Leesvordering:

Dubai of koebaai?

Aug 17, 2021

Dubai se sondeurdrenkte strande, natuurskoon, woestynduine en onberispelike winkelsentrums is jaarliks ’n trekpleister vir miljoene toeriste regoor die wêreld. Onlangs het Dubai en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) die nuus gehaal, aangesien baie bekendes hierheen verhuis het tydens die inperking. Maar voordat jy ook dit oorweeg om sak en pak na Dubai te reis, het ons besluit om jou eers touwys te maak oor dié oase in die woestyn.

Visums

Daar is ’n verskeidenheid van visums beskikbaar vir wanneer jy na Dubai reis en dit hang af van jou rede waarom jy na dié land reis:

Visum vir toeriste: Suid-Afrikaners wat na Dubai wil reis as toeriste en tot 90 dae wil bly, benodig dié visum.

Besoekersvisum: Die visum is op toepassing op toeriste wat meer as 14 dae in Dubai wil deurbring vir gesinsbesoeke asook langdurige sakebesoeke. Dít vereis die borgskap van enige VAE-inwoner of onderneming of hotel gelisensieerd binne die VAE. Die visum is vir 60 dae geldig en kan hernu word vir ’n totale verblyf van tot 90 dae.

Visums vir meervoudige besoeke: Visums met meerdere toegang is beskikbaar vir sakebesoekers wat ’n verhouding het met multinasionale of ander betroubare plaaslike ondernemings wat gereeld besoekers ontvang. Die visum is geldig vir ses maande en is nie hernubaar nie.

Spring Jan Taks vry

Dit klink dalk te goed om waar te wees, maar jou salaris in die Emirate is belastingvry – daar word ook geen belasting op kos, drank en ander verbruikersgoedere gehef nie. Alhoewel jy Jan Taks vryspring, mag die lewenskoste in Dubai jou dalk melk. Volgens ’n artikel deur MoveHub is die lewenskoste in Dubai ongeveer 100% hoër as die nasionale gemiddelde in die VAE. Die afgelope jaar het huurkoste die hoogte ingeskiet – veral in gewilde woongebiede. Die gemiddelde huurprys beloop tans £ 478 128 (R125 944). Boonop berokken die invoerkostes op kruideniersware en ander produkte jou beursie baie skade.

Veiligheid

’n Gevoel van veiligheid is ’n prioriteit vir enigiemand wat na ’n nuwe land verhuis. Jy kan gerus wees om te hoor dat Dubai die veiligste plek in die Midde-Ooste is vir toeriste en inwoners. Die VAE is ook die enigste land ter wêreld met drie stede, Abu Dhabi, Dubai en Sharjah, wat onder die tien veiligste stede wêreldwyd gelys is. Die lae misdaadsyfers is te danke aan hul streng wette en gevangenisstraf. Moet dus nie verbaas wees indien jy ’n duur motor buite die winkel sien staan met die sleutels steeds in nie – dit is die norm.

Onderrig

Dubai se onderrigstelsel is van die bestes ter wêreld. Dit is die tuiste van honderde internasionale skole met talle buitemuurse aktiwiteite en tweetalige geleenthede.

Goud om die mond?

Volgens ’n artikel deur Relocate Global is Dubai se openbare en private gesondheidsorgstelsels van die beste ter wêreld en bied hulle hoëgehaltedienste in goed toegeruste fasiliteite.

Elkeen kry sy plekkie in die son

Dubai se weer is perfek vir enige swaeltjie. Oor die algemeen is daar gunstige klimaat deur die hele jaar en temperature daal selde onder 20 grade Celsius – enige sonliefhebber se droom!

’n Leefstyl

Alhoewel menige van ons mag dink dat Dubai beperk is tot verskillende kulture, waardes, wette en lewenswyses, is dit net so divers soos ander lande regoor die wêreld. Dít gesê, word daar wel van mans en vroue verwag om volgens sekere standaarde in die publiek op te tree: oor die algemeen moet ’n mens in openbare plekke van skouers tot knieë geklee wees omdat dit as ’n teken van respek geag word. Vermy ook onbeskofte handgebare, vloek en bakleiery – dit kan jou diep in die moeilikheid laat beland. Alkohol mag slegs in restaurante, hotelle en kroeë of klubs wat deur hotelle besit word gebruik word.

Taal

Alhoewel Arabies die amptelike taal van die Verenigde Emirate is, is Engels die taal wat die meeste in Dubai gepraat word.

Vervoer

Al ooit gewonder hoekom die inwoners van Dubai altyd die nuutste modelle van die vinnigste en mees eksotiese motors ter wêreld besit? Dit is vanweë gesubsidieerde brandstofpryse, sowel as relatief goedkoper motorpryse en onderhoud. Alhoewel bestuur die gerieflikste manier mag wees om in Dubai te reis, het die regering die afgelope dekade die openbare vervoerstelsel aansienlik verbeter – en gaan hulle voort met die uitbreiding en verbetering van die openbare vervoernetwerk.

Besienswaardighede

Wanneer jy na Dubai reis is daar ’n verskeidenheid van besienswaardighede en aktiwiteite wat jy kan aanpak. Knus weggesteek tussen die wolkekrabbers lê Dubai se ryk geskiedenis en kultuur. Reis na die souks wat in die Dubai Creek geleë is, die oorspronklike hart van die stad, en onderhandel vir silwer skatte vanuit Oman of bring ’n dag op die strand deur en geniet die wonderlike uitsig van die bekende Burj Al Arab. Lê ’n besoek af aan die 150 m hoë Dubai Frame – en moenie vergeet om in te loer by die grootste winkelsentrum ter wêreld nie, die Dubai Mall.

Die glans en betowering van Dubai is altyd ’n groot aantrekkingskrag vir talle toeriste.

Dubai bly ’n fees vir die oog!

 

LEES OOK:  Wêreldgids in fokus: Dubai

 

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest