Leesvordering:

Daai “nuwe land”-gevoel

Jul 7, 2022

Deur Jeannie van Zyl

Hoekom loop die winkeltrollie so skééf? Wat’s die storie met bokse sneesdoekies letterlik oral uitgestal in mense se huise, kantore, ens? Kan iemand my asseblief verduidelik waarom die vloekwoorde op TV nie uitebliep word nie? En wat bedoel jy julle gaan die splinternuwe selfoon wat ek nou aanlyn bestel net voor die voordeur los …?

Kyk né, toe ek drie jaar en tien maande gelede met net een tas in Sydney gearriveer het, was die kultuurskok nogal intens. Beslis erger as wat ek verwag het.

Hoewel ek met ope arms verwelkom is deur my Aussie-kêrel (nou my man), was ek nie te seker of ek ooit die moed sou hê om in Australië te bestuur nie. Hierdie langnaweek dubbel-“demerit”-punte is wild. En net die gedagte aan hoe netjies en berekend ’n mens ’n kruising moet benader … Jy mag onder geen omstandighede met jou kar se neus of boude in die kruising stilstaan nie, want … massiewe boete!

LEES OOK: Afrikaans (en tweetaligheid) in Australië

O, en om nie eens te begin met die verwarring wanneer ’n mens moet parkeer en wanneer dit by veranderende spoedgrense op die snelweg kom nie. Die wisselende parkeersones is steeds my Achilleshiel. Die parkeertekens lees soos ’n Griekse drama – een uur ’n laaisone, dan ’n “slegs 5 minute”-parkeerplek tussen teetyd en wanneer die bure hul hond vat om te gaan stap, en dan sommer net vir die grap word dit eksklusiewe posman-parkering tussen 16:00 en 17:00.

Dan begin ek nie eens met my verwarring rondom die normale verkeersbane wat iewers tussen sononder en wanneer jy van ’n braai af terugry, onverwags in ’n parkeerbaan verander nie … Wat?!

Wonder bo wonder het ek, ná byna vier jaar se rondry (dis nou as jy die grendeltyd aftrek), nog ’n silwerskoon rekord op my NSW- (New South Wales) bestuurslisensie. Dieselfde NSW-bestuurslisensie wat binne ’n oogwink omgeskakel is van my Suid-Afrikaanse liksens. Ek het nog niemand se kar in die Aldi-parkeerterrein gekrap nie, en ek is nou die trotse eienaar van ’n toegewyde trollie-muntstuk, vasgeklem aan ons motorsleutels.

’n Mens raak bederf. Ons kén al ons afleweringsmense wat die pakkies voor die voordeur los.

Deur my werk in siviele ingenieurswese verstaan ek nou die besonderse nut van “clear zones” en die rede agter verskillende tye van die dag se parkeerstelsels. Die vloekery is gelukkig net party tye van die dag, en eintlik vermybaar as jy jou stasie mooi kies.

En sjoe, dis darem ’n voorreg om nie te hoef op te staan en badkamer toe te stap as jou neus begin loop in ’n vergadering nie … Maar bokse snesies as dekorstukke? Nee aarde, ek kort minstens nog drie jaar!

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest