Kastele, turkoois riviere, sneeubedekte bergpieke, roomyswinkels op elke hoek, Venesiese argitektuur, wolhaarhonde, visgeregte, pomfri en vars gebakte brood. Vir my is dít Slowenië in ’n neutedop … oftewel die bietjie wat ons daarvan kon beleef tydens ons 12-daelange wittebrood in dié pragtige Europese land.

Op 2 April het ek en my man, Sergio, moeg maar opgewonde van die vliegtuig by die Ljubljana-lughawe afgeklim. Die dag waarna ons so lank uitsien het, het uiteindelik aangebreek: ons wittebrood (of Nannimoon soos ons dit vanweë ons van gedoop het) en eerste Europese avontuur saam.

Ná ons ons bagasie gekry het, het ons die vieruurlange busrit aangepak na Piran, ons bestemming vir die volgende twee weke. Ons was beïndruk deur die gehalte van openbare vervoer en het ons verkyk aan die natuurskoon, interessante boustyle en enkele e-motors wat hier en daar langs die pad herlaai word.

Piran het ons asems weggeslaan. Dié 19de-eeuse dorp is aan Slowenië se Adriatiese kus geleë en is bekend vir sy lang pier, dorpsmure, Gotiese en Venesiese boustyle. Dit is ook die geboorteplek van die violis Giuseppe Tartini. Tartini-plein spog met ’n groot standbeeld van hom en is dan ook na dié violis vernoem. Die nou straatjies is vol interessante winkels en intieme restaurante. Ons het ook hiér ons heel eerste skildery(tjie), wat Piran uitbeeld, in die antieke, klein, interessante ateljee van Angelo Bajuk aangekoop.

Omdat dit ons wittebrood was, het ons gekies om vir die volle 12 dae wat ons daar was in Hotel Piran te bly omdat ons nie te veel wou reis nie. Ons het egter vandaar daguitstappies beplan, onder meer na die Julien Alpe in Bohinj, asook na Bled, Ljubljana, Istria en dan ook Trieste en Venesië in Italië.

Sergio se oupa, Luigi (oftewel Gino, soos almal hom genoem het), was ’n Italianer wat op 18 jaar in Suid-Afrika kom boer en met ’n Afrikaanse meisie, Nellie, getrou het. Hoewel die hele familie trots Afrikaans is, was Sergio egter nog altyd nuuskierig oor sy Italiaanse wortels en wou ons daarom graag ook ’n besoek aan Italië aflê – al was dit net vir een dag.

Maar waarom Slowenië as bestemming en nie Italië nie?

Oupa Gino het in ’n klein dorpie naby Toskane grootgeword en die aanvanklike plan was om Italië toe te gaan. Omdat ons hoofsaaklik self vir ons troue betaal het, was dit egter ’n baie duur opsie. Dis toe dat vriende – gesoute reisigers – ons van Slowenië vertel het.

Hulle het dit as ’n pragtige, kultuurryke land beskryf, wat ons steeds sal toelaat om ’n klein deel van Italië te sien en nie die beursie sou leeg maak nie. Hul het voorts gesê dat Slowenië volgens hulle in geheel ’n verborge juweel is wat nog nie die deur die vlaag toeriste ontdek is wat jaarliks na bekende Europese lande soos Italië stroom nie. Ons is baie bly dat ons dié raad gevolg het. Ons verblyf, kos en aktiwiteite was baie bekostigbaar en ons kon mooi binne ons begroting bly.

Boonop is Slowenië ’n pragtige land met van die mooiste kastele, riviere, toeriste-aantreklikhede en argitektuur. Dit is ook ’n katspoegie weg van onder meer Kroasië, Oostenryk en, soos reeds genoem, Italië. Afhangende van waar in Slowenië jy woon, kan jy binne 40 minute in een van dié drie lande wees. Moet egter nie die grootte van Slowenië onderskat nie – daar is so baie wat ons nog wou sien, byvoorbeeld Bovec, Postojna, Novo Mesto en die Vintgar-kloof. Ons hoop om dit op ’n volgende toer te kan sien. Boonop is Slowenië een van die veiligste lande ter wêreld met ’n baie lae misdaadsyfer.

Meer oor Slo-kos

Slowene is baie lief vir brood, waaroor ek baie bly was! Met elke maaltyd kry jy bykans ’n hele vars gebakte brood om aan te smul. Hulle smeer dit egter nie toe met botter soos wat ons lief is om te doen nie, maar bedien dit slegs met olyfolie, balsamiese asyn en sout. Hulle eet ook nie baie sous saam met hul kos nie.

Een van die gewildste disse in Slowenië is ćevapi of ćevapčići, ’n geroosterde dis van gemaalde vleis wat amper soos iets tussen ’n beesworsie en ’n frikkadel lyk en proe. Dit was lekker, maar kom nie naby ’n eg Suid-Afrikaanse boerewors nie.

Verder is daar op elke spyskaart vis, vis en nóg vis. Sommige visse lyk of hul pas gevang is en word op ’n groot, silwer bord bedien – oë, skubbe en al. Daar is ook ’n groot verskeidenheid seekosse met onder meer mossels, scampi (garnale) en calamari.

Iets waaraan ons gereeld gesmul het, was hul pizzas en pastas. Daar is ook lekker varkvleis. Ons is baie lief vir rooivleis en het ná ’n week in Slowenië omtrent na ’n skaaptjoppie of beesburger gesmag. Ons het toe in Kranj die lekkerste burgers by Project Burger geëet – die naaste wat ons aan huiskos kon kry.

Hulle roomys is baie lekker en ons het soms tot twee keer ’n dag roomys geëet.

Ons top vyf hoogtepunte

  1. Ons het met e-bergfietse ’n toer na al die Istrian-kusdorpies onderneem. Jy hoef nie eens fiks te wees nie!
  2. Ons het Bled-kasteel besoek en langs die Bled-rivier gaan stap.
  3. Die stadsmure van Piran is baie interessant en bied ’n baie mooi uitsig oor die hele dorp. Ons het dié uitstappie afgesluit met ’n bootrit na Portoroz, ’n nabygeleë kusdorpie.
  4. Die kabelkar wat jou tot op die Julien Alpe in Bohinj neem, was ’n belewenis. Dit was my man se eerste sneeu-ervaring.
  5. Die daguitstappie na Venesië was kort, maar absoluut die moeite werd.

Wat het uitgestaan

  • Slowenië is baie dierevriendelike land. Mense stap elke dag met hul honde en die honde is ook in meeste van die restaurante toegelaat wat ons besoek het. Ek moet bysê dat die honde baie gehoorsaam en goed gemanierd is. Daar was veral baie wolhaarhonde en ook ’n hele klomp Labradors. Die honde loop dikwels sonder leibande en wag buite supermarkte doodluiters daarsonder op hul eienaars terwyl dié inkopies doen. Baie toeriste het ook hul honde saamgebring.
  • Motoriste, busbestuurders en voetgangers gehoorsaam die verkeersreëls te alle tye en openbare vervoer verloop vlot. Die busse is nie net betyds nie, maar vroeg. Dit neem uiteraard net langer om per bus as per motor te reis. Taxi’s is egter baie duur en ons het glad nie daarvan gebruik gemaak nie. Dis wel goedkoop om ’n motor, poegie of fiets te huur.
  • By die kusdorpies is daar oral trappies langs die see wat inwoners en toeriste in staat stel om maklik in die baai te swem. Die baai is soos een groot swembad wat almal kan gebruik.

Raad en wenke

 

  • Beplan jou vervoer! Busvervoer is gerieflik en verloop glad, maar dit neem langer en soms moet jy twee of drie busse haal om jou eindbestemming te bereik. Maak seker jy vat jou bestuurslisensie saam sodat jy ’n motor kan huur. Ons het op openbare vervoer staatgemaak en nie besef hoe maklik en goedkoop dit is om ’n motor te huur nie. Taxi’s was vir ons onbekostigbaar.
  • Die toeristeseisoen skop eers aan die einde van Mei af. Sommige dagtoere, byvoorbeeld ’n bootrit na Venesië, was dus nie moontlik nie – wat soms teleurstellend was. As jy egter ’n eie voertuig het, kan jy dit maklik doen. Maak vooraf seker wat jy alles graag sal wil (en kan) doen, en werk uit hoe jy dit gaan doen.
  • Ons sal volgende keer vir ’n korter tydperke op meer plekke bly. Ons het byvoorbeeld lekker in Piran gekuier, maar sou ook daarvan gehou het om ’n paar dae in Bovec en Bohinj te spandeer om weer ’n ander tipe ervaring te hê. Daar is meer berge en riviere, en ons het nie besef daar is soveel natuur- en buitelugaktiwiteite nie. Dit was net-net te vêr om elke dag tot daar te pendel en ons het nie besef dat die busse nie oor naweke so vêr ry as in die week nie. Dit kom neer op deegliker navorsing van wat Slowenië alles bied.
  • Ons sal nie weer deur ’n reisagentskap werk nie en alles eerder self organiseer.
  • Daar is soveel om te sien – in ons eie land én in die buiteland. Reis soveel as wat jy kan (soos dit jou sak pas, natuurlik). Die gogga het ons beslis gebyt en dit het ons lewe en verhouding verryk. Ons hoop dat ons in die toekoms nog baie sal kan reis.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Pin It on Pinterest