Leesvordering:

Die lewe in Engeland – Deel 4

Jun 24, 2021

Deur Maxie Heppell

Wanneer ’n mens dan die groot besluit geneem het en die wiele rol, is die volgende groot ding wat moet gebeur … om ’n blyplek te kry in jou nuwe land.

Soveel hoofde, soveel sinne, maar vir ons was die beste opsie dat ek voor die groot trek Engeland toe vlieg en vir ons ’n huis soek. So kon my gesiggestremde man en ons viervoetige kind ’n sagte landing hê ná al die stres wat gewoonlik met die laaste daggies in Suid-Afrika gepaard gaan.

Maar hoe besluit ’n mens waar jy in ’n nuwe land wil bly?

Ons wou graag naby Londen wees – die stad het diep in ons harte ingekruip! Maar ons kon nie ’n huis met darem ’n stukkie erf in die stedelike buurte bekostig nie.

Dit, en die volgende “vanselfsprekende” goed, moes ons aanvaar:

  • Om dieselfde lewenstandaard hier te handhaaf as in Suid-Afrika, is waarskynlik net vir die hoër klas beskore.
  • Jy sal heel moontlik nie hier ’n gemaklike, gemiddelde drieslaapkamer huis met ’n groentetuin agter in die erf, en dalk nog ’n swembad ook, op dieselfde salariskerf kan bekostig nie. Behalwe miskien in die kleiner dorpies verder noord waar die weer goor – goorder – die goorste is.
  • ’n Groot motor is nie in Engeland ’n teken van welvaart nie. Inteendeel. Die ding is oorbodig in die groter stede waar die openbare vervoer so fantasties werk, en in die kleiner dorpies is daar buitendien nie groot genoeg parkeerplek nie.
  • Skoonmakers vir huise is ’n absolute luukse. Die gewone werkers- en middelklasgesinne doen gewoonlik alles self. Die beste antwoord wat ek nóg raakgelees het oor hoe ’n mens ’n vol dag se werk en hele huis se instandhouding dan nou op een kerfstok kan laai: “Verlaag jou standaarde.” Ek het nou baie meer empatie met die oorslaan van stoffies onder die bed in die spaarkamer. En weet jy wat? Die hemel het nog nie geval nie.

Om ’n huis te huur

Afhangende van jou visumstatus, mag verhuringsagente vereis dat jy tot ses maande se huur vooruit as deposito betaal. Ons was egter gelukkig en kon ons plekkie met net ses weke se huurgeld verseker.

Onderhandeling is nie taboe nie, en die eienaar van ons plekkie was heel inskiklik toe ek vra vir ’n verlaagde maandelikse huur as ons dan vir 18 maande sou huur en nie net vir 12 nie. Dit sou ons ook kans gee om ons voete te vind, uit te werk hoe die Engelse stelsel van huur en koop werk, en om te besluit of ons steeds in hierdie omgewing wou bly.

Eiendomme is heelwat goedkoper in die noorde as die suide, en in die suide is daar spesifieke areas wat ook weer heelwat duurder is as ander. Gaan kyk gerus na eiendomme op www.rightmove.co.uk. Dit is ’n gerieflike eerste stop vir elkeen wat daaraan dink om te huur óf te koop.

Iets wat ’n bietjie anders werk as in Suid-Afrika, is dat die huurder verantwoordelik is vir die eiendomsbelasting of council tax soos dit hier bekend staan. Elke dorp of stad (borough) is in verskillende council tax bands ingedeel en daarvolgens word die jaarlikse tarief, maandeliks betaalbaar, dan bepaal. Die presiese bedrae per kerf is op elke borough se webwerf beskikbaar.

Hier in West Berkshire waar ons woon, lyk ons maandelikse uitgawes aan dienste min of meer so:

Council tax (na ‘n vreeslike COVID-verhoging!) £195
Elektrisiteit en gas (elke drie maande betaalbaar; sommige eiendomme gebruik olie en nie gas nie) £120
Water (elke ses maande betaalbaar) £80

Alhoewel sommige dienste nie maandeliks betaalbaar is nie, sit ons getrou elke maand hierdie bedrae eenkant vir die Groot Rekening wat kom. Dit werk!

Om ’n huis te koop

Na agtien maande het ons besluit ons hou van waar ons is en dis tyd om te koop. Dit was toe die COVID-pandemie op sy ergste gewoed het en nuwe huiskopers is met ’n spesiale aanbod gelok: Geen hereregte (stamp duty) sou betaalbaar wees op eiendom binne ’n sekere bedrag nie. So het ons ’n massiewe £19 600 (ongeveer R420 000) gespaar! Dít, en die feit dat die maandelikse paaiement op die eiendom waarin ons belanggestel het ons minder as ons huur sou kos, was al die aansporing wat ons nodig gehad het.

Maar was hierdie nou ’n leerskool! Soveel anders as in Suid-Afrika! Ons was gelukkig om ’n verwysing na ’n fantastiese eiendomsprokureur te kry van ’n ander ekspat hier in Engeland en ek deel graag haar inligting:

Joanne Cummings, vennoot in die regspraktyk van Spencer West, is een van die knapste in haar veld wat beide ek en my man nog óóit teëgekom het.

Met haar gebore Engelse agtergrond het sy ons gehelp om die menigte skuiwergate en modderpoele van die Engelse wet te verstaan. Sy het deur die hele ellelange proses uit haar pad gegaan om seker te maak ons belange word beskerm.

Joanne Cummings
Vennoot – Eiendomsreg
Prokureur, BA (Hons)
joanne.cummings@spencer-west.com
Tel. +44 (0)20 7925 8080

Net ’n idee van die lys ondersoeke en kostes wat huiskoop in Engeland behels:

  • Plaaslike-owerheidsondersoek
  • Omgewingsondersoek
  • Rioolstelsel- en waterondersoek
  • Kerkonderhoudverpligting
  • Grondregistrasiekoste
  • Insovensie-ondersoek
  • Grondregistrasie-ondersoek
  • Regskoste
  • BTW
  • SDLT (hereregte)

Dit is ’n komplekse stelsel waar verkopers nog tot op die nippertjie kan kop uittrek. Ek sal julle nie nou met dit alles verveel nie, maar wil tog van die chancel check vertel. Daarvolgens mag huiseienaars wat binne ’n sekere radius van sommige kerkgeboue af woon, aangeslaan word om vir daardie geboue se instandhouding te help betaal! Gaan lees gerus op https://en.wikipedia.org/wiki/Chancel_repair_liability.

My enigste raad is: Kry ’n Joanne!

Om ’n blyplek in Engeland te hê, kom teen ’n prys. Maar die waarde van stelsels en infrastruktuur wat werk, veiligheid en sekuriteit en ’n sterk ekonomie maak die opofferings die moeite werd.

Tot volgende keer …

Groete uit Newbury!

Maxie

Leek ook: Die lewe in Engeland: Deel 3

Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank

Maxie se boek Genade is ‘n dag lank kan GRATIS afgelaai word by https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/boeke
Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest