Leesvordering:

As die Afrikaanse borrel om jou bars

Apr 12, 2021

Deur Marisa Haasbroek

Die ander dag sit ons gesin in ’n restaurant en ons praat lustig Afrikaans. Ná meer as ses jaar in Amerika voel Afrikaans soos ’n borrel om ons wat min mense wat hier bly, kan binnedring. Ons gesels oor my seun se studies en watter vakke hy wil neem. Dis die vak hier en daai vak daar. Ons vak net links en regs.

My dogter werk in die animasiebedryf en word opgelei om ’n fyn waarnemer te wees. Mettertyd raak sy daarvan bewus dat die twee tannies by die tafeltjie oorkant die paadjie se oë rek en dat hulle afkeurend frons elke keer as ons “vak” sê, en sy wys ons daarop dat die Afrikaanse woord “vak” vir ’n Engelse oor na iets heeltemal anders klink. Afrikaans is toe nie heeltemal so ondeurdringbaar as wat ons ons verbeel het nie.

Andersom is dit ook waar. Met sekere Amerikaanse plekname het ons aan die begin ons asse afgesukkel. Nou gly hulle so maklik soos “rooi ribbokram” van ons tonge af. Gewoonlik het ’n onuitspreekbare pleknaam in Amerika ’n Indiaanse klap weg, soos Shenandoah wat die naam van ’n pragtige vallei in Virginië is. Niemand weet presies wat dit beteken nie, maar die gewildste verklaring is die romantiese “pragtige dogter van die sterre”. Nog ’n voorbeeld van so ’n pleknaam met Indiaanse wortels is die ellelange Susquehannarivier. Die naam is afgelei van “oesterriviermense”.

Maar ander kere is dit net die gewone Engelse manier om letters neer te skryf wat jy nie veronderstel is om uit te spreek nie wat ons deurmekaar maak. Hier naby ons is byvoorbeeld ’n plek met die naam Waugh Chapel. Ons Afrikaanse sê-elke-letter-hardop oë het nie lekker geweet wat om met Waugh aan te vang nie, totdat ons genoeg plaaslike inwoners dit “Wô” hoor uitspreek het. Toe begin die klokkies lui. O, dis dieselfde klank wat deftige Pretorianers gebruik as hulle van hulle “strônthuise” praat.

Ons is nie die eerste mense in die geskiedenis wat in ’n tweede taal ons weg moet probeer vind nie. Julius Caesar se moedertaal was Latyn, maar sy sterwenswoorde was glo in Grieks. Volgens die storie was ou Julius baie beeldbewus. Sy eerste belangrike werk in Rome was om die Spele met die gladiators, die honger leeus en die ongelukkige gevangenes te organiseer om die massas te vermaak. Deur die Spele so skouspelagtig as moontlik te maak, het hy sy loopbaan as generaal en uiteindelik as keiser gelanseer. As keiser het hy glo baie van die lourierkrans gehou wat hy soms moes dra, want dit het sy bles goed versteek.

In Julius se tyd was Grieks die taal wat in tel was en nie simpel ou Latyn nie. Selfs in sy sterwensoomblikke was Julius steeds bewus van sy beeld. Toe hy sien sy vriend Brutus was deel van die komplot om hom om die lewe te bring, het hy glo in Grieks uitgeroep: “Jy ook, my kind?”

Party klanke kom deesdae makliker en gladder vir ons hier in Amerika, maar nie almal nie, hoor. Die een klank in Engels wat my steeds laat struikel, bly “th”. Ek moet regtig fokus daarop om “the” te sê en nie “de” nie. My telefoonnommer begin met 443. Jy moet my dit hoor sê. Met die twee viers klink ek of ek Prinses Kate haarselwers is, maar met die drie skop my Afrikaanse tong en tande in en “frie” ek as ek “three” bedoel.

Deesdae is ek ’n gekwalifiseerde leefgids (“life coach”) hier in die vreemde. Dit bly steeds vir my onwerklik dat Amerikaners bereid is om ’n gewone Boeremeisie soos ek baie dollars te betaal om hulle te help om hulle gedagtes en gevoelens beter te bestuur. Maar hulle doen dit sowaar.

Een pluimpie moet ek die Amerikaners darem gee: Hulle is nie taalsnobs nie. Dis selde dat iemand vir my uitspraak lag of my grammatika regmaak. Die selfbewustheid wat ek altyd in Suid-Afrika gehad het om voor my Engelse landgenote Engels te praat, het verdwyn.

“Wat maak jy met jou aksent?” vra ’n Australiese vriendin toe sy hoor dat ek ’n leefgids in Amerika is.

“Ek omhels dit,” sê ek sonder skroom. Want Afrikaner is wie ek is. En altyd sal wees.

Lees ook: My mond mis my mense die meeste

Besoek Marisa se webtuiste Oolfant

 

  • Foto: Priscilla Du Preez  (Unsplash)
Meer oor die outeur

Marisa Haasbroek

Marisa Haasbroek, wat in Amerika bly, is ’n skryfster, tuisskoolbegeleier vir ma’s in Suid-Afrika en ook ’n lewensafrigter of life coach. Volg haar op Instagram by @risa4coaching.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest