’n eenstopdiens,” sê De Wet.

“Migrasie is ’n persoonlike keuse waarvoor elkeen self verantwoordelikheid moet aanvaar. Ons wil mense toerus en verseker dat die keuse om Suid-Afrika te verlaat, of hierheen terug te keer, ’n ingeligte besluit is wat op betroubare inligting berus. Ons sien daarna uit om dié tradisie voort te sit en wil alle Suid-Afrikaanse burgers na die beste van ons vermoë dien – ongeag waar jy jouself bevind.”

Word deel van Wêreldwyd se aanlyn gemeenskap en die Wêreldwyd-netwerk. Kom kuier saam met ander Suid-Afrikaanse ekspats van reg oor die wêreld en bly op hoogte van nuusgebeure in Suid-Afrika wat jou ook raak. Maak kontak en deel jou avonture!

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest