Leesvordering:

Belangrike vrae voor en tydens emigrasie

Sep 12, 2023

Deur Alana Bailey

In ’n vorige artikel, Moenie vlieg sonder ’n vangnet nie, het AfriForum Wêreldwyd genoem dat dit nodig is om die emigrasieproses met groot omsigtigheid aan te pak. Ons verneem dikwels van gevalle waar mense in groot nood in die buiteland verkeer weens onoordeelkundige besluite wat geneem is. Om dié rede noem ons enkele sake wat ’n mens in gedagte moet hou wanneer jy besluit om tydelik of permanent in die buiteland te gaan woon:

Beplanning vir die buiteland:

  1. Sorg dat jy mediese versekering het. Al is jy hoe jonk of gesond, as jy in ’n ongeluk beseer word, of onverwags siek word, kan hospitaalkoste in die buiteland maklik honderdduisende rande beloop en ’n repatriasievlug letterlik miljoene.
  2. Maak seker die werksaanbod en immigrasiedokumentasie wat jy kry is geldig. “Agente” loop mense soms lelik in met vals dokumentasie. Werk saam met adviseurs wat al dekades in die bedryf is en ’n gevestigde reputasie het.
  3. Moenie ’n beurs of salaris wat aangebied word, na rand omskakel nie. Kyk wat die lewenskoste in die bepaalde land is en vergelyk die bedrag daarmee om seker te maak of jy daarop sal kan oorleef.
  4. Stel vas hoe inkomstebelasting jou gaan raak om te voorkom dat jy dubbel belasting gaan betaal in beide Suid-Afrika en jou nuwe tuiste.
  5. Maak seker watter rugsteunplanne bestaan as jou werkgewer skielik jou pos sou afskaf of die besigheid sou sluit.
  6. Maak seker dat jy die besigheidstaal of -tale van die land waar jy gaan woon, vlot praat.
  7. Sou jy besluit om in die buiteland te studeer, maak seker dat die instelling en kwalifikasie in Suid-Afrika en elders geakkrediteer en erken word.
  8. Moenie voor die voet besittings saamneem nie. Elke land het voorskrifte van items wat nie daarheen geneem kan word nie – jou ketelbraaier gaan dalk ’n onwettige invoerproduk wees wat jy gaan verbeur en dan het dit onnodig spasie in jou vraghouer opgeneem. Net so gaan jou gunsteling lakens dalk nie op die land se beddens pas nie. Expat-groepe kan nuttige wenke hieroor gee.
  9. As jy troeteldiere het, is die koste om hulle saam te neem, hoog, maar om troeteldiere in die buiteland te koop, is self besonder duur. As jy diere hier agterlaat by vriende, familie of skuilings, is die kans dat hulle ‘n goeie permanente huis gaan vind en suksesvol gaan aanpas, bitter skraal. Moet dus ook nie ’n klein hondjie of katjie kry as jy beplan om binnekort te emigreer nie.
  10. Vir kinders kan emigrasie baie traumaties wees. Hou kontak met hulle nuwe onderwysers, want soms lyk dit tuis of alles in orde is, maar op skool raak hulle probleme duidelik.
  11. Die staat gaan jou nie repatrieer na Suid-Afrika in geval van nood nie. Die koste gaan jou en jou familie se verantwoordelikheid wees.
  12. Tans is dit nodig om seker te maak jy bly op hoogte van die COVID-19 regulasies van beide Suid-Afrika en die land waarheen jy gaan, asook ander lande waardeur jy dalk mag reis op pad na die eindbestemming. Daar is deurentyd nuwe verpligtinge met betrekking tot inenting, kwarantyn en grense wat sluit.
  13. Moenie asiel of vlugtelingstatus as kortpad vir immigrasie oorweeg nie. Dit word selde goedgekeur, ongeag die huidige misdaadsituasie in Suid-Afrika, en indien jou aansoek wel slaag, is hierdie tipe status tydelik en uiters beperkend. Sou dit nie slaag nie, word die feit dat jy aansoek gedoen het, wel aangeteken, wat dit baie moeilik kan maak om in die toekoms weer toegang tot buitelandse lande te kry.

Moenie brûe in Suid-Afrika verbrand nie – die kans dat jy eendag na Suid-Afrika sal terugkeer, kan nooit uitgeskakel word nie:

  1. Moenie skuld of boetes agterlaat nie. Die arm van die gereg is lank.
  2. Hou indien moontlik ’n bankrekening in Suid-Afrika aktief, want om een uit die buiteland te probeer open, is moeilik tot onmoontlik, afhangend van jou persoonlike omstandighede.
  3. Verkoop eers duur bates soos huise en voertuie as jy redelik permanent in die buiteland gevestig is, anders sal jy wat jy gehad het dalk nie meer kan bekostig as jy onverwags sou moes terugkeer nie.
  4. Dink mooi voor polisse afgekoop word.
  5. Moenie te gou jou mediese versekering in Suid-Afrika beëindig nie. As jy sou terugkeer, gaan jy voortaan ’n heffing betaal as deel van jou mediese fondspremie, bereken op grond van elke jaar wat jy nie ’n lid van ’n Suid-Afrikaanse fonds was nie.
  6. Wanneer jy buitelandse burgerskap wil aanvaar, doen eers om behoud van die Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek, anders is die kans baie groot dat jy jou Suid-Afrikaanse burgerskap gaan verloor.
  7. Hiermee saam, hou jou burgerskap in stand, maar ook jou Suid-Afrikaanse paspoort en gebruik altyd die Suid-Afrikaanse paspoort om Suid-Afrika binne te kom en dit te verlaat.
  8. As jy ’n beroep beoefen waar jy by ’n professionele raad moet registreer om te mag praktiseer, moet jy die registrasie aktief hou. Sou jy na ’n paar jaar terugkom en jou registrasie het intussen verval, mag die betrokke raad jou dwing om van voor af eksamens af te lê, ekstra betalings te maak, of gemeenskapsdiens te doen, ongeag watter hoogtes jy in jou beroep in die buiteland bereik het.

Stuur gerus enige navrae in dié verband aan AfriForum Wêreldwyd.

Foto: marc-kleen-unsplash

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest