Deur Cecilia Barnard

30 September 2019

Ek is rusteloos vanaand, nes gisteraand. Daar is ’n onwennigheid in my wat ek nie kan verklaar nie. Of eerder, ek kan dit verklaar, maar nie verwoord nie.

Vandag was een van daardie tussenin-dae. So asof die natuur nie mooi weet wat om te maak met die aarde nie. Die wind waai en die wolke dra swaar aan die belofte van reën, tog is daar oomblikke van stilte wanneer die wind gaan lê en die son wegkruipertjie met die skadu’s speel.

Dit is op sulke dae wat ek nie eintlik aan die gang kan kom nie. Ek dwaal eerder.
Vat hier, los daar, en telkens vang ek myself besig om rond te dobber in ander tye en plekke, nestel ek myself vaster in die wêreld in my kop.

Ek is hier, maar ook nie eintlik nie.

Die rede vir hierdie nostalgie, of amperse melancholie, is die pas afgelope Wesfrontstaptoer wat ek meegemaak het.
’n Week lank het ek, omring deur ander jong Afrikaners, letterlik teruggestap op die spore van ons voorvaders en -moeders.

Ek het ’n behoefte om terug te keer na stilte wat ek die laaste week so lustig ingedrink het. In my kop hoor ek steeds die geknars van my skoensole soos ons kilometers ver oor verlate stofpaadjies en eentonige grasvlaktes stap.
Ek verlang na die eenvoud van die Vrystaat se horison en die reuk van veld.

Ek het verwag om so te voel, en steeds is ek verras deur die gevoel dat ek nie behoort nie. Nie in hierdie gejaagde, moderne bestaan nie. Nie in dit wat ons klassifiseer as “beskawing” nie.

Die ongekunsteldheid van so ’n stappery het ’n manier om my meer mens te laat voel, meer in pas met myself. Asof die oormaat suurstof en gebrek aan bekommernisse dinge weer in perspektief plaas.

Op die presiese plekke waar die boere, my mense, óns mense, geveg het vir ’n toekoms, vryheid en die behoud van hul volk. Daar het ek gestaan.

En keer op keer kon ek net stil raak. Myself probeer indink hoe dit 119 jaar terug op dieselfde plek was. Onder dieselfde son, onder dieselfde malse, blou, Afrikalug.

As ek my oë lank genoeg toemaak, kan ek hulle in my geestesoog sien. Mense nes ons. Vlees en bloed. Wesens wat asemhaal. Mans, vrouens en kinders. Mense wat eens ook gedans en gelag het, geleef het. Liefgehad het. Mense wat opgestaan het teen ’n oorweldigende menigte, om te veg vir dit wat aan hul behoort.
Soveel siele wat hul lewens verloor het.

Ek het al soveel oorlogsverhale gelees, sommige fiksie, ander feitelik.

En steeds. Geen boek, geen ink en pen kan die verwondering in jou verwoord wanneer jou geskiedenis vir jou tasbaar word nie. Wanneer die stories ’n identiteit van hul eie aanneem en die dae, weke, maande en jare wat jou voorafgegaan het, so duidelik geskets word nie.

Om nederig te wees is ’n voorreg. Om telkens verstom te wees oor die stille krag wat in jou verskuil lê. Ons geskiedenis is magtig. Ek is sterk, want my mense is sterk.

My lyf was moeg gewees met my terugkoms, maar my siel was verkwik. Ek was weer seker oor waar ek behoort. Oor die mense wat ek in my lewe wil hê en die toekoms wat ek vir myself opdroom.

Ek put hoop en krag uit die verhale van elkeen wat voor my gekom het. Uit die wete dat daar sterk mense in al my gisters was. Iemand wat ook nie geweet het hoe die dag van môre daar sou uitsien nie. Iemand wat ook saans gebid het vir nog ’n sonsopkoms en die veilige bewaring van ’n geliefde se hartklop.

Die slagvelde is lankal stil, al meer as ’n eeu. Die enigste bewys van ons geskiedenis is die wonde in klip en skrapnelstukkies onder sand begrawe. En al wat oorbly is ons verhale, die sekerheid van wie ons is, en waar ons vandaan kom.

Cecilia Barnard

Na afloop van die Wesfrontvasbytstaptoer deur AfriForum Jeug

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest