Leesvordering:

Kruideniersware koop in ’n nuwe land is nie perdekoop nie

Mei 16, 2022

deur Andri Johnston

Een ding waarsonder mens nie kan klaarkom nie, is om kos te koop – maak nie saak in watter land jy woon nie. Kosaankope kan sowel die mees opwindende as die moeilikste ding wees om aan gewoond te raak wanneer jy besluit om te emigreer. Ons ervaring van kruideniersware koop in Engeland het nie net ons manier van koop verander nie, maar was ook ’n groot rede vir ons skuif na ’n meer volhoubare en plantgebaseerde dieet – ek weet, hoe kan jy so iets sê as ’n Suid-Afrikaner, maar leen my jou oor vir ’n oomblik.

Ons eerste plekkie in Londen was ’n woonstel van 70 m2 met die kleinste yskassie wat jy jouself kan indink. Die vrieshokkie was nog kleiner; jy kon nie meer as twee sakkies gevriesde groente langs mekaar inpas nie.

Ons het gou besef dat ’n weeklikse uitstappie na die groot kruidenierswarewinkel ons lot sou wees, en dus moes ons belê in goeie, sterk sakke. Ek het op die harde manier geleer tydens my semester in Oxford dat die flimsy plastieksakkies wat jy hier kry van katspoeg gemaak is!

Aangekom in die groot kruidenierswarewinkel het ons gou ook besef dat as ons ’n trollie wil gebruik, ons moet onthou om £1-muntstukke saam te bring, anders is jy die persoon wat twee oorvol mandjies probeer balanseer by die klein self-betaalhokkie.

Die kruideniersware winkels hier is slim. Waar jy in Suid-Afrika in byna enige Woolworths of Pick ’n Pay kan instap en presies weet in watter ry jy jou gunstelingspesery gaan kry, het die winkels hier besluit dis beter om breinspeletjies te speel met die kopers. Hulle probeer jou so lank moontlik in sirkels te laat rondloop om die een produk te kry wat jy soek en sodra jy dit in hierdie tak gevind het, dan maak hulle ’n nota daarvan en maak seker dat hulle die item op ’n heeltemal ander plek sit in die volgende tak – wel, dit is hoe dit vir ons gevoel het!

Die op- en afstap op soek na die item wat jy eintlik wil hê het wel sy voordele as jy nuut is in ’n land. Jy leer vinnig dat daar 20 verskillende ryssoorte is om van die kies, almal amper dieselfde, maar elkeen met sy eie baie lojale aanhangers wat jou sal sê DIE een is die beste.

Op die ou einde gryp jy maar net die een wat die naaste aan Tastic lyk en stap verder, op soek na die item waarvoor jy eintlik gekom het – as jy nog kan onthou wat daardie item was.

Hierdie deurmekaarspul het ons aangespoor om kruideniersware aanlyn te probeer koop. En dit het ons lewens verander! Nie net het elke groot kruidenierswarewinkel hul eie aanlyn inkopiewebtuiste nie, maar daar is ook soveel verskillende kleiner aanlyn koswinkels. Dit help ons om ons plastiekverbruik te verminder, want jy het plastiekvrye opsies, en ons kry die kans om plaaslike vervaardigers te ondersteun deur te koop by aanlyn winkels soos Abel & Cole en Riverford. Een van my gunstelingoggendrituele is om die deur oop te sluit en ons brood, sojamelk en lemoensap (in glasbottels) op ons drumpel te vind.

Iets wat ons geskok het toe ons begin kruideniersware koop hier in Engeland, was die prys van vleis. Ek sal erken ek is al vir byna 15 jaar ’n pescatarian, eet nie rooi vleis nie, maar ek het van my hoenderboudjie gehou. Dit was totdat ek die prys van vleis gesien het. Die prys het sommer my man ook laat besluit dat vleis koop letterlik nie die geld werd is nie. Nou betaal ons maar eerder daai bietjie ekstra by ons klein Suid-Afrikaanse winkel vir ’n lekker stuk boerewors om te braai op een van die twee dae in die somer wat dit nie reën of grys is nie.

’n Ander ding wat jy sal agterkom is die magdom verskillende datums wat op supermarkkos gedruk is. In Suid-Afrika is ons gewoond aan een vervaldatum, maar hier het verpakte kos beide verval- en verkoop teen-datums. Hierdie datums kan erg misleidend wees en eintlik is dit net vir voorraadbeheer. Deur my navorsing om al hierdie verskillende datums te verstaan het ek besef hoe ’n geweldige hoeveelheid voedsel vermors word in Engeland. Volgens die organisasie Wrap word tot 40% van alle kos wat in die VK geproduseer word elke jaar vermors en dit het bygedra tot die vrystelling van 20 miljoen ton se broeikasgas net in 2021. Hierdie tipe statistiek het ons geskok en so begin ons toe die inisiatiewe ondersteun waar ons kos “red” van vermorsing, deur webtuistes soos Too Good to Go en Odd Box. Ek kies nou sommer spesifiek daardie vreemd gevormde wortel of die appel met ’n kneusplek wanneer ons gaan inkopies doen en so doen ek my deel vir die planeet ook.

Kruideniersware koop in ’n nuwe land kan ’n moeilike aanpassing wees en dit is ongelukkig onvermydelik. Maar daar is soveel alternatiewe beskikbaar hier in Engeland wat jou nie net tyd spaar nie, maar ook help om jou koolstofvoetspoor te verlaag. In my boek is dit sommer ’n wen-wensituasie, en dit alles terwyl ek terugsit en my gunsteling Wêreldwyd-artikel aanlyn lees met ’n lekker koppie tee!

LEES OOK: Hoe emigrasie na Engeland ons ’n meer volhoubare leefstyl geleer het

Meer oor die outeur

Andri Johnston

Andri Johnston het in 2018 saam haar man na die Verenigde Koninkryk verhuis met die plan om 18 maande daar te bly. Bykans vyf jaar later is hulle steeds daar. Sy werk in die akademiese uitgewerswese as ’n spesialis in digitale volhoubaarheid. Haar passie vir ’n volhoubare leefstyl deel sy ook in haar vrye tyd op haar blog en sosialemediaprofiel The Sustainable Library. Wanneer sy nie skryf en lees nie, geniet Andri tuinwerk, lang hardloopsessies met hul aangenome husky Ace en fietsry.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest