Leesvordering:

Churchill en die “magtige Apies”

Jan 30, 2019

Die ontsnappingsverhaal van die oorlogskorrespondent en latere Britse premier, Winston Churchill, bevat al die romantiek en aksie van ’n moderne Hollywood-rolprent. In die afgelope bykans 120 jaar sedert Churchill se aanhouding in die Staatsmodelskool in Pretoria gedurende die Anglo-Boereoorlog is dié verhaal vertel, oorvertel en aangedik. Die ontsnapping wat volgens die legendes daaroor ’n heldhaftige swemtog oor die sogenaamde “magtige Apies” ingesluit het, is egter ’n kleurvolle verhaal met een van die grootste name in die geskiedenis as hoofkarakter.

Op 11 Oktober 1899 kom die nuus: oorlog is verklaar tussen die magtige Brittanje en die twee klein Boererepublieke in Afrika. Skaars drie dae later, op 14 Oktober 1899, vertrek die 24-jarige Churchill as joernalis van die Londense Morning Post aan boord van die Dunnottar Castle na die oorlogsone. Sy plan was eenvoudig: “As far as you can, as quickly as you can, must be the motto of the war correspondent.”

Hy bereik Durban teen 4 November en kies dadelik koers na die front in die rigting van Estcourt. Hier sou hy vir tien dae tot en met sy gevangeneming op 15 November wag vir aksie. In ’n artikel oor Churchill se tyd in Natal, wat in 1987 in die Military History Journal verskyn het, word vertel dat Churchill in dié tyd £200 aangebied het vir enigeen wat hom tot in die beleërde Ladysmith kon lei. Hy kon wel nie daarin slaag om dit tot in Ladysmith te maak nie.

Hy het egter op 15 November tot midde-in die oorlogsaksie gekom toe die gepantserde trein waarmee die Britse magte die gebied naby Frere en Colenso bespied het, by Chieveley ontspoor is deur rotse wat deur Boere op die spoor geplaas is. In ’n skermutseling wat daarop gevolg het, is vier Britse soldate dood, 34 gewond en 69 gevange geneem. Churchill, hoewel nie ’n vegtende soldaat nie, het dieselfde lot te beurt geval. Tydens dié voorval het hy self ook gehelp om die treinwrak los te maak van die lokomotief sodat gewonde soldate na Estcourt kon ontsnap.

Churchill is saam met gevange offisiere na die Staatsmodelskool op die hoek van Skinner- en Van der Waltstraat, in Pretoria geneem vir aanhouding. In sy boek London to Ladysmith via Pretoria beskryf hy hierdie tyd van aanhouding as “the most monotonous and among the most miserable of my life”.

Die gevangenes is deurlopend deur nege wagte bewaak en hoewel die staalheining slegs sowat 10 voet hoog was, was die wagte daarlangs gewapen en “no walls are so hard to pierce as living walls”, meen Churchill. Hy het planne beraam om saam met ’n medegevangene te ontsnap en op 12 Desember daarin geslaag om ná drie pogings oor die heining te klouter in die oomblik waarin die wagte se rug gekeer was. Hy het in die aangrensende erf se tuin te lande gekom en bykans ’n uur op sy kameraad gewag, wat nooit opgedaag het nie.

Na ’n gewag het hy uit die tuin gesluip en met vier stafies sjokolade en £75 in sy sak het hy die strate van Pretoria omstreeks 20:00 al fluitende ingevaar. Die kompas, kaart, opiumtablette en “meat lozenges” wat vir die ontsnapping bedoel was, was nog by sy vriend in die Staatsmodelskool en nou moes hy daarsonder klaarkom. Van ’n geswemmery oor die “magtige” Apiesrivier soos die legende vertel, is daar in Churchill se eie beskrywing van die ontsnapping egter geen sprake nie.

In die ure te voet uit die stad het sy plan vorm aangeneem – om die Delagoa-spoorlyn te vind en in ’n oostelike rigting te gaan. Na sowat twee ure het hy ’n treinstasie bereik (na bewering die Koedoespoort-stasie oos van Pretoria). Hier het hy ongesiens op ’n koolwa gespring en die vreemde ingery. Die vreemde pad het hom uiteindelik wel na Komatipoort en Delagoabaai gelei soos hy gehoop het.

Sy pad het later weer na die gevegsfront gelei en minder as ’n jaar later is dié oorlogskorrespondent as lid van die Britse parlement ingehuldig.

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers. Die uitgewersmaatskappy val binne die Solidariteit Beweging en spesialiseer in die publikasie van historiese en aktuele werke. Besoek die uitgewer se aanlyn winkel by www.kraaluitgewers.co.za.

Fotobyskrif:

Churchill (heel regs) saam met lede van die 1st Royal Dublin Fusiliers wat op
15 November 1899 naby Colenso in Natal gevange geneem is.

 

Lees ook: Waar kom die naam “Oranjerivier” vandaan?



			
Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest